“Engels en Afrikaans dien al lank as mediums van onderrig, maar ons erken die belangrikheid daarvan om Afrikatale as leer- en onderrigtale te inkorporeer.”
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (Netwerk24)
’n Deurbraak vir moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan, is tydens die departement van basiese onderrig se konferensie oor taalbeleid gemaak toe die minister, Angie Motshekga, bevestig het dat leerders die beste leer in hulle moedertaal. Ofskoon die minister spesifiek die klem gelê het op Afrikatale en die belangrikheid van Engels as onderrigtaal, is Afrikaans uiteraard ook hierby ingesluit omdat dit steeds ook die moedertaal van ’n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking is en daarom as taal van onderrig erken moet word.
Die konferensie wat in samewerking met die National Education Collaboration Trust en die Old Mutual-stigting aangebied word, fokus spesifiek op die uitbreiding van moedertaalonderrig tot graad 6. Motshekga het egter beklemtoon dat die doel hiervan nie is om Engels in skole te vervang nie. Die primêre doel van die konferensie is om veeltaligheid aan te moedig en praktiese strategieë vir skole daar te stel. Volgens Motshekga is dit “noodsaaklik om ’n netwerk van ondersteuning vir die departement se taalbeleidseenheid te vestig, suksesvolle veeltalige pedagogiese praktyke te verken, sleutellesse te dokumenteer en ’n omvattende strategie vir meertaligheid te ontwikkel”.
Volgens die minister het die loodsprojek van moedertaal-gegronde tweetalige onderrig van die Oos-Kaapse onderwysdepartement en waar leerders tot graad 8 in hulle huistaal onderrig word “merkwaardige” resultate getoon en bevestig dit die feit dat moedertaalonderrig lei tot akademiese prestasie. “Die doel is om leerlinge te bemagtig met vaardighede en trots in hul moedertaal, terwyl bekwaamheid in Engels behou word.” Motshekga het ook gesê dat Engelse taalvaardigheid noodsaaklik is, maar gebalanseerd benader moet word. Sy het haar stelling ten opsigte van Engelse taalvaardigheid soos volg gemotiveer: “Binne ons skoolstelsel beklee Engels ’n leidende posisie as ’n taal van leer en onderrig. Uit 23 719 openbare skole in Suid-Afrika, gebruik slegs 2 484 skole Afrikaans as onderrigtaal in enkel-, dubbel- of parallelmedium.”
Lees die volledige berig deur Llewellyn Prince op Netwerk 24. Klik hier.
Enkele voordele van moedertaalonderrig
- Basiese konsepte wat die boustene vorm vir latere doeltreffende leer, word die heel beste deur moedertaalonderrig vasgelê.
- Moedetaalonderrig verbeter kognitiewe vermoëns en algehele akademiese prestasie.
- Moedertaalonderrig dra by tot instandhouding van taalerfenis en identiteit.
- Moedertaalonderrig verbeter die vermoë om ander tale aan te leer, dus veeltaligheid.
Lees meer oor moedertaalonderrig en die voordele daarvan hier Moedertaalonderrig – Leerhulp (afrikaans.com)