Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) se hoofdesimposium is onlangs by Middelvlei Wynplaas in Stellenbosch gehou. Negentien skole is verteenwoordig en ongeveer 70 skoolhoofde, onderwysers en ander belanghebbendes het die simposium bygewoon. Verskillende temas is tydens die geleentheid bespreek en die kundige sprekers het nie teleurgestel nie. Dit was ook die ideale geleentheid om inspirasie te put uit mede-opvoeders en om met nuwe oë na die onderwys te kyk.
Hoofgasspreker was Jannie van der Westhuizen, oudrektor van Paul Roos Gimnasium en samesteller van die boek Grondpad of Teerpad – ’n reisgids vir onderwysleiers. Van der Westhuizen het gesels oor skoolleierskap gedurende uitdagende tye. “Baie dinge in ons land is ontwrig en stukkend. Ook in die onderwys is die uitdagings groot en kompleks en kry ons land en sy mense swaar. Skole, en veral skoolleierskap, hou die toekoms van ons land in hul hande. Hulle is die mense wat stukkie vir stukkie en persoon vir persoon ’n toekoms van hoop en verwagting vir ons leerders moet ontsluit. Nugter, realisties en eerlik, maar ’n toekoms waarin daar plek vir drome is.” Hy het voorts gesê dat dit nou meer as ooit nodig is dat die ware leiers sal opstaan en na vore tree. Van der Westhuizen het praktiese raad en wenke verskaf oor hoe om ware en dienende leiers te wees in uitdagende tye – toegelig met staaltjies uit die praktyk. Hy het afgesluit deur te noem dat skoolhoofde invloed het wat lewensveranderend kan wees en dat hulle nalatenskap uiteindelik plek vind in die harte van mense. Daarom het hulle ook ’n groot verantwoordelikheid, maar meer nog, hulle het ’n wonderlike voorreg om deel van hierdie verandering te wees.
Mnr. Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die AON, het in sy voorlegging oor uitnemendheid gepraat en wanneer organisasies die toets van uitnemendheid slaag.
Potgieter sê dan ook dat uitnemendheid deur die volgende bepaal word:
- Leierskap – uitnemende organisasies het uitmuntende leiers wat kwaliteit leierskap lewer. Sodanige leiers het visie, glo in hulle eie en hul span se vermoëns, span kritiese denke in en verstaan wat opvoedende onderwys beteken en pas dissipline toe in elke faset van die organisasie.
- Die beste personeel – kwaliteit personeel wat lewenslange leer bevorder.
- Missie en kultuur – ’n missie wat noukeurig omskryf is met meetbare, gefokusde uitkomste.
- Hoë akademiese standaarde – kwaliteit onderrig, opvoedende onderwys, kennis en vaardighede, leerders wat uitgedaag word.
- Kulturele sportprogramme – holistiese ontwikkeling en diversiteit van gemeenskap.
- Data-gedrewe – met sinvolle gebruik van data, gereelde risiko-analise, strategiese beplanning en ontwikkeling en prosesse en prosedures.
Vroeëkinderontwikkelingspesialis by die AON, Wilna van Rooyen het die tema: Lê die grondslag reg, bespreek en net weer beklemtoon hoe belangrik die eerste ses jaar van ’n kind se lewe is.
Kortliks, Wilna se lesing:
“Babas word gewoonlik met oneindige breinpotensiaal gebore, wat deur stimulering ontwikkel word. Die sintuie word ingespan om inligting aan die brein te voorsien, die brein verwerk die inligting en gee opdragte aan die spiere om te reageer, d.w.s. sensories-motoriese ontwikkeling vind plaas. Dié onwikkeling vorm die basis van alle leer en dit neem gewoonlik ses tot nege jaar vir die ontwikkeling om plaas te vind.
“Die eerste ses jaar van ’n kind se lewe is dus van die allergrootste belang, omdat die grootste breinontwikkeling dan plaasvind. Vir die kind om skoolgereed te wees, dit wil sê gereed te wees om te leer skryf, lees en wiskunde skriftelik te doen, moet die volgende in plek wees:
- Die sintuie moet goed werk en in alle leer gebruik word.
- Grootmotoriese ontwikkeling: balans, liggaamsbewustheid, lateraliteit, middellynkruising, spiertonus, ruimtelike oriëntasie, ritme en koördinasie, rigting en volgorde moet in plek wees.
- Fynmotoriese ontwikkeling moet in plek wees, die tone en voete, vingers en hande, mondspiere en oogspiertjies moet geoefen wees.
- Perseptuele vaardighede, veral ouditief en visueel, moet gevestig wees.
- Taalontwikkeling moet in plek wees en daar moet oor ’n ruim woordeskat beskik word, om doeltreffende lees- en skryfvaardighede te kan vestig.
“Om hierdie ontwikkeling te bewerkstellig, word kinders aan ’n verskeidenheid aktiwiteite, wat fisies beleef moet word, blootgestel. Om onderwysers by te staan om jaarliks die nodige aktiwiteite aan te bied, het die AON die Kompas en Dinamo ontwikkel, wat gratis aan belangstellende skole voorsien word, nadat ’n twee uur lange bekendstellingsopleiding aangebied is.”
Hanlie Schoeman, vakadviseur Grondslagfase van die Metro-Noord Onderwysdistrik, het gesels oor enkele uitdagings in onderwys.
Uitdagings soos:
- Verskillende moedertale in een klaskamer. Hier dink ‘n mens aan Afrikaanse leerders wat in Engels moet skoolgaan, maar dan ook Engelse, isiXhosa- en ander Afrikataleleerders en selfs ander vreemde tale-leerders in ‘n Afrikaanse klas. Daar is geweldige druk op die onderwyser om die skoolwerk aan hierdie leerders oor te dra en lei tot leerders wat van meet af aan ’n agterstand het.
- Graad R-opvoeders wat nie ten volle opgelei is nie. Hul word wel aangemoedig om verder te studeer.
- Klein klaskamers met groot getalle leerders. Dit skep ’n groot uitdaging rakende dissipline, maar ook klasgee.
- Sosio-ekonomiese omstandighede in ons skole, met gepaardgaande vandalisme in klaskamers, honger kinders wat ’n skoolete moet ontvang omdat hulle ouers werkloos is … net van die sosio-ekonomiese uitdagings wat opvoeders daagliks moet hanteer.
- Tyd en administrasie. Die geweldige administratiewe las waaraan opvoeders blootgestel word, soos merkwerk, informele assessering, intervensie, opleiding/vakansie-opleiding en so meer.
- Ondersteuning wat ontbreek. Dit is ondersteuning en leiding van SMT, ouers en kollegas.
Chareldine van der Merwe, Projekbestuurder, Vriende van Afrikaans het gesels oor lees en hoe om elke kind lief te maak vir lees, asook hoe belangrik voorlees is. Sy het ook wenke gegee oor die rol wat onderwysers en hoofde kan speel om te verseker dat lees bevorder word.
Hier is so paar wenke:
- Maak lees deel van jou lesse vir enige vak. Lees vind nie net in die taalklas plaas nie.
- Laat kinders hardop lees of lees vir hulle voor.
- Begin ’n “biblioteek” of boekklub in jou skool of klaskamer.
- Skeduleer spesifieke leestye in jou skool en klaskamer.
- Lees kortverhale en stories.
- Vergelyk die boek en die film.
- Stel vir die leerders ’n leesuitdaging.
- Rig ’n leeshoekie in die klaskamer in vir die leerders wat vinnig werk.
- Vier Wêreldboekedag – kyk watter ander dae jy kan vier.
- Maak ’n leesmuur in jou klaskamer.
René Arendse, AON-projekte, het simposiumgangers ook meer vertel van Afrikaans.com se splinternuwe leerhulpafdeling en die gehalte-inhoud wat beskikbaar is – alles gratis.
Terugvoer na afloop van die simposium:
Dankie vir ’n wonderlike program. Sien uit om my bydrae te kan doen. – Marshall Cupido, Skoolhoof by Silversands Primêr
Baie dankie, weereens. Dit was wonderlik en inspirerend. Ek is opgewonde om hierdie terug te neem na my klas en skool. – Christopher Whyte, Hillside Primêr
Ek is geïnspireer deur die passie van die AON vir die bevordering van onderwys. Die bywoning van hierdie simposium het vir my nuwe hoop en perspektief gebring! Dit het nuwe lewe aan my en ons bestuurspan gebring. – Glenda September, Nooitgedacht Primêr