As daar een ding is wat mense bymekaarbring, is dit ’n lekker bord kos. Hierdie maand lek ons behoorlik ons lippe af met NB Uitgewers se verskeidenheid kookboeke. Van disse vir ‘n lugbraaier tot treffers vir die braaivleisvuur, hier is iets vir elke palet.

Suid-Afrikaanse Lugbraaier Kookboek
Louisa Holst
ISBN-13: 9780798183666
Maklik, flatervry en Suid-Afrikaans … als uit jou lugbraaier. Welkom in die wonderwêreld van die lugbraaier! Die veelsydige lugbraaier – ’n klein konveksie-oond wat kos vinnig en doeltreffend gaarmaak – verdien sy eretitel as topstaatmaker in die moderne kombuis. Die verskeidenheid van japtrap-resepte in hierdie boek is ’n móét vir jou kook-repertoire. Die Suid-Afrikaanse lugbraaierkookboek fokus op ou bekende Suid-Afrikaanse gunstelinge – van bobotie, appelkoos-snoek met soetpatats en boerewors met chakalaka tot paptert, melktert en malvapoeding. Met die onontbeerlike versameling van smullekker resepte kan jy nou jou lugbraaier ten volle benut en jou lewe makliker maak, etenstye net ’n plesier en die kos op die tafel ’n ware weglê-fees.

Marinda kook met blikkies en pakkies
Marinda Engelbrecht
ISBN: 9780798182966
Staan jy gereeld voor jou oop koskas en kopkrap vir inspirasie vir heerlike gesinskos of ietsie anders? Dan het Marinda Engelbrecht vir jou die antwoord. In haar derde boek wys Marinda hoe jy doodgewone blikkies en pakkies kan optower in spoggerige disse, wat met die grootste selfvertroue aan familie en vriende voorgesit kan word. Min mense sal die verskil proe tussen die watertandlekker-boontjiesop wat jy met blikkies en pakkies berei het en die ware jakob. Met ’n paar koskasbestanddele en gekoopte skilferdeeg kan jy ’n geurige pastei maak en jy hoef nie meer ure lank te swoeg met vleis-, hoender- of visgeregte nie – blikkies en pakkies is die kitsantwoord. Pak met jou volgende kruideniersware-aankope ’n paar blikkies tamaties, peulgroente, sampioene, vis, vleis en natuurlik ingedampte melk en kondensmelk in jou inkopiemandjie, en met Marinda kook met blikkies en pakkies byderhand kan jy feitlik enige smulgereg berei.

Nic van Wyk-Brood & Botter: ‘n Lewe van kook
Nic van Wyk
ISBN: 9780798183253
In sy eerste kookboek neem Nic van Wyk, voorste Kaapse sjef en geliefde Kokkedoor-beoordelaar, ons op sy kosreis van 21 jaar, sy kulinêre mondigwording: van onthoukos uit sy kinderdae waar die kossaadjies geplant is, na nostalgiese restaurantgeregte met ’n kinkel, tot by sy hartskos, sy aardse gunstelinge. Die boek herinner aan Kook en geniet, met die klassieke manier van kosmaak en basiese kookmetodes, maar Nic neem sy resepte ’n stappie verder: onthoukos soos groenbone met witpepersous, dik plaasbotter en nat geelvetbiltong op witbrood, Ouma Liena se boontjiesop, mieliepap met botter, suiker en melk – om maar ’n paar lusmakertjies uit sy kinderdae te noem. Sy onopgesmukte restaurantkos gaan jou verras met dieplekker geurkombinasies wat die smaakkliere laat water en sy hartskos weerspieël sy voorkeur vir eerlike kos sonder fieterjasies. ’n Boek wat definitief in elke Suid-Afrikaanse huishouding hoort – geniet dus die reis!

Oor die kole
Martelize Brink
ISBN: 9780798182485
In Oor die kole wys Martelize Brink dat braai soveel meer as net steaks en boerewors is. Dié boek bevat liplekkerresepte wat wissel van die perfekte tjoppie tot potbrode en slaai – en ja, jy kan slaai braai! Martelize deel gunstelinge waarmee sy grootgeword het en verskaf ’n magdom uithaler-resepte met ’n kinkel wat jou smaakkliere sal prikkel. Sy gee raad oor potjies, roosters en basiese braaitegnieke. Daar is onder meer resepte vir gerookte ribbetjie, eend met sjerrieglaseersel, gevulde lamsrol, platbrood in die ketelbraai en haar pa, potjiekos-koning Matie Brink, se gewildste afvalpot. Natuurlik is daar ook iets vir die soettand – alles oor die vuur!

Die Demokratiese Republiek van Braai 2
Jan Braai
ISBN: 9780798183147
“Dis jou demokratiese reg om ordentlik gebraaide kos te eet. Die Demokratiese Republiek van Braai is ’n plek waar jy saam met vriende en familie om ’n vuur staan om ons nasie te vier, waar jy geselsies maak en stories deel. Dis ’n plek waar jy nooit weer swaar hoef te sluk aan swak braaikos nie.” – Jan Braai. So belowe Jan Braai se Demokratiese Republiek van Braai. In dié nuwe uitgawe deel Jan sy heel lekkerste braairesepte om te voldoen aan jou reg om net die beste te braai. Met uitsonderlike resepte vir bees, hoender, skaap, vis en wat nog is daar geen verskoning om ooit weer smaaklose braaikos voor te sit of te eet nie. Jan gebruik bekende, maklik verkrygbare bestanddele en sit die resepte duidelik en in logiese stappe uiteen. Hierdie braaihandves sal jou help om geleidelik van die kombuis na die vriendelike braaivleisvuur te beweeg!

Vleis
Annelien Pienaar
ISBN: 9780798179355
Die meeste mense hou van ’n stukkie vleis, so slyp jou vleistande vir die beenaflek lekkerte van Vleis. Dié boek bevat alles wat jy ooit oor vleis wou weet – die snitte, voedingswaarde, veroudering, faktore wat die sagtheid bepaal, gaarmaakmetodes, bevriesing, terminologie – om net ’n paar aspekte te noem. Met resepte vir bees, lam en skaap, vark, pluimvee, afval en wild tot marinades, gegeurde soute en olies om die snitte te komplementeer, sal dié boek sy plek volstaan op jou kombuisrak.

Marinda se koskas
Marinda Engelbrecht
ISBN: 9780798181990
“Die resepte in hierdie boek het ek fyn uitgekies. Dit is kos wat ék sien as onthoukos.”
Marinda se koskas maak voorsiening vir ontbyt, sop en voorgeregte, brood en beskuit, slaai, seekos, vleis, groente, pasta en bygeregte, nageregte, terte, koeke en ander soetigheid. Lipleklekkerkos wat jy in ’n japtrap kan berei sonder fieterjasies of vreemde bestanddele. Die resepte is in alledaagse taal geskryf vir elke kosliefhebber, vir elke dag se gebruik.

Braaibroodjies en burgers
Jan Braai
ISBN: 9780798181488
Wie sou kon raai dat Jan en sy boeke wêreldbekend sou word vir braai! Die braaikoning is terug met ’n splinternuwe boek en dié keer ondergaan die nederige braaibroodjie ’n gedaantewisseling of twee. Vind liplekker- hoender-, beesvleis-, vegetariese en veganistiese braaibroodjie- en burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog! En moenie dink Jan het van die suikertande vergeet nie – die boek bevat alles van soet tot sout, alles oor die vuur – dis mos nou lekker!

Dit proe soos huis: Geure van my ma se kombuis
Herman Lensing
ISBN: 9780798179911
In Dit proe soos huis eer Herman Lensing sy ma Susan, wat skielik in Januarie 2019 oorlede is, met sy uitsonderlike talent. Hy klits haar lekkerste resepte en hul eie stories saam soos net hy kan. Hy neem ons op ’n kosreis – van sy grootwordjare in Upington waar sy passie vir kos ontvlam het, tot Hartenbos se jaarlikse kampritueel (met hope padkos) en eindig rondom sy eie Kaapse kombuistafel waar hy sy ma ’n resepkinkel of twee kon leer. Susan Lensing het almal gevoer wat kom kuier of net aan die deur geklop het. Meer nog, sy het vir hulle padkos vir die siel gebied. Haar leuse was: “My kind, kos is nie kwaad nie. Nooit nie. Kos vergewe en bring mense saam. As ons net aanhou kook, sal ons die wêreld een bord op ’n slag mooier maak.” Dié pragfotoboek vol onthouresepte is ’n kosverhaal wat dit wat is, verbind met dit wat was. Dit proe soos huis, ook met resepte uit die gelyknamige TV-reeks, soos gesien op VIA, is net die staatmaker wat jou kombuis kort.

Landbou Boerekos: Die beste gebak
Arina du Plessis
ISBN: 9780798179164
Bakresepte uit die gewildste kostydskrif, Landbou Boerekos. As jy al ooit jou ouma se verlore gemmerkoekie- of skonresep gesoek het, dan het jy dit gevind! Dié boek bevat alles – groot laagkoeke, stroopkoeke, kaaskoeke, soutterte, kleinkoekies, beskuit, kolwyntjies, soet- en soutbrode, warm poedings en Kersfeesgebak. Beslis ‘n móét vir elke bakster, tuisteskepper én werkende ma.