Dié eenvoudige kombinasie van geure is absoluut heerlik. Dis ’n vinnige en maklike bygereg om te maak en ’n interessante manier om kool voor te berei. As jy nog nie geroosterde kool geëet het nie, is hierdie resep ’n moet! Niemand hou van vaalgekookte kool wat jy dalk as kind moes eet nie. Onthou net om nie die kool oorgaar te maak nie – dit moet nog lekker bros wees.
Lewer 6 – 8 porsies
30 ml (2 e) korrelmosterd
30 ml (2 e) heuning
30 ml (2 e) appel- of wit druiwe-asyn
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
2 klein kole, in dik wiggies of agtstes gesny (of 1 rooi en 1 wit of 2 van dieselfde kleur)
250 g spek, oortollige vet verwyder en spek in dik repe geskeur
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- Voorverhit die oond tot 220 °C.
- Meng die mosterd, heuning, asyn en olie in ’n groot mengbak saam.
- Plaas die kool en spek in die mengsel en roer versigtig deur tot alles met die sous bedek is. Geur met sout en peper.
- Skep alles in ’n vlak oondbak of op ’n bakplaat. Rooster vir 20 minute of tot die kool net gaar is en die spek begin bros word. Die kool moenie pap wees nie.
- Sit dadelik as ’n bygereg voor. Dis heerlik met hoender of varkvleis.
Fotokrediet: LiG tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Vervang mosterd met komyn- of karwysaad.
- Sit met lepelsvol ongegeurde of Griekse jogurt voor.
Afrikaanse WOORD: spek (nie bacon nie)
Soms is daar woorde wat mense uit gewoonte in Engels gebruik en nie eers altyd hulself dit in Engels ‘hoor’ sê nie. Spek is ’n baie goeie voorbeeld hiervan, want soveel mense praat van ‘bacon’ en dink nie eers twee keer daaroor nie.