Die skoknuus dat Johan Jack Smith op Maandagaand 17 Julie aan ’n hartaanval gesterf het, is deur sy vrou Elmarie gedeel. Hy was bloot 46 jaar oud. Johan was die redakteur van die ATKV se tydskrif, Taalgenoot. In sy tydperk as redakteur het hy die Taalgenoot na nuwe hoogtes geneem en die tydskrif het in hierdie tyd talle pryse ingepalm.
Sy denke was altyd vars en vernuwend.
Johan se debuutroman Zola het in 2019 verskyn en was in 2020 op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg se debuutprys. Alhoewel hy nie daardie prys gewen het nie, het die eer hom te beurt geval om later die jaar die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys op te raap. In Junie vanjaar het die nuus gebreek dat die Universiteit van die Vrystaat se J.C. Steyn-beurs aan Johan toegeken is vir sy magistergraad in kreatiewe skryfwerk. Hieroor het hy aan die joernalis AJ Opperman gesê dat so ʼn beurs of ʼn prys maar altyd jou vrese as skrywer besweer. Die beurs het aan hom die motivering verleen om beter te skryf want dit het hom laat glo dat ander mense ook in sy skryfwerk glo. Johan was ook deel van die groep Woordenaars wat hul skryfwerk en musiek met klein gehore gedeel het. Hy was ook die stigter van die rockgroep Volkspeler.
Johan se dood is voorwaar ʼn reuseverlies vir al sy geliefdes – veral sy vrou Elmarie en hul seuntjie Rijger – maar ook vir die Afrikaanse taal wat hy op ʼn besonderse wyse gedien het. Sy spore lê diep.
Mag hy in vrede rus.