Wat ’n beter manier om die jongspan besig te hou as met ’n lekker boek? Open ’n skatkis van moontlikhede vir jou kind met NB Uitgewers se keur jeugboeke.
JY KAN WEN!
Een gelukkige leser staan die kans om weg te stap met Lekker Liewe Heksie-stories deur Verna Vels. Deel die plasing oor hierdie leeslys op Facebook om in aanmerking vir die prys te kom.
Die kompetisie sluit 25 Augustus 2023.

Tuimeltrein
René van Zyl
ISBN-13:9780798183574
Abby, Jasper en Henri het net mooi niks in gemeen nie. Maar wanneer hulle moet saamwerk aan ’n groeptaak en dan die ooggetuies is van ’n moord, word hulle saamgegooi op ’n wilde tuimeltreinrit. Sonder selfone en met niemand wat in hulle onskuld glo nie, moet hulle op mekaar staatmaak om te oorleef. Die vraag is net: Gaan die polisie of die eintlike moordenaar hulle eerste opspoor? René van Zyl is ’n oudjoernalis, skrywer en blogger. Sy woon op ’n plaas in die skaduwee van die Magaliesberge in Hartbeespoort, en is die ma van drie. Sy het al twee samesweringsromans vir volwassenes die lig laat sien, asook 15 Romanzas. Sy het onlangs die jeugmark betree met Die monster in my melkskommel.

Waar jakkalse huil
Elrien Scheepers
ISBN-13: 9780624094128
Waar jakkalse huil is ’n wetenskapsfiksie-spanningsverhaal wat in die Klein-Karoo en Kaapstad afspeel. Die agtienjarige Laela Nix, ’n valkenier, se pa het haar net voor sy dood gevra om ‘n belangrike kriokapsule by ‘n vertroueling op Stellenbosch te besorg. Sy en haar swerfvalk Intsimbi beland op die plaas Swartfontein, ’n insekteelstasie wat kos aan die oorlewendes na die Hongersnood voorsien. Sy leer die bestuurder van die plaas, Finian, en sy twee mak rooijakkalse ken. Maar die vrae bly knaag, oor haar sending om haar pa se laaste versoek uit te voer, oor haar ouers se dood, oor haar vervreemde, beeldskone en gewetenlose suster Jessi. Wie kan sy vertrou? Haar lewe word bedreig toe ’n onwelkome besoeker op die Karooplaas opdaag, en sy vertrek op ‘n desperate vlug na Kaapstad. Gaan sy oorleef, wanneer donker onderstrominge haar oor en oor bedreig?

Kaptein Onderbroek #2: Kaptein Onderbroek en die geveg teen die tandetoilette
Dav Pilkey
ISBN-13: 9780798183659
George en Harold is gewoonlik verantwoordelike kinders – wanneer daar amok is, is George en Harold gewoonlik daarvoor verantwoordelik! Hierdie keer boemerang hulle jongste poets en hulle skep per ongeluk ’n hele weermag tandetoilette. Gelukkig ken hulle ’n superheld wie se onderbroekrek ’n gevaarlike wapen is. Dit lyk na nóg ’n opdrag vir Kaptein Onderbroek! Lees hierdie reeks deur dieselfde skrywer as Hondman. Skreeusnaaks en perfek vir eerste of trae lesers! David Murray “Dav” Pilkey Jr. is ‘n Amerikaanse spotprenttekenaar, skrywer en illustreerder van kinderliteratuur. Pilkey is bekend as die skrywer en illustreerder van die kinderboekreeks Captain Underpants en die strokiesprentboekreeks Dog Man. Sedert 2017 woon Pilkey en sy vrou in Bainbridge-eiland, Washington.

‘n Saak van lewe of dood
Nerine Ahlers, Alet Steenkamp
ISBN-13: 9780798183598
Zander se sussie is weg. En saam met haar voel dit vir hom asof sy ouers hom ook verlaat het. Sy ma loop soos ’n spook in die huis rond. Sy pa word al hoe stiller. Zander voel hy kon net sowel ook dood gewees het. Maar gelukkig is daar iets om sy aandag af te lei. Hy en sy pelle, Mieke, Bongani en Ruben, gaan ’n kortfilm maak vir hulle kunstaak en hulle gaan seerowers wees! Met tamatiesous vir bloed, oogklappe, swaarde, ’n boot (wat hulle by die buurman gaan “leen”) en als. Hulle het tot die perfekte plek om die video te skiet – die ou, vervalle huis in die doodloopstraat met sy vuil swembad. Maar dan ontdek hulle iets skokkends in die donker water: die lyk van ’n vrou… En wanneer Zander besef wie die moordenaar is, beland hulle in groot gevaar.

Kinkels en keuses 2: Die belaglike bak en brou bohaai
De Wet Hugo, Stephen Wallace
ISBN-13: 9780798183611
Jason wil baie graag eendag ‘n fyngebaksjef word. Hy en sy twee beste maats, Tando en Claudia, neem saam bakklasse en besluit om in te skryf vir Bohaai! ‘n bakkompetisie wat op TV uitgesaai word. Maar gaan Minette, Jason se grootste kompetisie, ook deelneem? Wie moet hy kies om in sy span te wees? Hoe gaan hy keer dat Minette wen? Veral as hy met goed soos deegmonsters, stink koekies en resepte in vreemde tale te doen kry? Hierdie heerlike en humoristiese storie is propvol keuses wat die leser namens die hoofkarakter moet maak. Maar daar is ook allerhande onverwagse kinkels om die avontuur ekstra prettig te maak!

Wim Vermaak maak ‘n plan
William Oosthuizen
ISBN-13: 9780798183277
Vir Wim is graad tien nes graad nege, maar op steroids. Hy land teen sy sin die understudy-rol van Nick Bottom in die skool se opvoering van ’n Midsomernagsdroom. Maar dis iets nader aan ’n nagmerrie as ’n droom, want ‘n ander ou sleep vlerk by sy Jenny. Ouma Hantie is sy enigste hoop, maar haar kop is op ’n ander plek. Boonop beland Wim en sy ma byna in die tronk saam met Harold. Wim gaan dinamietplanne moet uitdink as hy dié jaar gaan oorleef. William Oosthuizen praktiseer as prokureur en woon in Kaapstad. Sy debuutroman Die dame met die hondjie verskyn in 2019 (Naledi). Hy was naaswenner in die SA Writer’s College se 2010 kortverhaalwedstryd en finalis van die 2011 Pen-Africa Literêre Toekennings. Sy radiodrama Ons gaan huis toe was die wenner in die RSG/Sanla- radiodramakompetisie.

Die stoutste klas op aarde daag jou uit!
Joanna Nadin
ISBN-13: 9780798183895
Volgens die skoolhoof is 4B DIE STOUTSTE KLAS OP AARDE. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of PRET hê nie. Dit gaan oor LEER en dis hoogtyd dat 4B dáárin probeer UITBLINK. Maar Alex en Manjit het LETTERLIK nie bedoel om VLIEËNDE INSEKTE in die klaskamer los te laat sodat hulle ‘n toets kan mis nie. Hulle het ook LETTERLIK nie bedoel om uitdagings te doen sodat hulle konings van die heelal kan raak nie. Hierdie goed gebeur net! Oor die skrywer: Joanna is ‘n voormalige omroeper en spesiale adviseur vir die eerste minister van die VK. Sy het al meer as 70 boeke vir kinders, tieners en volwassenes geskryf. Joanna het ‘n doktorsgraad in literatuur vir jong volwassenes en is ‘n lektor in kreatiewe skryfkunde by Bath Spa Universiteit en Bloomsbury. Sy woon tans in die VK.

Speurder Kwaaikofski: Omnibus 4
Jürgen Banscherus, Ralf Butschkow (illustr.)
ISBN-13: 9780798183826
Hierdie omnibus-uitgawe bevat nóg drie van Speurder Kwaaikofski se gewildste avonture vir beginnerlesers. In Die stinkstorie moet hy uitvind waarom Olga se koerante verdwyn. In Soene en sirkusse roep een van die beroemde Sirkus Zampona se jongleurs sy hulp in. En in Muise en gespuise lei sy nuutste saak hom op ’n geheimsinnige dwaalspoor tot diep in die vreemde wêreld van kuberkrakers. Jürgen Banscherus is gebore in 1949 en het gewerk as ’n joernalis, ’n uitgewer en ’n onderwyser, voordat hy homself in 1989 as vryskutskrywer gevestig het. Intussen het hy bekend geword as een van Duitsland se mees geliefde skrywers vir kinders en jongmense. Sy boeke is al met vele toekennings bekroon en is reeds in meer as 12 tale vertaal.

Lekker Liewe Heksie-stories: ‘n Leesboek-omnibus
Verna Vels, Vian Oelofsen
ISBN-13: 9780798183567
Liewe Heksie is seker die bekendste kinderboekkarakter in Afrikaans en Verna Vels se tydlose verhale sorg al vir meer as 50 jaar dat kinders die genot van lees en boeke ontdek. Die onskuldige, vriendelike heksie, Levinia, en al die bewoners van Blommeland laat oud en jonk steeds skater met hulle manewales. Vian Oelofsen se lewendige illustrasies sorg dat Liewe Heksie en haar maats se avonture nog net so bekoorlik is soos altyd. Hierdie omnibus bevat 10 van die gewildste Liewe Heksie-stories, met eenvoudige teks en kleurvolle prente om dit perfek te maak vir voorlees en beginners wat self lees.

Reën vir Stofvlei
Katherine Graham
ISBN-13: 9780798183291
Die tienjarige Elsie, oftewel Gogga, is ’n rabbedoe wat eerder saam met die seuns rondhardloop as om pop te speel soos haar perfekte sussie, Riëtte. Dit is die veertigerjare en daar is ’n Wêreldoorlog wat woed, maar Gogga se grootste bekommernis is die somerreën wat wegbly en die droogte wat die gebied teister. Stofvlei is haar hele wêreld en al wat sy ken is haar ouers se winkel – wat enigiets van garing tot petrol verkoop – hulle yl troppie skape en die plaas waarop sy grootword. ’n Stofkorrel op die uitgestrekte, leë vlaktes van die Boesmanland. Toe die verlammende droogte dreig om die plaas te vernietig en die lewe uit mens en dier te suig, weet sy net sy moet iets doen… ’n Innemende, universele verhaal oor familie, kontrei en die natuur. Oor hoe skoonheid en liefde op die mees onverwagse plekke gevind kan word – selfs in die hardste, droogste streke van die platteland.







