Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ek glo baie van ons ken die bekende slagspreuk “Have a break, have a KitKat”. Daardie belangrike ruskansie te midde van ’n besige dag is noodsaaklik en gee ’n mens weer moed en die nodige energie om aan te gaan. Daarom maak dit sin dat veral ons jonger leerders in die loop van hulle lesse die geleentheid gegee moet word om ’n kort ruskansie te neem – net om hulle breine kans te gee om tot verhaal te kom om dan opnuut te kan fokus. Hierdie is nie ’n nuwe konsep nie en talle onderwysers maak van tyd tot tyd hiervan gebruik. Trouens, selfs in die korporatiewe wêreld word verskillende tegnieke ingespan om veral tydens spanbou, werknemers toe te laat om ’n oomblik halt te roep, iets anders of prettig te doen, en om dan die sessie voort te sit. Afrikaans.com wou meer weet hoe breinpouses in die klaskamer werk en het gesels met Liné Els – ’n laerskooljuffrou by ’n seunskool in die Paarl – wat vir ons ’n sprekende voorbeeld is van ’n opvoeder wat onderrig met passie aanpak en daarom leer pret maak.
Hoekom is dit so belangrik om deur die loop van die klas, tyd af te staan om die leerders aan die beweeg te kry, of hulle aandag te verskuif?
“When the bum is numb, the brain is dumb.” – Gavin Keller (Keller Education)
Ek glo enige klas, ongeag die graad, moet soms net ’n breek neem en beweeg of op iets anders fokus wat genotvol is. Die afgelope drie jaar volg ons skool ‘n program genaamd Keller Education, wat waardevolle webinare aanbied oor verskeie onderwerpe om skoolhou meer effektief te maak. Een van die hoofkonsepte waarop Gavin Keller, die hoofbrein agter alles, fokus is dat beweging baie belangrik is. Hy sal altyd sê: “When the bum is numb, the brain is dumb.” Dit is so waar!
Wanneer ons beweeg of iets genotvol buiten skoolwerk doen, word goedvoel-hormone vrygestel. Daardie hormone laat ons helderder dink en laat ons voel dat ons meer in staat is om ’n uitdaging aan te pak. Daar is dalk leerders in die klas wat angstig raak wanneer Wiskunde-somme gedoen word. Om ’n rukkie te lag en te beweeg, neem hulle aandag weg van die angs en laat hulle goed voel. Hulle staan dan ’n groter kans om sukses te ervaar.
Hoe weet jy wanneer dit tyd is vir so ’n breek?
Elke opvoeder se klas gaan verskil. Volgens navorsing is ons aandagspan gelyk aan ons ouderdom. Dit beteken dus dat ’n graad 1-klas soos by my se aandagspan slegs sewe (7) minute gaan wees. Daarna begin hulle kriewelrig raak. In ’n ideale klas sou mens dalk elke sewe minute kon opstaan en beweeg, maar met die huidige kurrikulum het ons egter nie tyd vir so baie breinpouses nie. Daarom is dit belangrik om jou leerders te ken. Ek kan dadelik agterkom as hulle aandag nie meer gefokus is nie. Dan sal ons die potlode vinnig neersit en die wiel laat draai om te kyk watter breinpouse ons moet doen. (Kyk gerus is die video hieronder hoe die wiel lyk.)
Breinpouses kan voor ’n toets, tydens klaswerk, na pouse en selfs in die oggend plaasvind. Hoe meer breinpouses plaasvind, hoe beter! Ek maak altyd seker die breinpouses is nie langer as vyf minute lank nie, anders sukkel ek meer om hulle weer gefokus te kry.

Wat sê die navorsing vir ons?
My navorsing baseer ek op die Keller Education-program wat ons skool volg. Maar daar is so baie artikels, veral deur oorsese skrywers, wat meer op breinpouses fokus. Een daarvan (kyk bron onderaan) lig duidelik die volgende voordele uit:
- Kort breinpouses tydens werktyd verminder stres, angs, en frustrasie.
- Dit help kinders om te fokus en produktiewer te wees.
- Dit kan ook daartoe bydra dat kinders leer om te selfreguleer en meer bewus te wees wanneer hulle moedeloos raak of fokus verloor met dit waarmee hulle besig is.
“Short brain breaks during work time have been shown to have real benefits. They reduce stress, anxiety, and frustration. And they can help kids focus and be more productive. Brain breaks can also help kids learn to self-regulate and be more aware of when they’re getting fed up or losing track of what they’re doing.” (https://www.understood.org/en/articles/brain-breaks-what-you-need-to-know)
Veroorsaak dit nie chaos in die klas nie – m.a.w. om almal weer op die les gefokus te kry nie?
Dit veroorsaak beslis chaos in die klas! Veral wanneer die wiel op “desk drumming” of ‘n danspartytjie land. Ek glo dit is deel van die doel van ‘n breinpouse, dat daar ‘n bietjie chaos is en die leerders uitlating van hul energie op ‘n gestruktueerde manier kan kry.
Hoe meer breinpouses gedoen word, hoe meer gewoond raak die leerders aan die breek en hoe makliker raak dit om hulle daarna weer gefokus te kry. Dit is ook belangrik om aan hulle te verduidelik hoekom ons die breinpouses doen. Dit is goed om te verstaan hoe ons liggaam en brein werk. Selfs volwassenes het breinpouses tydens vergaderings nodig.
Na ’n besige en chaotiese breinpouse kan mens ook ’n paar keer diep asemhaal en die klas so tot orde bring.

Wat is die belangrikste voordele hiervan?
Daar is so baie voordele van breinpouses. Hoe meer ek dit met my seuns doen, hoe meer sien ek dit raak. In die week het die wiel op kleispeel gestop. Hulle het hul klei uitgehaal en net gespeel. Ek het dit so geniet om deur die tafeltjies te stap en te sien wat hulle maak en te hoor hoe hulle met hul maats gesels. Hulle kom wys ook hulle skeppings vir my en ek “oe” en “aa” oor alles. Hulle word geprys en hulle goedvoel-hormone hou partytjie!
Die woord ‘breinpouse’ sê eintlik direk vir ons wat die belangrikste voordeel is, naamlik dat die brein ‘n breek kry van harde konsentrasie. Ons brein bepaal so baie tydens die leersproses. As ons nie goed voel nie, gaan ons nie inneem wat onderrig word nie. As ons te lank net sit en werk, gaan ons moeg raak en nie ons beste kan gee nie.
Wanneer juffrou of meneer die breinpouse saam met die klas doen, sien die leerders ook hoe ons dit geniet en dat ons ‘n bietjie kan ontspan en pret hê. Dit is ook baie belangrik! Ons raak ook maar gespanne oor al die werk wat gedoen moet word, en dan is dit goed om self ‘n breinpouse te neem.
Vertel bietjie meer oor jou tegniek (ook die program wat jy gebruik)?

Ek het op Instagram gesien ‘n onderwyseres van iewers oorsee gebruik die draaiwiel in haar klas. Ek het dadelik op die internet gaan soek na ‘n wiel wat gratis gebruik kan word en ook aangepas kan word volgens dit wat ons in die klas wil gebruik. Die webtuiste Ahaslides.com het die beste gewerk. Al die breinpouses kan ingetik word en die wiel draai om dan vir ons te wys wat ons moet doen. Dit bring die element van verrassing in en die seuns kan nie wag om te sien waarop die wiel gaan stop nie. Dit vermy ook ‘n gestryery oor wat ons moet doen, want elke leerder het maar sy/haar voorkeur van dit waarvan hulle die meeste hou.
Wat is tipiese goed wat ‘n mens kan doen? En is daar ekstra lees/webtuistes wat jy kan aanbeveel of wenke wat jy kan deel?
Die breinpouses gaan verskil van graad tot graad en selfs klas tot klas. Soos jy jou klas leer ken, kom jy agter waarvan hulle hou en wat vir hulle die beste breinpouse sal gee. YouTube is ‘n skatkis vol interaktiewe video’s. Daar sal ek vinnig iets intik en soek waarvan die seuns sal hou, dan spring ons weg.
In my graad 1-klas doen ons graag die volgende:
- Danspartytjie – Vir bewegings saam met ‘n liedjie, sal ek op Youtube “dance along for kids” intik, daar verskyn dan honderde opsies.
- Saam sing – Die seuns kan hier kies watter liedjie hulle graag wil sing. Dan sal ons vinnig hande opsteek en kyk watter liedjie die meeste stemme kry.
- Kougom werk – Alhoewel ons dit skelm moet doen, help die kou van kougom baie met konsentrasie. Indien die wiel hierop land, mag die seuns kougom kou terwyl hulle hul werkie doen.
- Resies buite – Kompetisie is die seuns se kos! En juffrou hardloop natuurlik saam!
- Desk drumming – Die seuns is mal hieroor! Daar is baie video’s op YouTube wat wys hoe die leerders met kort swembad-“noodles” op hulle tafels moet slaan. Potlode of hul hande kan ook hiervoor gebruik word, indien mens nie die “noodles” het nie.
- Simon says – Hiervoor het ek ‘n skyfievertoning wat verskillende goed vir hulle wys, soos speel op ‘n lugkitaar, skud soos ‘n nat hond, waggel soos ‘n pikkewyn, ens. Indien die tyd min is, doen ons net vinnig ‘n gewone ‘Simon says’ en lag lekker saam wanneer iemand uitgevang word.
- Kleispeel – 5 tot 10 minute se lekker speel, waartydens hulle enigiets kan maak. Musiek kan ook in die agtergrond gespeel word.
- Sensoriese pad – In ons grondslagfase-gang is daar ‘n “sensory walk”. Dit behels groot plakkers op die vloer wat uitbeeld hoe hulle moet loop. Daar is paddaspring, kraploop, beerkruip en vele ander. Dit is weereens net ‘n lekker manier om bietjie uit die klas te kom en te beweeg.
- Asemhalingsoefeninge en strekke – YouTube het baie video’s tot mens se beskikking. Tik net “mindful breathing for kids” in en kyk waarvan die klas hou.
En hier is ‘n kort video waarin gesien kan word hoe daar in juffrou Liné se klas gedans word.
Bron en om meer te lees oor die voordele van breinpouses: Klik hier.
So bietjie meer oor Liné Els
Liné het in Caledon, in die Overberg, grootgeword. Sy vertel dat sy daar ongelooflike onderwysers as deel van haar skooljare gehad het wat ‘n groot rol gespeel het in wie sy vandag is. Boonop is haar ma ook in die onderwys en deel hulle weekliks idees met mekaar. Liné is ’n oud-Matie waar sy haar BEd Grondslagfase-graad verwerf het.
Sê Liné:
“Van kleins af was ek aan die beweeg, hetsy op die hokkieveld, op die atletiekbaan, singend in die koor of agter die boeke. Daarom is beweging nou nog vir my belangrik. Ek weet ek moet ook iewers ‘n breinpouse neem om weer die volgende dag my beste in die klas te kan gee. Deesdae is dit deur oefeninge op ‘n springmat, stappies saam met my kêrel of ontspan met ‘n lekker dik boek.”
Liné vertel verder dat kinders nog altyd een van haar groot passies was. “Ek wou eers net ‘n mamma word, maar nou is ek ‘n skoolmamma van so baie kinders. Dit is ‘n groot voorreg!”
Liné is reeds vyf jaar verbonde aan Paarl Primêre Seunskool, waar sy ook haar loopbaan begin het.








