Met die aankondiging van die wenners van die Huisgenoot Eisteddfod 2022, het Yvonne Beyers, redakteur van Huisgenoot, die volgende te sê gehad: “Aarde, maar ons kinders is talentvol! Toe ons Huisgenoot se eerste aanlyn eisteddfod verlede jaar bekendstel, het ons gehoop vir ʼn paar oulike inskrywings. Maar toe ontvang ons sommer honderde inskrywingsvideo’s wat ons laat klap en juig.” Die tyd het nou weer aangebreek vir die volgende aanlyn Huisgenoot Eisteddfod-kompetisie. Talentvolle skoliere wat lief is vir die kunste, word weer uitgenooi om deel te neem. Afrikaans.com is vanjaar een van die borge van hierdie opwindende talentkompetisie waarin daar heerlike kontant- en ander pryse op die spel is. Daar word ook ʼn Huisgenoot Eisteddfod-ster van die Jaar aangewys wat ʼn kontantprys van R10 000 gaan ontvang.
Om deel te neem moet die leerder ʼn video maak waarin hy of sy een of meer van die volgende doen: ʼn liedjie sing, ʼn gedig voordra, ʼn stuk prosa voordra, of ʼn redenaarstoespraak hou. Hierdie video mag nie langer as 2 minute (poësie), 3 minute (prosa en sang) en 3-7 minute (redenaars) wees nie. Hierna word die video op Huisgenoot Eisteddfod se webtuiste gelaai. Daar is ook geleentheid om vooraf ʼn meesterklas aanlyn by te woon. Hierdie meesterklasse is beskikbaar teen R120 per klas. Die klasse is eksklusief en daarin gee die professionele vermaakkunstenaars praktiese raad en hulle help die deelnemers ook om vir die optrede voor te berei.
Ná die sluitingsdatum van 24 Julie 2023, sal die Huisgenoot Eisteddfod-beoordelaars na al die inskrywings kyk en dit beoordeel. Deelnemers sal dan uiteindelik toekenningsertifikate ontvang: goud, silwer of brons. Daar is ook kontantpryse vir wenners van elke kategorie. Die beoordelaars van Huisgenoot Eisteddfod is vanjaar weer ʼn span kundiges. Hierdie vier beoordelaars tree ook as die aanbieders van die meesterklasse op. Die prosa-inskrywings word deur Roeline Daneel beoordeel, die poësie-inskrywings deur Frieda van den Heever, die redenaarsinskrywings deur Sue Pyler-Slabbert en Lynell Kenned beoordeel die sang-inskrywings. Al die reëls vir hierdie kompetisie is beskikbaar by https://eisteddfod.huisgenoot.com/reels/ So waarvoor wag jy? Gaan maak daardie video.
Die beoordelaars
Roeline Daneel (Prosa)
Televisiekykers sal haar onthou as die karakter Nina Smit in die televisiereeks Fynskrif. Sy was ook al te sien as Alta-Marie in die telenovelle Arendsvlei en Mika in die reeks Kompleks. Roeline is in 2018 vir ʼn Suid-Afrikaanse Rolprent-en-TV-prys benoem vir haar rol as Jan van Riebeeck se vrou, Maria, in die fliek Krotoa. Hierdie aktrise en stemkunstenaar het in 2007 haar BA Drama Honneursgraad cum laude aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy het ook onlangs in rolprente soos Ouma Olive die ongelooflike en Desemberdiewe gespeel.
Frieda van den Heever (Poësie)
Frieda van den Heever dra baie hoede: sy is ʼn aktrise, musikant, regisseur en stemkunstenaar. Sy is ʼn selfverklaarde liefhebber van woorde en wysies, klanke en die stiltes tussenin. In 2021 het sy ʼn Fiësta-toekenning gewen vir die regie van die toneelstuk Die Poet, Wie’s Hy? Frieda was ook voorheen die aanbieder van die RSG-programme Vers en Klank en Kortom. Sy doen ook stemwerk vir advertensies en musikale regie vir musikale vertonings en teaterproduksies.
Sue Pyler-Slabbert (Redenaars)
Sue Pyler-Slabbert het ook drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is ʼn bekroonde radio-omroeper wat ʼn verskeidenheid van programme by RSG aangebied het. Daarby is sy ook ʼn nuusleser, regisseur, aktrise, stemkunstenaar en geleentheidspreker. Sy is ook ʼn gesoute debatvoerder. Sue het tot ʼn paar maande gelede RSG se ontbytprogram, Op en Wakker aangebied. Dis haar klokhelder stem wat lesers hoor wanneer hulle na die artikels op Netwerk24 luister.
Lynelle Kenned (Sang)
Lynelle Kenned se loopbaan as operasanger en aktrise strek al oor meer as tien jaar. Van die rolle wat sy al vertolk het en waarvoor sy bekroon is, was in musiekblyspele soos West Side Story en The Sound of Music. Lynelle het al die geleentheid gekry om ʼn duet saam met Katherine Jenkins uit te voer. Sy is ook ʼn televisie-aanbieder wat te sien was in leefstylprogramme soos Pasella, Uit die spens en Jý geld. Lynelle het opera aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Sy tree ook gereeld as geleentheidspreker op.