Skrywer: Alita Steenkamp
Vir eers moet sy die RSG-span as aanbieder groet, maar Charlene Lackay sien sommer baie uit na haar nuwe rol as een van die aanbieders van kykNET se Saterdae-ontbytprogram, Ontbytsake. Ons het haar in 2003 leer ken as Charlene Truter, een van die veld-aanbieders van Pasella, die SABC se joernaalprogram. Haar loopbaan het interessante draaie geloop as onder meer joernalis by SARIE en later subredakteur by Die Burger. In 2013, toe self ʼn ma, het sy ʼn program op RSG begin aanbied. In hierdie program, Brabbeltyd, het sy gesels oor baba- en kleuterdinge. Sy het ook nuus gelees en was meer onlangs deel van die RSG-span wat op Sondagoggende in die ateljee is. Nou keer sy terug na die televisie. Charlene begin op Saterdag 3 Junie as mede-aanbieder by Ontbytsake. Sy beklee ook ʼn pos in die korporatiewe wêreld by Momentum Metropolitan, ʼn lewensversekeraar en beleggingsmaatskappy, waar sy die hoof van die afdeling vir volhoubaarheid is. Charlene woon in Pretoria saam met haar man en twee dogters. Ons het vir Charlene voorgekeer om die volgende vyf vrae te beantwoord:
Wat maak jou dolgelukkig?
Die beste deel van my dag is wanneer ons in die oggend opstaan en mekaar groet. Ek besef net elke oggend weer hoe ongelooflik bevoorreg ek is met my dogters, Mia (11) en Ava (9), in my lewe. Hulle maak my lewe vol en mooi en interessant. Partykeer moeilik en laf en mal en gejaag soos wanneer ek hulle by die skool moet kry of gaan haal, maar dit bly die beste deel van die dag.
Hoe en waar probeer jy om ʼn verskil te maak?
Ek is in ʼn beroep wat my help om dit te doen en my wens is vir elke persoon om ook so ʼn beroep te hê. In die finansiële wêreld is daar soveel uitdagings soos klimaatsverandering, omgewingsverlies, biodiversiteitsverlies en my taak is om te kyk hoe kan ons binne die finansiële dienste wat ons bied, ʼn verskil maak. Ons werk hard om die pendulum te swaai in ʼn positiewe rigting. Dit is ʼn wonderlike manier om ʼn verskil te maak. Dan is dit ook belangrik om goed te wees vir ander mense en hulle te hanteer soos jy graag hanteer wil word. Ek probeer hard om in my onmiddellike familie se lewens ʼn verskil te maak. ʼn Mens het as ʼn ma ʼn groot verantwoordelikheid om seker te maak dat jou kinders ook eendag ʼn verskil gaan maak in die wêreld. Hoe stel ek hulle in staat? Hoe bemagtig ek hulle om dit te doen? Watter waardes leer ek hulle? Wat sê ek vir hulle oor hulleself en hul eie waarde sodat hulle kan leer om ander mense na waarde te skat? Dit is vrae wat ek vra om my hiermee te help.
Hoe ontspan jy?
Netflix is ʼn wonderlike ding. Ek en die kinders kyk dikwels saam Netflix of na dinge soos Blue Planet. Hulle is dol oor enige natuurprogramme en veral lief vir National Geographic. Ek doen gereeld joga en stap baie graag. Dit is nie altyd moontlik om buite te gaan stap nie, en dan is die treadmill maar my vriend. Ek sit my oorfone op en luister na ʼn oudioboek, maar meer dikwels na een of ander potgooi. Interessante en snaakse potgooie oor die geskiedenis van die wêreld of ander onderhoudende dinge. ʼn Gunstelingreeks waarna ek tans luister is 99% Invisible wat gaan oor klein ontwerpe wat ʼn groot verskil in ons lewens maak. Dis vir my heerlik om na fassinerende dinge te luister wanneer ek so stap.
Watter vyf boeke lê daar op jou bedkassie wat gelees moet word of waaraan jy lees?
- Rondomtalie, saamgestel deur Marinda Engelbrecht. Een van die stories in die boek, Mozart en die aalwyn, het ek geskryf. Dit is vir die kinders vreeslik snaaks: Mamma lees die storie wat sy self geskryf het. Dis ʼn boek wat ons nogal baie lees.
- How to change van Katy Milkman. ʼn Boek wat ʼn mens help om te kom by die plek waar jy graag wil wees.
- Wonderworks van Angus Fletcher. ʼn Fassinerende boek oor die wetenskap en geskiedenis van stories.
- Antifragile van Nassim Hicholas Taleb. Hierdie boek leer ʼn mens hoe om sterker te word midde-in chaos, wanorde en dinge wat erge stres bring.
- The higher taste van Bhutatma Dasa, Kurma Dasa en Drutakarma Dasa. Dis ʼn wonderlike vegetariese kookboek.
Waarna sien jy die meeste uit in die nuwe uitdaging as ʼn mede-aanbieder by Ontbytsake?
Ek gaan verskriklik baie na die RSG-familie verlang, maar ek sien baie uit daarna om deel te word van ʼn nuwe familie – die Ontbytsake-familie. Studio-opnames is natuurlik baie anders as die veldopnames wat ek destyds vir Pasella gedoen het. Die adrenalien en die druk van ʼn direkte uitsending maak dit besonder lekker, maar juis so ʼn groot uitdaging. Dan sien ek ook baie uit daarna om al die nuwe mense te ontmoet wat Saterdae deel van ons program gaan wees. Dit is mense wat ook probeer om êrens ʼn verskil te maak. Mense wat die moed het om ʼn eie onderneming aan te pak, ʼn diens te verskaf en waarde aan mense se lewens toe te voeg. Kunstenaars in vele velde. Dit gaan besonder lekker wees om met sulke mense te gesels en te hoor wat is die dryfveer agter dit wat hulle doen.
