In sy weeklikse rubriek wat op Netwerk24 verskyn, vertel Dana Snyman op 15 Oktober 2022, op sy wonderlike nostalgiese manier van die uitstaande tweedehandse boeke wat hy deur die jare by boektafels gekoop het. Oor die aankoop van tweedehandse boeke sê Dana in sy rubriek: “Gʼn internetsoektog na ʼn ou boek kan ooit so opwindend wees as wanneer jy ʼn boektafel sien en jy stap nader en begin soek na daardie een wat jy nog nie het nie… ʼn Boek waaraan jy kan vat en ruik; en al is daardie boek oud en verweerd bly dit iets kosbaars vir jou. Is dit nie ware liefde nie?”
Vir baie van ons bly dit een van die vreugdes in die lewe om by so ʼn boektafel te gaan stilstaan en te kyk watter skatte daar tussen die hope boeke versteek is. Dan is dit gewoonlik besonder moeilik om van so ʼn tafel af weg te draai, sonder om een van die boeke huis toe te neem. ʼn Heerlike nuwe boekemark wat boeksnuffelaars uitnooi om te kom loer, is die een by NALN in Bloemfontein. NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum bewaar reeds vir 50 jaar die Afrikaanse woorderfenis in letterkunde, musiek en toneel. Nou het hulle ook op Maandag- en Donderdagoggende ʼn unieke Boekemark waar ʼn mens kan gaan rondsnuffel. Daar is rakke vol regte, egte tweedehandse papierboeke en dr. Inge Venter, ʼn vrywillige werker, sal jou op hierdie twee oggende bystaan met jou aankope. Die museum is weeksdae oop vanaf 8 uur tot 16:00. Maak ʼn draai by NALN en help so om ons erfenis te bewaar. Vir enige navrae, stuur ʼn e-pos aan naln@sacr.fs.gov.za