Die wêreld van tegnologie waarin ons leef, laat ons soms verkeerdelik glo dat alles in Engels moet geskied. Dis glad nie waar nie. Daar is ʼn hele paar oulike Afrikaanse apps waarmee jy interessante webblaaie kan besoek, speletjies kan speel, woorde kan vertaal of selfs die Afrikaanse Bybel kan lees. In ʼn artikel wat op 30 Junie op Maroela Media gepubliseer is, sonder die joernalis Alex J Coyne die volgende tien Afrikaanse apps uit. Hierdie keuse is gemaak op grond van die aantal gebruikers van die verskillende apps en dan ook die gradering wat hierdie apps ontvang het. En nee, moenie skrik nie, sommige van hierdie apps het inderdaad Engelse name. Hiermee Maroela Media se keuse:
Hierdie vakgebaseerde hulpbron vir leerders van graad 4 tot 12 is gelaai met interessante feite en skoolkennis. Hierdie app toets ook die gebruiker se kennis met toetse. Al die lesse word in videoformaat aangebied. Wolkskool is die ideale app wat ʼn leerder kan help om sy of haar punte te verbeter.
Nouja, al is die Afrikaanse naam van hierdie app nie korrek nie, kan dit wel gebruik word om jou slimfoon korrekte Afrikaans te laat gebruik. Speel so klaar met spelfoute in jou boodskappe aan vriende en familie. Die meeste algemene Afrikaanse woorde en afkortings is op hierdie sleutelbord geprogrammeer. Jy moet jou slimfoon se instellingsopsie (settings) raadpleeg om die foon se sleutelbord vir die Afrikaanse weergawe aan te pas.
In Suid-Afrika, met ons elf amptelike landstale, is ʼn vertaalapp broodnodig en gelukkig is daar ʼn hele paar opsies beskikbaar. Een hiervan is die Afrikaans-Xhosa- vertaalapp wat jou sal help om jou Xhosa-woordeskat op te bou. Die woorde word binne sekondes vertaal, met ʼn kort verduideliking van elke woord.
Hou jy daarvan om jou taalkennis te toets? Hierdie app help jou daarmee en het talle vrae oor grammatika en sinstruktuur. Selfs diegene wat dink hulle ken Afrikaans goed, sal soms na ʼn woordeboek gryp. Die antwoorde wat verskaf word, verduidelik sorgvuldig waarom dit so gedoen word en die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word as bron gebruik.
Met hierdie app kan jy na jou gunsteling- Afrikaanse radiostasie luister en ook ander ontdek, mits jy met die internet verbind is. Daar is stasies soos Radio Sonder Grense, maar ook heelwat nuwes waarvan jy nog nie gehoor het nie. Jy kan ook hierdie radiostasies as ʼn wekker gebruik om jou soggens met Afrikaanse klanke wakker te maak.
Hierdie app wat die 1953 en 2020 Afrikaanse vertalings van die Bybel bevat, maak dit ideaal vir enigeen wat die Bybel altyd naby wil hê. Die twee verskillende vertalings maak dit ook moontlik om die tekste met mekaar te vergelyk. ʼn Soekfunksie help jou om maklik by ʼn spesifieke vers of hoofstuk uit te kom.
Is jy iemand wat daarvan hou om woordspeletjies op jou rekenaar te speel? Dan is Woordwys net die app vir jou. Op die skerm verskyn ʼn mengelmoes van letters waaruit jy in ʼn sekere tyd soveel as moontlik woorde moet vorm met letters wat aanmekaar raak. Die app stoor ook jou punte en jy kan selfs met ander lede wat hierop woorde maak, kompeteer. (Let wel, na een of twee keer se probeer, verplig Besige Bytjies jou om eers aan te sluit voordat jy verder kan speel.)
Hierdie app is deel van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se manier om Afrikaans na nuwe grense te neem. Lees-en-Luister is propvol Afrikaanse stories soos stories vir die kleinspan. Die app bevat ook ʼn biblioteek van kortverhale vir volwasse lesers wat die heeltyd bygewerk word.
Een van die maklikste maniere om in Afrikaans te soek na die ideale vakansiebestemming, is by Lekkeslaap. Dit wys verskillende verblyfopsies wat wissel tussen kampeerplekke tot luukse gastehuise. Boonop kan die app jou help om jou perfekte vakansie te beplan. Al wat jy moet doen is om aan te dui wat jou begroting is en watter streek jy wil verken, en met ʼn paar kliks van jou slimfoon se knoppies sal jou ideale vakansieplan op die slimfoon se skerm verskyn.
Met die Maroela Media-app op jou slimfoon hoef jy nêrens anders na die nuutste nuus te gaan soek nie. Jy kan selfs kies watter onderwerpe in jou belangstellingsveld val. Die donker-modus wat jy kan kies wanneer jy van hierdie app gebruik maak, is beter vir jou oë, maar die opsie bly jou eie. Maroela Media is ʼn gratis nuusdiens.