Skrywers: Annelie van Jaarsveldt & Heidi Malan
“Daar is min dinge in die lewe wat ons almal so ernstig opneem as ouerskap. Ons wil hê dat ons verhoudinge met ons kinders warm, intiem en genotvol moet wees.” – Heidi Malan, stigter en direkteur van Parent & Educational Training.
Ouerskap is nie vir sissies nie en afgesien van talle selfhelpboeke en -artikels oor ’n verskeidenheid van kwessies oor die grootmaak van kinders, is daar nie een resep vir almal nie – en word die baba ook nie gebore met ’n handleiding in die hand nie. Jou vriende se kind tree op ’n sekere manier op en hulle hanteer dit, maar wanneer jou kind dieselfde doen en jy probeer hulle metode, faal jy liederlik, want … elke kind is ’n individu en omstandighede verskil. Heidi Malan, stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd beaam dit wanneer sy sê: “Elk van ons is ’n afsonderlike mens met unieke behoeftes en die reg om aan daardie behoeftes te voldoen. Ons streef verder na ’n gesinsomgewing wat ondersteunend is aan individuele behoeftes en groei van elke lid van die gesin.”
Afrikaans.com het met Heidi gesels oor die maatskappy Parent & Educational Training en die persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme wat hulle aanbied en veral die Doeltreffende Ouerskapleidingsprogram (D.O.L.) wat tuis, in die skool en in die werksomgewing gebruik kan word.
Heidi, vertel kortliks oor die boek en kursus, Doeltreffende Ouerskapleiding (D.O.L.), wat op die baanbrekerswerk van dr Thomas Gordon geskoei is.
’n Stewige fondasie van ’n gesonde ouer-kindverhouding is onontbeerlik vir kinders se toekomstige emosionele welstand.
In ’n neutedop: Die D.O.L.-boek en -kursus word gerugsteun deur baie navorsing, dat mense gesonder word wanneer hulle blootgestel word aan ’n terapeutiese omgewing van empatie, aanvaarding, kongruensie, en ’n onvoorwaardelike positiewe gesindheid. Hierdie boek en kursus word sedert 1980 in Suid-Afrika aangebied as die vertaalde weergawe van dr. Thomas Gordon se Parent Effectiveness Training-boek en -kursus wat sedert 1962 in die VSA aan ouers aangebied is. Die boek het in 1970 die eerste keer verskyn en word sedertdien deurgaans aangepas om op vandag se moderne ouers van toepassing te wees.
Wedersydse respek en begrip
Kinders het struktuur in hulle lewens nodig, maar hulle wil nie ervaar dat dit ten koste van hulle eie behoeftes is nie. Om hierdie balans van wedersydse respek en begrip te kry, is uitdagend en hierdie boek dien as ’n uitstekende hulpmiddel vir ouers en onderwysers as kommunikasietegniek sodat ouer en kind kan aanhou met ’n onderlinge verhouding van wedersydse agting, liefde en respek.
Die vaardighede wat dr Thomas Gordon in sy boek beskryf, maak dit vir ouers moontlik om hierdie liefde en aanvaarding wat hulle vir hul kind voel, aan hulle kind te kommunikeer wat derhalwe ’n veilige ruimte vir die kind skep waarbinne hulle hulself spontaan kan uitleef en hul potensiaal kan bereik. Die boek beskryf ook hoe om grense te stel en konflik te hanteer, terwyl hierdie verhouding gekoester word.
Hoekom behoort elke ouer/onderwyser die boek te lees? En wat maak hierdie metodes anders, m.a.w. hoekom werk dit so effektief?
Om ’n suksesvolle ouer te wees, is nie ’n natuurlike vermoë waarmee ’n mens gebore word nie. Jy moet opgelei word in die regte tegnieke. Daar is soveel inligting tot ons beskikking oor menslike verhoudings, kommunikasie en die konstruktiewe oplos van konflik, maar tog ploeter ons as ouers steeds voort op ou metodes as dit by ons opvoedingstaak kom. Hierdie boek is geskep om ouers/onderwysers te help om kommunikasie in gesinne en skole te verbeter. Die vaardighede en filosofieë is in die teks vervat asook oefeninge. Jy leer kommunikasievaardighede soos:
- Hoe om na jou kind te luister – wanneer kinders begin beleef dat ouers na hulle luister, sal jy gou nie meer daardie stil kind hê wat jou niks vertel nie en jou kind sal jou al hoe meer vertrou en dinge met jou begin deel.
- Jy sal leer hoe om dit te hanteer wanneer jou kind ’n probleem het.
- Daar sal egter ook na jou geluister word – jy sal leer hoe om met jou kind te praat sodat hy na jou sal luister wanneer sy gedrag vir jou ’n probleem is. Jy wil veel eerder jou kind beïnvloed in plaas van opvoed oor selfdissipline en selfverantwoordelikheid.
- Hoe om konflik en probleme in die gesin op so ’n manier op te los dat niemand verloor nie en die probleem opgelos bly.

Kinders wil voel hulle word verstaan en wanneer hierdie kommunikasievaardighede toegepas word, word daar vir die kind ’n omgewing geskep waarbinne hy kan ontwikkel en groei tot dit waartoe hy in staat is sonder om skuldig te voel of deur ander se menings beïnvloed te word.
Onderwerpe wat in die D.O.L.-kursus behandel word
Afrikaans.com wou meer weet oor van die onderwerpe wat in die boek en kursus behandel word. Lees gerus verder wat Heidi sê:
Daar word genoem dat hoe suksesvol jy as ouer is, bepaal word deur die manier waarop jy met jou kind praat. Kan jy uitbrei?
Doeltreffende kommunikasie bestaan nie net uit praat nie, maar ook luister. Om te luister is een van die belangrikste aspekte van ons kommunikasie met ons kinders, huweliksmaats, vriende, kollegas en almal anders met wie ons daagliks in aanraking kom. Ten spyte van die belangrikheid daarvan het baie min van ons enige opleiding in luistervaardighede. Aangesien kommunikasie woorde, stemtoon, gesigsuitdrukkings en lyftaal insluit, is dit belangrik om aan al hierdie aspekte aandag te gee. Hierdie manier van praat sluit kommunikasievaardighede soos die volgende in:
- Luister om te verstaan om sodoende jou kind/ander te help om hulle gedagtes en gevoelens uit te druk en hulle eie probleem op te los.
- Voorkomend te kommunikeer sodat probleme byvoorbaat voorkom kan word sodat gesinne gelukkiger en sterker is.
- Eerlik te kommunikeer deur behoeftes uit te spreek en onaanvaarbare gedrag aan te spreek.
- Probleme regverdig op te los sodat beide die ouer en kind se behoeftes bevredig word.
- Waardes met respek te deel vir beter begrip en aanvaarding.
In die boek lees ’n mens van die “taal van aanvaarding” – hoe werk dit in die praktyk en op watter maniere kan dit nieverbaal oorgedra word?
Aanvaarding is om jouself in die skoene van ’n ander te plaas – om hulle ‘persoonlike betekeniswêreld’ te verstaan en hoe hulle hul eie realiteit sien en beleef. Om te luister, vervul hierdie funksie. Dit beteken nie noodwendig dat ek met die persoon saamstem nie.
Byvoorbeeld: “Jy wil regtig daardie speelding hê.” Dit beteken egter nie dat ek nou die speelding vir my kind gaan koop nie.
Deur slegs te luister, is baie maal meer as genoeg. Om stil te bly en niks te sê nie, is nieverbale aanvaarding. Dit gee die ander persoon ruimte en ononderbroke tyd om oor haar probleme, opinies, gedagtes of gevoelens te praat. Die bekende gesegde: “Stilte is kosbaar” (“Silence is golden”) is veral waar in vandag se besige gejaagde lewe. Ons word gebombardeer met klanke en woorde en daar is geweldige druk om vining te praat en vinnig probleme op te los. Gesigsuitdrukkings en lyftaal is ’n groot deel van nieverbale aandaggee. Hierdie manier van aandaggee is ’n besonder kragtige basiese luister-instrument. Oogkontak en toepaslike gebare soos knipoog, vorentoe leun, glimlag, frons en ander liggaamsbewegings wys vir die kind dat jy jou volle aandag gee en regtig wil hoor en verstaan.
Maak seker dat jou nieverbale gebare die kind s’n weerspieël of daarby aanpas. As jy byvoorbeeld glimlag wanneer iemand ontsteld is, sal dit heeltemal onvanpas wees.
Hoe word aanvaarding verbaal oorgedra?
Eenvoudige verbale erkennings
Kort, spaarsamige gebruik van verbale erkennings soos:
“Hmmm”, “Ek sien. . .”, “Sowaar? “, “Né!”,
wys vir die kind dat jy belangstel, na hom wil luister en dat hy kan voortgaan.
Deuroopmakers, uitnodigings om te praat
Soms kort kinders aanmoediging om voort te gaan met praat, of selfs net om te begin praat. Uitnodigings om te praat oftewel “deuroopmakers” is baie effektief om aan te toon dat jy graag wil luister.
Byvoorbeeld:
“Wil jy bietjie meer uitbrei?”
“Klink of jy ’n paar sterk gevoelens daaroor het.”
“Ek stel belang in wat jy sê.”
“Wil jy daaroor praat?”
Let daarop dat hierdie sinne uitnodigende vrae en stellings is wat reaksie uitlok. Daar is geen evaluering van wat gesê word nie.
Hierdie basiese luistervaardighede (stilte, erkennings en deuroopmakers), is baie handig om kinders te laat voel dat hulle aanvaar word en aan te moedig om met ’n gesprek te begin of voort te gaan. Daar is egter ’n beperking – dit bewys nie dat jy werklik verstaan het nie. Daarvoor moet jy Aktief Luister.

Kan jy meer vertel van die 12 kommunikasieversperrings?
As kinders ’n probleem ondervind, “help” ouers maar te geredelik met “goeie raad”, staaltjies uit eie ervaring of ondervraging om die “feite” bloot te lê. Nieteenstaande die goeie bedoelings skep hierdie pogings soms meer probleme as wat dit oplos en belemmer so die kommunikasievloei van die bekommerde kind. Hierdie “hulp-pogings” om die kind te “help” wanneer hy ’n probleem het, het soms net die teenoorgestelde uitwerking, en word versperrings wat faal om die kind se ontsteltenis te verlig.
’n Voorbeeld van ’n versperring is om jou kind aan te sê of te beveel wanneer hy ’n probleem het.
Byvoorbeeld:
“Jy moet…”
“Jy sal…”
“Jy is verplig…”
Die kind se belewenis van so ’n versperring kan vrees of aktiewe weerstand bring, die uitdaging van die ouer aanmoedig of opstandige gedrag en weerwraak bevorder.
Om raad of oplossings te gee is nog ’n voorbeeld van ’n kommunikasieversperring.
Byvoorbeeld:
“Wat ek sou doen is…”
“Waarom doen jy nie so en so nie…”
“Laat ek voorstel…”
Wanneer ouers raad of oplossings gee wanneer die kind ’n probleem het, kan die kind dit beleef as implikasie van sy onvermoë om eie probleme op te los. Dit verhinder die kind egter om sy eie probleme te deurdink, alternatiewe oplossings te oorweeg en toe te pas en kan afhanklikheid of teenstand veroorsaak.

Ander tipes kommunikasieversperrings is:
- Waarsku, dreig
- Moraliseer, preek
- Oorreed, met logika stry
- Oordeel, kritiseer, blameer
- Prys, saamstem
- Beledig, spot, afkraking
- Ontleed, diagnoseer
- Troos, meegevoel
- Oopkrap en ondervra
- Wegpraat, sarkasme, onttrek
*Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie kommunikasieversperrings slegs van toepassing is wanneer die kind ’n probleem het.
Stel só vas of jou kind ’n probleem het:
- Dit wat hulle doen
(handelinge, geluide, uitdrukkings, voorkoms, verandering in gedrag, ens.)
Herman is deesdae baie meer as gewoonlik in sy kamer.
- Dit wat hulle sê
(wat die kind werklik sê)
“Ek kan meneer Beukes nie verdra nie!”
Hoekom is dit so belangrik dat ouers aktief sal luister? En is daar slaggate/riglyne?
Wanneer jou kind ’n probleem het, of wanneer hy sterk emosies beleef, is dit nodig om oor te gaan na Aktief luister. Om suksesvol aktief na jou kind te luister wanneer daardie kind ’n probleem het, ’n belangrike besluit moet neem of sterk gevoelens oor iets het, moet jy:
- Tyd hê en gewillig wees om te luister.
- Jou kind wil verstaan en help.
- Jou aandag slegs op die kind fokus en nie op jouself nie.
- Die kind vertrou dat hy met ’n oplossing vorendag sal kom wat die beste vir hom is.
Hoekom luister?
- Dit verlig oorspoelende emosies. Wanneer jou kind ’n probleem het, kan die gevoelens die denke oorspoel. Die kind se emosies oorskry dus sy denke. Om aktief te luister help die kind om sy denke weer in balans te kry.
- Dit help die kind om sy werklike probleem te identifiseer. Ons wil gewoonlik dadelik ons kind se probleem oplos wanneer hy ons daarvan vertel, maar dit wat jou kind gewoonlik eerste vertel is meesal slegs die oortjies van die seekoei. Die meeste probleme is soos ‘n ui. Dit bestaan uit verskillende lagies en deur aktief te luister, help jy jou kind om elke lagie af te skil sodat hy self by die kern van die probleem kan uitkom.
Byvoorbeeld:
AANVANKLIKE PROBLEEM: “Ek hou niks van Maria nie!”
TWEEDE LAGIE: “Maria kry altyd so baie aandag.”
DERDE LAGIE: “Sy maak so maklik vriende.”
WERKLIKE PROBLEEM: “Ek wil leer om makliker vriende te maak.”

Help die kind om self sy probleem op te los
Deur self die probleem op te los, dra by tot kreatiwiteit, selfvertroue en probleemoplossingsvaardighede.
Wanneer die werklike probleem eers geïdentifiseer word, kan die meeste kinders en so ook volwassenes, gewoonlik self by die beste oplossing vir die probleem uitkom.
Waak teen die volgende:
Aktief luister is ’n kragtige hulpmiddel om kinders te help om deur ’n probleem te werk of hulself uit te druk wanneer hulle ontsteld is. Wanneer Aktief luister verkeerdelik gebruik of misbruik word, kan dit probleme erger maak en die verhouding ondermyn.
Hier volg ’n paar riglyne om te verseker dat Aktief luister korrek toegepas word. Hou in gedagte dat sekere voorwaardes en ’n bepaalde ingesteldheid in plek moet wees voordat jy aktief kan luister.
Jy kan slegs aktief luister wanneer:
- Jy verbale of nieverbale leidrade kry dat jou kind ’n behoefte het wat nie bevredig word nie.
- Jy regtig wil help en die tyd en plek reg is.
- Jy vir jou kind aanvaarding kan gee; jou kind se gedrag nie vir jou ’n probleem veroorsaak nie.
- Jy kan terugstaan en objektief na sy probleem kan luister en dat jy sy oplossing, wat dit ook al mag wees, sal aanvaar.
- Jy onverdeelde aandag aan jou kind kan gee.
Jy kan nie aktief luister wanneer:
- Daar geen leidraad is dat jou kind ’n probleem het nie. (Moenie probleme skep nie.)
- Jy nie nou wil help nie. Jy gee nie om nie, jy is haastig, jy is besig.
- Jou kind se gedrag vir jou onaanvaarbaar is. Jy is geïrriteerd en voel seergemaak daardeur.
- Jy alreeds vooraf besluit het wat jy dink die “regte” oplossing vir jou kind se probleem is. (Jou Aktief luister sal dan die kind se besluitnemingsproses in jou rigting beïnvloed en kan die vertrouensverhouding skaad.)
- Jou kind slegs inligting van jou wil hê.
- Jou kind so ’n duidelike boodskap gestuur het dat dit nie nodig is vir terugvoer nie – blote stilte of erkenning is meer as voldoende.
Hoe maak ’n mens seker dat jou kind na jou sal luister? Jy praat van “wanneer die ouer die probleem besit”. Wat beteken dit?
Wanneer die gedrag van die kind inmeng met die ouer se regte of keer dat hulle behoeftes bevredig word, besit die ouer die probleem.
Byvoorbeeld:
- Die kind draai en drentel wanneer die ouer haastig is.
- Die kind vergeet om te laat weet as hy laat gaan wees vir ete.
- ’n Tiener is doenig op haar selfoon wanneer die ouers ’n belangrike kwessie met haar wil bespreek.
Hierdie gedrag veroorsaak vir die ouer ongemak, die ouer voel angstig, geïrriteerd of dalk gefrustreerd teenoor dit wat die kind doen. Dit beteken dat die ouer aan die kind moet kommunikeer dat sy gedrag vir die ouer ’n probleem is en dat die ouer die kind se hulp nodig het. Die manier van hoe die ouer in so ’n geval met die kind praat, sal bepaal of die kind wel gaan luister al dan nie.
Beslis nie altyd engeltjies nie
Kinders sal hul ouers ongetwyfeld van tyd tot tyd pla, kwaadmaak en frustreer. Kinders kan onbedagsaam en selfsugtig optree, want hulle wil bo alles hul eie behoeftes bevredig. Soos elke ouer al te goed weet, kan kinders meer werk maak, jou ophou wanneer jy haastig is, pla wanneer jy moeg is, babbel wanneer jy stilte nodig het, alles omkrap, hul huistakies afskeep, jou beledig, saans te laat huis toe kom, ensovoorts. Hierdie gedrag meng soms met ouers se eie behoeftes in en ouers moet derhalwe ’n meer doeltreffende manier vind om sulke gedrag te hanteer.
Baie ouers sukkel aanvanklik om die gedagte van ‘die ouer besit die probleem’ te verstaan. Ouers is geneig om te dink dat hulle ‘probleemkinders’ het en dikwels die kind blameer eerder as om te besef dat dit die ouer se probleem is.
Wanneer ouers besef dat hulle gevoelens van irritasie, frustrasie en wrewel teenoor hul kinders begin koester, is dit waarskynlik ’n aanduiding dat die ouer die probleem besit (die een met die emosie). Ouers kan ook vind dat hulle gespanne raak, ongemaklik voel, nie hou van wat die kind doen nie, of die gedrag van die kind heeltyd monitor.

Die Ek-boodskap
Die eintlike waarde van die Ek-boodskap lê in jou vermoë om die kind se gedrag te herken as sy poging om ‘n eie behoefte te bevredig eerder as blote stoutigheid.
Duidelike kommunikasie wanneer die ouer die probleem besit is ‘n Ek-boodskap. ’n Ek-boodskap is ’n mededeling wat op “jou” betrekking het en druk jou gevoelens en ervarings uit en nie jou evaluering of vertolking van jou kind nie.
- Deur eerder ’n Ek-boodskap te gebruik, help dit jou tot voller selfkennis en selfervaring en help jou kinders om jou regtig te ken en te ervaar en moedig hulle aan om op hul beurt eerliker en openhartiger met jou te wees.
- Die Ek-boodskap kan ’n vername rol speel wanneer jy onaanvaarbaar teenoor jou kind se gedrag voel. Omdat ’n Ek-boodskap openbaar hoe jy waarlik oor die kind se gedrag voel (sonder om hom te verwyt), kan die kind jou behoefte aan hulp in perspektief sien en sodoende sy verantwoordelikhede besef sonder om sy kant te wil goedpraat.
Dit is nie altyd maanskyn en rose in die ouer-kindverhouding nie en konflik is dikwels onvermydelik. Moet daar noodwendig ’n verloorder of wenner wees?
Die manier waarop ons konflik en probleme oplos is nie ’n aanduiding van of ons goeie of slegte ouers is nie. Ons benadering het ontstaan uit wat ons geleer het uit interaksie met ons eie ouers, onderwysers, vriende, werkgewers, kollegas en ander mense met wie ons in ons daaglikse lewe te doen kry. Ons doen ons bes met die gereedskap wat ons het.
Baie ouers is bang hulle verloor beheer oor hulle kinders en word slagoffers van hulle kinders se eise. Ander ouers is weer bang hulle onderduk hulle kinders te veel. Albei vrese ontstaan uit die wen-verloor manier van dink wat ingewortel is in vandag se wêreld, werk en lewe.
As gevolg van hierdie denkwyse is die twee mees algemene maniere om probleme op te los Ouer-Wen-en-Kind-Verloor, Metode I (in D.O.L.-taal), en Ouer-Verloor-en-Kind-Wen, Metode II.
Hierdie “nie-verloor-metode van probleemoplossing” blyk dat dit die metode is om aan te wend as jy ’n groter kans wil hê om ’n oplossing te vind, en die sogenaamde Metode III word ingespan. Kan jy hierop uitbrei? En hoekom werk dit?
By Metode III, is die eerste groot verskil jou gesindheid – daar is ’n opregte begeerte vir ’n wen-wen-oplossing waarby beide partye sal baat. Die tweede belangrike verskil is dat behoeftes eerste kom en eers dan die oplosssing. Beide ouer en kind se behoeftes word geïdentifiseer en uitgeklaar alvorens daar na enige oplossing vir die probleem gekyk word.
Metode III beteken dus om te onderhandel totdat daar ’n oplossing gevind kan word waar daar aan die ouers sowel as die kind se behoeftes voldoen word.
Die dilemma van wen-verloor. ’n Magstryd?
Vir die meeste ouers is die kwessie van dissipline die keuse om streng of toegeeflik, hard of sag, outoritêr of permissief te wees. Hierdie “wen-verloor”-uitgangspunt is juis die dilemma waarmee vandag se ouers worstel. Omdat ouers in hierdie denkwyse vasgevang is, word dissipline en die verhouding met hulle kinders as ’n magstryd beskou, albei is van mening dat iemand gaan wen en iemand verloor.
Metodes I en II
In die D.O.L.-boek word na hierdie twee wen-verloor-benaderings, met betrekking tot konflikoplossings, verwys as Metode I en Metode II. In elk is daar ’n wenner en ’n verloorder – een kry sy sin en die ander nie.
Metode I gebruik die ouerbeloning en -straf om mag uit te oefen en die ouer wen en die kind verloor en ’n gevoel van gebelgdheid ten opsigte van die verhouding manifesteer by die kind.
In Metode II wen die kind en die ouer verloor en ’n gevoel van gebelgdheid ten opsigte van die verhouding manifesteer by die ouer.
In die skool: Wat maak die verskil tussen suksesvolle onderrig en onderrig wat misluk?
Die meeste onderwysers beskik oor die inhoudskennis en tegniese kundigheid om hulle taak effektief te verrig. Dit maak egter slegs ’n deel uit van die verskil tussen suksesvolle onderrig en onderrig wat misluk. Die vermoë om aanklank te vind en die leerder te motiveer, is baie belangrik. Daarom:
- Onderwysers moet weet hoe om ’n emosionele klimaat te kan skep waarbinne optimale leer kan plaasvind.
- Wanneer die leerder ’n klimaat van respek, omgee, eerlikheid, samewerking en vertroue ervaar, leer hulle maksimaal. Met ander woorde, onderwysers kan eenvoudig nie suksesvol wees sonder menseverhoudings nie.
Daar is toenemende bewyse wat bevestig dat gevestigde gedrag afgeleer kan word en dat onderwysers verhoudings kan ontwikkel en dan die verhoudingsvaardighede kan integreer wat noodsaaklik is vir die skep van ’n klimaat waarbinne leer doeltreffend kan plaasvind.
Hoe kan die onderwyser te werk gaan om te verseker dat die leerder na hom luister? En wat is die grootste voordele hieraan verbonde?
Die leerder sal na die onderwyser luister wanneer hy direk en eerlik kommunikeer en optree. So ‘n persoon heg waarde aan homself en sy behoeftes en neem inisiatief om daardie behoeftes te bevredig. So ’n selfgeldende onderwyser is duidelik nie ’n passiewe onderwyser nie.
Hou in gedagte, selfgeldend is nie dieselfde as aggressief nie. Selfgeldend is om bevestigend, verklarend en jouself met vrymoedigheid voor te sit, op só manier wat nie die regte van ander skend of hulle verhoed om hulle behoeftes te bevredig nie.
- So ’n onderwyser heg waarde aan wen-wen-verhoudings waar die resultaat wedersydse bevrediging van behoeftes en respek is.
- Selfgeldendheid moet ’n gesonde, wenslike eienskap van elke onderwyser wees. Dit is slegs die onderwyser wie se behoeftes bevredig is, wie se “beker oorloop”, wat werklik homself aan sy leerders kan gee – om te deel in sy beker van hulpbronne, energie en omgee met ander te deel.
Heidi Malan (Wilkens) is die stigter, en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. Die maatskappy bied persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aan.
(geakkrediteer by Services SETA). Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die D.O.L.-kursus aan ouers sowel as die opleiding van mede-instrukteurs in Suid-Afrika. “My storie het begin in 1998 nadat ek ’n artikel oor die D.O.L.-kursus gelees het. Daar het ek besef dat ek hulp nodig het in hoe ek met my kinders praat. Ek het my heel eerste D.O.L.-kursus in 1999 bygewoon en sedertdien het my lewe ingrypend (ten goede) verander. Nadat ek my internasionale instrukteursopleiding voltooi het, het ek ook my BSocSci(Hons) in Sielkunde bekom. Ek is sedert 2012 die amptelike verteenwoordiger en lisensiehouer van Gordon Training International (GTI) in Suid-Afrika.”
Gaan lees gerus meer oor Doeltreffende Ouerskapleiding en die programme en kursusse hier – Communication Skills | South Africa | Parent & Educational Training (parents.co.za)
