Die derde titel in die immergewilde reeks oor die stoutste klas op aarde het die winkelrakke getref en beloof om selfs meer pret en vermaak in te hou. In Die stoutste klas op aarde daag jou uit! maak die hoofkarakters, Alex en Manjit weer hul verskyning.
Volgens die skoolhoof is 4B die stoutste klas op aarde. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of pret hê nie. Dit gaan oor leer en dis hoogtyd dat 4B, waarin Alex en Manjit is, dáárin probeer uitblink.
Maar Alex en Manjit het nie bedoel om vlieënde insekte in die klaskamer los te laat sodat hulle ’n toets kan mis nie. Hulle het ook nie bedoel om uitdagings te doen sodat hulle konings van die heelal kan raak nie. Hierdie goed gebeur net!
Die stoutste klas op aarde daag jou uit! bevat, nes die twee ander titels in die reeks ook kleurvolle illustrasies wat nie net lewe gee aan die karakters nie, maar ook die leser van bladsy een af boei. Hierdie leesreeks is gemik op jong lesers tussen die ouderdomme van 6 en 9 wat hul eerste hoofstukboeke begin lees. Die reeks is oorspronklik uitgegee deur Bloomsbury Publishers en is later deur Kobus Geldenhuys vir Human & Rousseau na Afrikaans vertaal.
Die eerste twee boeke in die reeks getiteld Die stoutste klas op aarde en Die stoutste klas op aarde word stouter bevat ook skreeusnaakse avonture wat jong lesers op die punte van hul stoele sal hê – van tuisgemaakte koekies wat groot konsternasies veroorsaak tot ’n pikkewyn wat ná ’n uitstappie aan die dieretuin skool toe gebring word.
Oor die skrywer
Joanna Nadin is ‘n voormalige omroeper en spesiale adviseur vir die Eerste Minister van die VK. Sy het al meer as 70 boeke vir kinders, tieners en volwassenes geskryf. Joanna het ‘n doktorsgraad in literatuur vir jong volwassenes en is ‘n lektor in kreatiewe skryfkunde by Bath Spa Universiteit en Bloomsbury. Sy woon tans in die VK.