Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Lees ’n mens die kortgeskiedenis van die WAT, dink ’n mens onwillekeurig aan die boek, The Dictionary of Lost Words deur Pip Williams. In die boek – gebaseer op werklike gebeure – word die verhaal vertel van die saamstel van die Oxford English Dictionary en hoe die betekenis van woorde verskillende betekenisse vir mans en vroue het. Die eerste volume van die woordeboek (Oxford) het 40 jaar geneem voordat dit gepubliseer is, en dan op ’n dag kry hulle ’n brief van ’n lid van die publiek waarin die persoon beweer dat hulle ’n woord (bondmaid) uitgelaat het … en so begin die pragtige verhaal van die fiktiewe karakter Esme en haar interaksie met die karakters gebaseer op die regte mans en vroue wat vir die opstel van die woordeboek verantwoordelik was.
Die storie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal – kortweg sommer net die WAT – lees dalk nie soos ’n novelle nie, maar dit bly steeds ’n noemenswaardige deel van ons taal se geskiedenis en tot vandag toe word daar steeds aan dié besondere storie geskryf. Sê Jana Luther, mederedakteur van die WAT, gesoute taalpraktisyn en iemand wat ook haar eie woordeboek begin het (die Woordeboek van Afrikaans Vandag) in ’n onderhoud met Murray La Vita van Netwerk24: “Ek is totáál verknog aan woorde. Ek het aan verskillende soorte woordeboeke gewerk, maar my groot belangstelling, wat my vlam die hoogste laat brand, is verklarende woordeboeke, waarvan die WAT, vir Afrikaans, die toppunt is.”
In dieselfde artikel noem Jana ook die trajekte waarvoor sy as mederedakteur maandeliks verantwoordelik is. “Een trajek bestaan uit ongeveer 1 500 kaartjies – ’n materiaalversameling wat dateer van ongeveer 1900 tot 1980 – en wat sedert die vyftigerjare deur skarewerwing bekom is toe die land deelgeneem en veral streektaalwoorde ingestuur het.” Die WAT se versameling staan tans op 3,5 miljoen indekskaartjies.
Afrikaans.com het gesels met dr Frikkie Lombard, eindredakteur van die WAT, en vyf vrae aan hom gestel:
Frikkie, woordeboekmakers is dikwels die onbesonge helde van die taal. Hoe lank is jy al besig hiermee?
Woordeboekmakers word gewoonlik nie vreeslik geprys nie, en soms word hulle verkwalik oor iets wat hulle opgeneem het, of dalk nie opgeneem het nie. Ek is nou al 41 jaar by die WAT, maar tree vanjaar af (en sien nogal uit daarna!).
Het die proses deur die jare baie verander?
Dit het beslis verander. Toe ek begin het, moes ons alles wat ons gedoen het, met die hand uitskryf. Daarná het ons met rekenaars wat slapskywe gehad het, begin werk. Ek het myself leer tik, en my dogter het, as sy gevra is wat haar pa doen, geantwoord dat hy ’n tikker is! Aanvanklik het ons maar in Word gewerk, maar later is daar ’n spesiale program vir ons geskep deur ’n Sweed. Dit was bekend as Onoma. Nog later het ons met ’n plaaslike program, TLex, begin werk. Ons gebruik dit steeds. Ons uitgebreide redaksionele stelsel is ook aangepas sodat vinniger vordering gemaak kon word. Ons het pas T voltooi en moet teen 2028 klaar wees tot by Z.
Waaruit bestaan die proses voordat ’n woord opgeneem word? Wie (of hoe word) besluit dat die woord opgeneem moet word? Waar kom die definisies vandaan?
’n Woord word opgeneem wanneer dit deurgedring het na gewone Afrikaans en in ten minste vyf bronne of die werk van vyf verskillende skrywers voorkom. In ’n omvattende, meerdelige woordeboek soos die WAT word daar natuurlik baie meer woorde opgeneem as in handwoordeboeke soos die HAT. Ook die leksikografiese bewerking van woorde is baie meer uitgebreid, en ons maak ook van aanhalings gebruik. Definisies bly maar ’n uitdaging: Sommige woorde het tot 50 en meer verskillende betekenisonderskeidings. Dit word gemaak deur noulettend te kyk na die materiaal wat jy kry op die indekskaartjies en dit wat alles aanlyn beskikbaar is. Dit is ’n geweldige taak.
Kan ’n woordeboek ooit volledig wees?
’n Omvattende woordeboek, eintlik enige woordeboek, is nooit volledig nie. Woordeskat brei uit en taal bly nie altyd dieselfde nie.
Na jou mening, wat is die eienskappe van ’n leksikograaf?
Iemand met ’n praktiese taalkennis en kennis van die leksikografieteorie en -praktyk, en veral die ABC-vermoë: Apply Bottom to Chair!

’n Kort opsomming van die geskiedenis van die WAT
Reeds in die vorige eeu, in 1920, stel prof JJ Smith voor dat Afrikaanse woorde bymekaargemaak moet word om uiteindelik ’n verklarende eentalige Afrikaanse woordeboek saam te stel. Na ’n draai in die parlement waar daar besluit is dat dit ’n goeie idee is en daarom staatsteun verdien, word die samewerking tussen prof JJ Smith, die Nasionale Pers en die Universiteit Stellenbosch formeel in 1926 bekragtig en begin die werk aan die woordeboek – destyds in Keeromstraat, Kaapstad. In 1929 word die verantwoordelikheid van die opstel van die woordeboek die van die Universiteit Stellenbosch en in 1930 skuif die woordeboekkantoor Stellenbosch toe – waar hy tot vandag toe is – deesdae in Banhoekweg.
1951 – 1968
Op 7 Mei 1951 verskyn Deel I (A–C) van die WAT en word die redaksie tot 10 lede uitgebrei. Vier jaar later, in 1955, verskyn Deel II (D-F) en in 1958 sien Deel III (G) die lig met Deel IV (H-I) wat in 1961 verskyn. Deel V (J-KJ) volg in 1968.
Hierna vind ’n paar verskuiwings plaas en word die Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, 1973 (Wet No. 50, 1973) deur die parlement aangeneem. Die Buro van die WAT staan voortaan onder beheerraad van die WAT en bestaan uit vyf lede met verteenwoordiging van die Staat, Universiteit Stellenbosch en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
1976 – 1986
Na ongeveer agt jaar, verskyn Deel VI (KLA-KOL) in Maart van 1976. Deel VII (KOM-KOR) verskyn in 1984.
In 1986 vind daar weer eens ’n paar veranderinge plaas en word die Wysigingswet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, 1986 (Wet No. 9, 1986) aangeneem. Die beheerraad word tot ses lede vergroot, bestaande uit die Administrateur (vaste voorsitter) en die Hoofredakteur – albei ex officio-lede en nog vier lede deur die minister van Nasionale Opvoeding aangestel. Een lid verteenwoordig die SAAWK.
Die WAT betree die wêreld van die tegnologie
In 1987 en met die oog op versnelling van die saamstel van die woordeboek, begin die Buro met sy rekenariseringsprogram en strategiese ontwikkelingsplan om die WAT so vinnig moontlik tot by Z te voltooi. Vanaf 1990 versnel die tempo inderdaad met die implementering van ‘n rekenaardataprogram en in 1991 verskyn Deel VIII (KOS-KYW). In Maart 1994 word Deel IX (L) gepubliseer – dit is slegs drie jaar na die vorige deel.
Die WAT kry ’n tuiste op die internet
In 1996 word ‘n tuisblad vir die Buro van die WAT op die internet geskep en word daar begin met die insleutel van materiaal in ’n bibliografiese rekenaardatabasis. Deel X (M) verskyn op 15 November van dieselfde jaar.
Met die draai van die eeu (2000) is Deel XI ook voltooi en in 2001word ’n WAT-fees gehou om die 75ste bestaansjaar van die woordeboek te vier.
Nog enkele hoogtepunte
2003: Die Elektroniese WAT word voltooi en by die KKNK vrygestel.
Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) word gepubliseer.
2004: Die sesde hoofredakteur, dr WF Botha en die eindredakteur dr FJ Lombard betree nou die wêreld van radio en beantwoord maandeliks taalnavrae op die RSG-program, Die Tale wat ons praat.
2005: Deel XII (P en Q) verskyn.
2006: Die WAT word 80.
Sinonieme en Verwante Woorde verskyn en die Elektroniese WAT (A-Q) verskyn.
Deel I tot XII van die WAT ontvang die ATKV se Woordwystoekenning vir naslaanbronne vir 2006.
2009: Deel XIII (R) verskyn.
Die Elektroniese WAT (A-R) verskyn.
2010: Die Borg ’n Woord-kompetisie word op 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, bekendgestel.
Die hoofredakteur bied elke Vrydagoggend Woord van die Week aan in die program Monitor op RSG.
2011: Die WAT is 85!
Basic Afrikaans: The Top 1000 Words and Phrases, ’n gesamentlike projek van die WAT en die Vriende van Afrikaans, word deur Pharos uitgegee.
2012: ’n Jaarlikse Nuutskeppingskompetisie word geloods.
Daar word begin met die digitalisering van die WAT se unieke materiaalversameling van 4,5 miljoen indekskaartjies danksy skenkings van die Nederlandse Taalunie, Sanlam en Die Dagbreek Trust.
2013: Deel XIV (S-SKOOI) verskyn.
2014: Die Elektroniese WAT (A – SKOOI) word voltooi.
Die ATKV se Woordwystoekenning vir naslaanbronne vir 2014 word aan Deel XIV van die WAT gemaak.
2015: Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans en die EWA Supplement word gekombineer en as CD-ROM uitgegee.
Die Aanlyn WAT en die Elektroniese EWA word beskikbaar op die woordeboekportaal van VivA.
2016: Die WAT vier 90 bestaansjare en daar word behoorlik makietie gehou. Een van die hoogtepunte is ’n kompetisie saam met RSG en die ATKV om Suid-Afrika se gunstelingwoord te bepaal. En die wenner? Lekker – hoe dan nou anders – want Afrikaans is mos ’n lekker loslittaal.
Die Loodsprojek vir die nuwe Aanlyn WAT word bekend gestel.
Meer as 1 000 nuwe woorde en gewysigde artikels van A tot S word by die bestaande Aanlyn WAT gevoeg.
2017 – 2018: ‘n Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT word aanvaar en vyf mederedakteurs word aangestel.
2023: Deel XVII tot by T is pas voltooi en die verwagting is dat Z teen 2028 klaar moet wees.
Maar nog is dit het einde niet … elke dag word daar steeds geskryf aan die storie van Afrikaans en watter gepaste bron om die jongste woorde in op te neem.
Gaan lees gerus hier wat alles deur die jare in die kantore van die Buro van die WAT plaasgevind het, want deesdae is dié woordmense op vele ander verwante terreine en publikasies betrokke.
Bronne:
Jana Luther en die ‘nuwe woorde vir nuwe dinge in Afrikaans’ | Netwerk24
Interessant om te lees:
