Skrywer: Alita Steenkamp
Min ander tale in die wêreld kan spog met ʼn monument wat daardie taal eer en vier. In Suid-Afrika, teen Paarlberg, lê die ikoniese Taalmonument wat in 1975 ingewy is om Afrikaans, en al sy wortels te vier.
In 1975 is die 50 jaar wat Afrikaans as ʼn amptelike taal ingewy is, die vernaamste rede vir die oprigting van hierdie monument. Die oudste Taalmonument in Suid-Afrika is die een in Burgersdorp wat in 1893 ter erkenning van die Nederlandse taal opgerig is.
Die Taalmonument in die Paarl is so ontwerp dat dit nie net die Afrikaanse taal vier wat soos ʼn snelstygende boog verrys en uitstyg nie, maar die argitek het ook gedink aan die wortels van Afrikaans. Aan die linkerkant van die boog staan drie suile wat die Wes-Europese tale en kulture verteenwoordig wat in Afrikaans neerslag gevind het. Dit is Nederlands, Frans, Duits, Portugees en ander. Die drie suile is bloot simbolies, aangesien drie ondeelbaar is. Nie net het die monument se argitek Jan van Wijk ʼn besonderse visie met sy ontwerp gehad nie, maar hy het ook baie sterk oor die natuur gevoel en gesê dat die Taalmonument as ʼn lewende beeldhouwerk moet dien.
Ter ere van hierdie argitek, is daar ʼn opelug-galery, die Groen Galery, by die Taalmonument opgerig tussen die granietrotse en die olienhoutbome. Hierdie galery beskik oor uitstalkaste van herwonne hout en glas waarin daar voortdurend nuwe tydelike uitstallings gemaak word. Daar is tans ʼn spesiale uitstalling in die Groen Galery om spesifiek te fokus op Frans en Duits se invloed op Afrikaans. Hierdie uitstalling is nie bloot net te sien in die pragtige tuine van die Taalmonument nie, maar kan ook aanlyn besigtig word by http://www.taalmuseum.co.za/…/Groen-galery
ʼn Paar interessante feite oor Duits en Frans se invloed op Afrikaans:
- In die tydperk voor 1800 was 35% van die Europeërs aan die Kaap van Duitse afkoms.
- Daar het min direkte spore van Duits op Afrikaans agtergebly.
- Die Duitse leenwoorde het eerder indirek van Nederlands na Afrikaans ingesypel.
- Direkte ontlenings aan Duits, veral uit die soldatetaal van die 1600’s, is liederlik, swernoter, sweis, verfoes en werskaf.
- Duitse woorde wat via Nederlands na die Kaap gebring is, sluit die volgende in:
aandag, afhandel, baanbreker, beledig, beroemd, bespreek, bewonder, bolmakiesie, bydrae, eensaam, eienaardig, indruk, kietsie, koeël, lewensgevaarlik, opval, piekfyn, poedelnaak, selfsug, skelm, vervlaks, waks en wiks.
- Die Franse Hugenote was Protestante wat uit Frankryk gevlug het weens godsdienstige vervolging.
- Dit was veral met die idee om landbou en wynbou aan die Kaap te vestig wat die VOC van hierdie Franse vlugtelinge na die Kaap gebring het.
- Nederlands was teen die 1600’s reeds met Franse woorde deurspek en heelwat van hierdie Franse woorde het dus met die Nederlanders na die Kaap gekom.
- Die invloed van Frans op die Afrikaanse militêre taal kan teruggevoer word tot die sestiende eeu.
- Baie Franse soldate was Hugenote en veterane van godsdienstige oorloë wat in Nederland geveg het en heelwat militêre terme in die Nederlandse taal gevestig het.
- ʼn Paar van hierdie Franse woorde wat uiteindelik in Afrikaans ʼn plek gekry het, is: resolutie, maguazijn, petitie, debit, attestatie, vendutie, exact.
- Die Afrikaanse woord kwarantyn het ʼn baie interessante Franse kinkel. Dit is afgelei van die Franse woord quarante wat 40 beteken. Regulasies het bepaal dat enige seilskip wat na Tafelbaai wou kom, maar moontlik een of ander besmetting kon dra, eers vir veertig dae buite die hawe op anker lê. Dus in kwarantyn.
- Die invloed van Frans is baie sigbaar op Afrikaanse militêre terme. Dink maar aan woorde soos: ammunisie, artillerie, bagasie, bataljon, fort, kaliber, marsjeer, myn, offisier en soldaat.
Bronne:
Biografie van ʼn taal – Die storie van Afrikaans Deel 1, WAM Carstens en EH Raidt, Protea Boekwinkel Pretoria 2019
Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika Deel 2, WAM Carstens en EH Raidt, Protea Boekwinkel Pretoria 2019
The Influence of French on Afrikaans Terms, Cdr G Nonin, SA Journal of Military Studies Vol. 18 Nr. 3, 1988