Skrywer: Alita Steenkamp
Skrywers put hul inspirasie dikwels uit iets wat hier reg onder hulle neuse gebeur. Felicia Snyman du Toit is geen uitsondering nie. Die eerste twee titels van hierdie prokureur van Vanderbijlpark se nuwe kinderboekreeks het in Maart vanjaar by LAPA Uitgewers verskyn: Die ware avonture van Adelie en Riley: Die swembadmonster en Die ware avonture van Adelie en Riley: Die Amadidas. Dit is heerlike avontuurverhale oor ʼn dogtertjie Adelie en haar beste maat Riley. Hy is ʼn Boston-terriër wat versot daarop is om te speel en in hierdie boeke beleef die twee saam die wonderlikste avonture.
Felicia vertel dat sy in die COVID-inperkingstyd vir Adelie en Riley dopgehou het. Hulle kon vir ure lank speel en het ooglopend in hulle verbeeldings allerlei wonderlike ervarings beleef. Die twee se spelery het gedien as inspirasie om hierdie avonture neer te skryf. Dit het egter beteken dat sy ʼn nuwe genre moes probeer. Daar het reeds tien liefdesverhale uit haar pen verskyn waarvan die nuutste, Liefde met ʼn uitklophou, in Februarie vanjaar deur Penguin Random House gepubliseer is. Nou wou sy haar hand aan kinderliteratuur waag.
Felicia sê sy was die kind op skool wat graag haar maats se opstelle vir hulle geskryf het. Skryf is dus iets waarvan sy nog altyd baie gehou het.
Tog het sy besluit om iets heeltemal anders te studeer. Aanvanklik het sy ingeskryf vir ʼn graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria, maar sy het van kursus verander en in 2011 haar LLB graad cum laude behaal. In 2013 het sy ook ʼn meestersgraad in arbeidsreg voltooi.
“Aanvanklik het ek gedink ek gaan eendag op digkuns fokus, maar dinge het anders verloop.
Terwyl ek as prokureur gewerk het, was ek op ʼn dag keelvol, want al wat ek gedoen het, was egskeidings. Ek het besef ek sal iets moet doen met hierdie droom om eendag te skryf en het vir die ATKV se lenteskryfskool by die Noordwes-Universiteit ingeskryf. Hierdie skryfskool het aspirantskrywers gehelp met die skryf van romantiese fiksie. By hierdie geleentheid het ek ʼn idee vir ʼn verhaal gekry, dit uiteindelik begin skryf, en die manuskrip is net so aanvaar. Dit was regtig ʼn seën, maar ook iets waaroor ek hard gebid het. Meteens was daar ʼn kans vir wonderlike ontvlugting,” vertel Felicia.
Met haar Adelie en Riley-boeke het dit nie heeltemal so maklik gegaan nie. Sy het die eerste manuskrip na die uitgewers gestuur wat baie daarvan gehou het, maar tog gevoel het dat dit met die stem van ʼn kind vertel moet word. Sy het gaan sit en luister hoe Adelie praat, en die tweede probeerslag was suksesvol. Albei die titels is gelyktydig gepubliseer. Die derde boek in die Adelie en Riley-reeks is reeds by die uitgewers, en sy het ook klaar idees vir ʼn volgende avontuur waarop sy hierdie twee kan stuur.
Felicia sê dat jy as skrywer eintlik die illustrasies geheel en al oorlaat aan die illustreerder, maar dat sy met hierdie boeke seker gemaak het dat die illustreerder presies weet hoe ʼn Boston-terriër lyk. Hierdie oulike hondjies word dikwels met ander honde verwar, maar dit moes niks anders as ʼn Boston-terriër wees nie. Uiteindelik was sy baie tevrede met die sketse van Nike Bekker.
Deesdae gaan die hondjie Riley saam met Felicia wanneer sy by skole gesels oor haar boeke, en hy is behoorlik ʼn rockster.
Alhoewel Felicia vorentoe beslis nog heelwat romanses gaan skryf, is sy dankbaar vir die geleentheid om ʼn nuwe mark te ontgin. Selfs haar tweejarige seuntjie luister baie graag na die storieboeke oor sy sussie en hul hond. Vir haar is dit veral lekker om ʼn dogtertjie as held in die avontuurverhale te hê. Daar is heeltemal te min vroulike helde in avontuurverhale, lag sy.
Vir Felicia bly die skryfproses ʼn heerlike proses, al is dit ʼn eensame pad. “Soms het ʼn mens soveel vertwyfeling in jouself en wanneer ʼn uitgewershuis dan hulle stempel van goedkeuring op een van jou manuskripte afdruk, is die twyfel meteens weg,” sê sy. “Dis ʼn wonderlike gevoel om daardie goedkeuring te kry. Dan weet ʼn mens jy kan trots wees op wat jy geskep het. Natuurlik is daar ander kere wat ʼn manuskrip nie werk nie, en dan moet jy dit maar op die ken vat en aanbeweeg. Uiteindelik is die opgewondenheid waarmee jy ʼn e-pos van die uitgewer lees, een waarin jy hoor dat ʼn boek van jou aanvaar is vir publikasie, die motivering om aan te hou skryf.”

Felicia gesels oor haar avontuurboeke.

Felicia en Riley.