Skrywer: Alita Steenkamp
Hoe vervelig sou ons lewe wees sonder televisieskurke wat ons aand na aand op ons tande laat kners? Dalk onthou jy nog hoe Dallas se JR Ewing (Larry Hagman) jou laat voel het, of wat van Alexis Colby (Joan Collins) in Dynasty? Heel moontlik is dit deesdae Nazeem Jacobs Samsodien wat jou met elke uitsending van Suidooster warm onder die kraag maak. Nazeem is ʼn uiterste boef wat voldoen aan al die vereistes vir die skurk in ʼn sepie: Gemeen, ʼn regte skarminkel met kwalik ʼn gewete, iemand wat kwaadwillig betrokke is by een of ander misdaad of euweldaad en wat altyd sy eie belange eerste stel.
Irvine van der Merwe is die akteur wat aan hierdie skurk lewe gee. Voordat hy sy opwagting aan die begin van 2020 in Suidooster gemaak het, was hy ook die nare sluipmoordenaar Dennis in Binnelanders.
Irvine kwyt hom so goed van sy taak in Suidooster, dat hy onlangs benoem is vir die Silwerskerm-toekennings vir Film en TV in die kategorie Beste skurk in ʼn telenovela of sepie.
Kan ʼn mens regtig so goed toneelspeel, of is hy in die ware lewe ook maar ʼn boef? wonder ʼn mens.
Oor hierdie vraag kraai Irvine van die lag. “Nog nooit nie! My ma sal my oor haar skoot trek en ʼn goeie pak slae gee as ek dit sal waag. Sy gee my die meeste troubles besides al die fans wat nou regtig nie saamstem met een van die storielyne nie. Ek doen maar net my job. Ek het ʼn mandaat, en ek moet dit maar volg. Eintlik is ek maar net ʼn baie rustige persoon, want my ma het goeie beginsels in my ingedril. Ek glo aan liefde en respek vir ander, al moet ek van daardie beginsels vergeet wanneer ek Nazeem se skoene aantrek,” sê hy dan met ʼn glimlag.

Irvine as Nazeem in ‘n toneel met Zoe gespeel deur Lauren Joseph.
ʼn Mens kan dus verwag dat van die kykers hom soms oor die vingers sal wil tik oor Nazeem se doen en late. Hy vertel van ʼn keer toe hy dit die minste verwag het. Hulle was verlede Desember in Namibië vir ʼn promosietoer van Suidooster. Die Namibiërs is dol op hierdie sepie wat ook in Suid-Afrika aangewys is as die gewildste sepie. Iewers by ʼn verkeerstop tussen Walvisbaai en Windhoek het ʼn verkeerspolisievrou, ʼn Ovambo, hom behoorlik die Leviete voorgelees. ʼn Ander tannie het in Walvisbaai se Mall hom sommer met ʼn kierie bygedam. “Jy is baie stout!” het sy hom toegesnou, en hy het toe maar vinnig verduidelik dat dit bloot die karakter is, en dat hy nie rêrig so gewetenloos soos Nazeem is nie.
Oor die Silwerskerm-toekennings vir Film en TV-nominasie wat hy onlangs ontvang het, glimlag hy breed. “Dalk is ek die beste skurk, die beste gemors in die land.”
Dan lag hy uit sy maag uit. Hy weet immers hierdie nominasie beteken dat hy sy werk uitstekend doen. Dis vir hom ʼn besonderse eer en hy is dankbaar dat hy deel van die Suidooster-span kan wees.
Irvine verwys na homself as ʼn Karooklong. Sy pa was ʼn onderwyser en skoolhoof en hulle het oral in die land gebly, maar sy pa se voorsate kom uit Middelburg in die Karoo. In sy standerd nege jaar het St. Andrews Skool in Bloemfontein aan Irvine ʼn krieketbeurs gegee, maar by die skool het daar toe iets gebeur wat hom vir ʼn wyle van sport laat vergeet het: drama! Hy het in sy matriekjaar die rol gekry van Bernardo in die musiekspel West Side Story. Boonop is hy tydens die interskole-dramafees bekroon as die beste akteur vir hierdie rol. Alhoewel hy vir ʼn wyle daaraan gedink het om politieke wetenskap en regte te studeer, het drama gewen en ná skool het hy in Kaapstad aan die Waterfront-Teaterskool gaan studeer.
“Aanvanklik was my pa nie te happy met hierdie besluit nie, maar toe hy eers sien my hart is daarin, het hy my ook daarmee ondersteun. Rest his soul. Hy was eintlik van jongs af vir my so ʼn inspirasie sonder dat hy dit geweet het. Hy was ʼn koorleier en net deur hom dop te hou, het ek soveel geleer van performer wees. By Waterfront het ek gedink ek gaan leer om te act, maar toe gooi hulle my by die diepkant in. Ek moes ballet doen, en tap dance en sing. Dit was ʼn baie goeie opleiding en ek was bevoorreg om onder Keith Galloway se leiding te studeer. Hy was een van die original West End actors en hy het die wêreld se kennis gehad. The appreciation of art exuded through him. Jy kon nie anders as om daardeur beïnvloed te word nie,” sê Irvine.
Al vloei die Oranjerivier sterk deur sy are, en kry hy elke keer heimwee wanneer hy met die N1 noordwaarts deur die Karoo ry, het die Kaap nou vir hom ʼn tuiste geword. Die Kaap, sê hy, het hom daardie stappie na adolessensie geneem. In 2008 het hy ʼn slegte ervaring gehad toe sy kar eers gesteel is, en hy daarna beroof en met ʼn mes gesteek is op ʼn voorstedelike trein. Alles in die Kaap. Vandag sien hy dit as ʼn goeie leerkurwe en iets wat hy nodig gehad het. Hy het ook ná sy studies baie teaterwerk in die Kaap gedoen.
Hieroor sê Irvine: “I fell in love with art. I fell in love with Stanislavski. I fell in love with Shakespeare.
Vandag lééf ek vir my kuns. Ek is kreatief gebore en wanneer daar iets in my pad kom wat keer dat ek kreatief kan wees, probeer ek maar ʼn ander plan maak om daarby verby te kom. Ek het dit nodig om iets te skep sodat ek kan groei.”
Benewens sy toneelspel in Suidooster, het hy ook tydens die afgelope twee Suidooster Kunstefeeste die geleentheid gekry om sy sangtalent ten toon te stel. Hy was deel van die Suidooster Stormsterk I- en II-produksies. Hierin het ʼn hele paar van die Suidooster-akteurs gewys dat hulle ook oor besonderse sangstemme beskik. Irvine kry ook die geleentheid om kreatief te wees met die eenminuutfilms wat hy maak. Van hierdie films is al by Ster Kinekor se eenminuutfilmfees vertoon. Hy hoop om hiermee nog groot sukses te behaal.

Irvine se ma, Jenny van der Merwe, lê hom baie na aan die hart. “Sy is my core en die enigste persoon wat my in die bek kan ruk,” sê hy oor haar. Sy is ʼn verpleegster wat by ʼn plastiese chirurg in Bloemfontein werk, en hy het ʼn besonderse waardering vir haar en haar passie vir haar beroep. Hy kla net dat hy haar veels te min sien.
Sy heel eerste professionele teaterrol was in Adam Small se Kanna hy kô hystoe.
Afrikaans, sê hy, is díé taal. Dis ʼn leefwyse. Dis wie jy is.
“Ek weet nie presies hoe om dit te explain nie, maar jy ken jou mense as jy hulle sien,” lag hy. “Afrikaans is ʼn wonderlike skat en dis in my bloed. Wanneer ek rugby of enige sport op televisie kyk, skakel ek oor na Afrikaanse kommentaar. Ek moet vir Kobus en Breytie luister.”
Hierdie Karookind, met sy hart vir kuns, se gunstelingskrywers is Eckard Tolle en Deepak Chopra. Dis waar hy geleer het om in die oomblik te lewe, en nie te veel te bekommer oor die dag van more nie.
“Dis goed om planne te hê, maar as jy te hoë verwagtinge het, gaan jy jouself net disappoint,” sê hy. “Ek hou daarvan om in die oomblik te lewe en te fokus op dit wat om my is. Dit gee my peace. Ek sal graag vorentoe wil groei, om nog nader aan God te beweeg. Daar is so baie negatiwiteit in die lewe wat mens totaal kan dreineer. Ek sal eerder alle energie wil gebruik om soveel as moontlik te groei voordat ek die emmer skop. Above all, ek wil tog nie eendag terugkom as ʼn muggie of ʼn vlieg nie. Ek wil graag na die heavenly planets toe gaan en daarom sit ek nou al die werk in.”
Weer lag hy. Irvine van der Merwe se waardes lê inderdaad op die regte plek.
Irvine se vyf gunsteling- Afrikaanse woorde:
- In dier voege (ʼn Uitdrukking wat sy pa graag gebruik het)
- Uitdruklik
- Verligting
- Sappig
- Beswaard (soos Genis altyd was)