Skrywers: Annelie van Jaarsveldt & Charlene Cruickshank
Deesdae hoor ’n mens gereeld van die term neurodiversiteit, maar wat is dit? Is dit ’n vorm van outisme, aandagafleibaarheid, obsessiewe kompulsiewe gedrag, angstigheid, trauma, disleksie of ‘n fobie? Dalk sensorieseprosesseringsdisfunksie? Of is dit ’n sambreelterm vir verskillende neurologiese sindrome of disfunksies?
Die kort antwoord: Neurodiversiteit beskryf die denkrigting dat mense hulle omgewing en die wêreld rondom hulle op baie verskillende maniere ervaar en daarmee omgaan en dat daar daarom nie een regte manier van dink, leer en optree is nie, met ander woorde – hoewel almal se breine soortgelyk ontwikkel, is daar nie twee breine wat dieselfde funksioneer nie en kan dit daarom onder andere ’n invloed hê op die persoon se sosiale gedrag, vermoë om te leer, gemoed/buie, konsentrasie, kommunikasie en persoonlike sorg. Die neurodiverse persoon het daarom verskillende uitdagings, maar ook unieke sterkpunte.
Neurodiversiteit is ’n ingewikkelde en uitgebreide konsep en dit is onmoontlik om alles in een artikel te dek, daarom het Afrikaans.com met die arbeidsterapeut Charlene Cruickshank, gesels en word ’n paar spesifieke punte bespreek.
Iemand op die spektrum, met AAHS, disleksie, obsessiewe kompulsiewe gedrag – die lys is lank – is neurodivers, maar ’n persoon met ’n neurodiverse breinfunksie het nie noodwendig enige tekorte of disfunksies nie en word dikwels nie so gediagnoseer nie.
Dis korrek, ja. Dit is egter noodsaaklik om te besef dat alle mense tot ’n mate neurodivers is. Die term neurodiversiteit word nou as ’n sambreelterm gebruik om bogenoemde diagnoses te beskryf met die doel om dit beter te beskryf, maar ook om etikette van die spesifieke diagnose te versag of te vermy. Die belangrikste hier is disfunksie. Daar moet vir ’n beduidende tydperk disfunksie in enige van die drie lewensfere (meestal drie) wees, naamlik sosialisering, werk/skool (leer) en persoonlike sorg. Die persoon se funksionering is dus nie optimaal volgens die spesifieke individu se potensiaal nie om die term ‘neurodivers’ te regverdig.
Wat is tipiese simptome of tekens van ’n kind met ’n neurodiverse brein?
’n Samevatting van simptome kan verduidelik word as ’n alternatiewe ervaring en persepsie van insette van die omgewing (sensories) – dit kan ’n oor- en onderreaksie op die stimuli beteken. Die maklikste is egter om dit volgens die lewensfere te identifiseer:
- Sosialisering. Swak oogkontak; onvermoë om persoonlike ruimtes te respekteer; bot spraak of onvermoë om gesprekke te inisieer, vol te hou en wedersyds te kommunikeer; ontoepaslike voel/vat aan mense of objekte; stemtoonreguleringsuitdagings (te hard of te sag); onvermoë om te sosialiseer in spesifieke sensoriese ruimtes, bv. te lig, te harde geraas, te visueel besig (“cluttered”), areas met skerp reuke, bv. die slaghuis, viswinkel of restaurant, Indiese speserye (kultuurgebonde); rigiditeit ten opsigte van deelname en benadering van ontspanningsaktiwiteite in groepverband.
- Werk/skool. Onvermoë om stil te sit vir verwagte tydperk; afleibaarheid a.g.v. klank, beligting, agtergrondsbedrywighede; disorganisasie van werkspasie of kompulsiewe netheid wat funksionering beïnvloed indien dit versteur word; vermyding van praat voor mense; spelling-, lees- en skryfuitdagings; onvoldoende prosessering van ouditiewe/verbale instruksies; tydsame prosessering van inligting wat werkspoed vertraag.
- Persoonlike sorg. Rigiede of beperkte eetgewoontes en kossoorte; rigiditeit ten opsigte van roetine – moet op ’n spesifieke tyd eet, slaap, bad of ’n spesifieke volgorde daarvan, of spesifieke metode; rigiditeit ten opsigte van kledingstukke of ontoepaslike klere vir seisoen of situasie; vermyding van higiëne take, bv. tandeborsel, hare sny, reukmiddels, seep; ouderdomsontoepaslike toiletgebruik, bv. enurese of enkuprese wat dan sosialisering en oorslaap in veral laerskoolkinders benadeel; disfunksionele slaaproetines; ontoepaslike kleredrag vir die seisoen, bv. langmou in somer en geen skoene in winter.

Jou neurodiverse kind kry dit dikwels reg om “normaal” te funksioneer in ‘n klaskamer, en is selfs van die toppresteerders, maar dit verg ongelooflike selfbeheersing en veroorsaak natuurlik stres. Na skool, by die huis (in ‘n veilige omgewing dus), val die wiele dan dikwels af en kan so ‘n kind ‘n totale uitbarsting (dalk beter bekend as “meltdown”) ondervind. Hoe lyk so ‘n tipiese “meltdown”?
“Meltdowns” is anders as die ouderdomstoepaslike vloermoere. Dit is meer intens en gewoonlik is dit ’n oorreaksie op ’n klein sneller. Dit kan emosionele, fisiese en verbale uitbarstings wees – gewoonlik ’n kombinasie. Die uitdaging vir die neurodiverse kind, is dat dit baie inspanning vereis, die neurologiese drempel toets en dan hulle veerkragtigheid inperk. ’n Klein sneller, soos iemand wat hulle ruimte betree, te hard of irriterend praat, ’n emosionele reaksie vereis wat hulle nie op daardie stadium kan gee nie, of ’n onverwagte gebeurtenis buite die bekende roetine, wat dan ’n oorreaksie tot gevolg het. Die uitbarsting is nie binne die individu se beheer nie. Om met die persoon te redeneer, raas of iets aan te bied om hom te paai (wat gewoonlik ’n vloermoer kan stop), is nie effektief nie.
Wat kan die ouer doen om die kind te kalmeer?
Om die kind te kalmeer, verg soms baie van die ouer in beide geduld en veerkragtigheid. Die kind het te midde van die uitbarsting ’n onvermoë om logies te dink of te redeneer. Dit is ’n fisiologiese reaksie van veg, vlug en/of vrees.
- Eerstens moet die ouer seker maak die kind is veilig en dat hy nie homself of ander kan beseer nie.
- As ouer moet jy jou stemtoon kalm hou en nie die gedrag kritiseer nie, eerder die reaksie verwoord en noem dat jy kan sien die kind is oorweldig. ‘n Skerp stemtoon of raas vererger die uitbarsting. Praat dus ferm, dog kalm en moet ook nie vrae vra van wat gaan help nie. Maak voorstelle.
- Verwyder die kind uit ’n baie sensoriese area.
- Vind ’n veilige, kalm area, met min sensoriese insette. Dit is belangrik om die individu se sensoriese behoeftes te ken om dit te bewerkstellig.
- Poog om diepdruk te verskaf deur die kind vas te hou en stadig te wieg, of deur ’n swaar kombers of swaar speelding op die kind se skoot te plaas.
- Stadige en diep asemhaling werk, inasem deur die neus en uitasem deur die mond.
- Dit is ook soms nodig om die aandag af te lei deur oor ’n bekende en veilige onderwerp te gesels.

Die beste is om die uitbarsting (“meltdown”) te probeer voorkom, deur na skool ’n roetine van regulasie en kalmering in te stel.
Dit lyk asof jou neurodiverse kind dikwels baat by deeltyds skool toe gaan – hulle het dus ’n dag tussen-in nodig om te reguleer. Is dit ’n goeie strategie? Of is dit beter om so ’n kind aanlyn te onderrig?
Verskillende opsies is beskikbaar vir die neurodiverse kind en dit moet individueel benader word met die kind se dokter, terapeute en die skool. Nie al die opsies is huidig beskikbaar in die publieke en/of onafhanklike hoofstroomskole nie. Daar is tans skole wat hierdie akkommodasie oorweeg, en steeds hoofstroomkurrikulums aanbied. Heelparty neurodiverse individue kan hoofstroomkurrikulums volg, maar met aangepaste omgewings wat die sensoriese en neurologiese uitdagings akkommodeer.
Ander individue benodig remediërende onderrig. Dus is formele opvoedkundige sielkundige evaluasie nodig en spangesprek met moontlike terapeute en ouers om ingeligte besluite te neem aldus die kind in staat te stel om tot sy volle potensiaal te funksioneer en leer.
Aanlyn onderrig en deeltydse skoling het voor- en nadele en weereens moet die kind se neurologiese behoeftes en addisionele diagnoses in ag geneem word. Die voordeel is dat dit die kind toelaat om in ’n gereguleerde omgewing te leer, teen ’n individuele tempo wat die individu pas, sonder sensoriese oorlading, neurologiese vereistes wat uitdagend is vir die kind se profiel. Die nadeel is dat die wêreld na skoling, dus tersiêre onderriginstansies en werkomgewings, nie altyd aangepas kan word nie.
Blootstelling aan realistiese sensoriese en neurologiese vereistes met die nodige ondersteuning en ‘toerusting’ om regulasie en akkommodasies in te oefen, is die voordeel van ‘neurotipiese’ skoolomgewings wat dus die voorbereiding is van die realistiese werkswêreld en omgewing. Daar is gevalle waar neurodiverse individue geensins in die oop arbeidsmark kan funksioneer nie, en aanpassings en spesifieke werksomgewings word dan vooruit met die nodige spanlede en ouers oorweeg. Maar indien moontlik dat ‘n neurodiverse leerder kan funksioneer in die oop arbeidsmark, maak dit keuses soveel meer.
Dus, om hulle te vroeg in ‘watte toe te vou’ voordat alle opsies in ‘neurotipiese’ omgewings probeer is, verminder dus hulle kans op sukses in ’n neurotipiese wêreld. Daar is ’n groter bewustheid van die uitdagings en meer opsies word beskikbaar, maar dit is voordelig vir die individu om die kapasiteit te ontwikkel om te funksioneer in ’n neurotipiese omgewing, sou die individu nie ’n keuse hê nie, eerder as om dit totaal te vermy. Ek wil net noem dat dit moeilike besluite is en daar is nog nie genoeg navorsing gedoen om werklik die langtermynimpak te bepaal nie.
Is daar strategieë wat in die klaskamer toegepas kan word om die kinders te help – sonder om hulle te stigmatiseer of te etiketteer?
Definitief. Dit word reeds in baie skole toegepas, veral wanneer die ouers, onderwyser/skool en terapeute as ’n span saamwerk en kommunikeer.
- Posisionering in die klaskamer kan ’n verskil maak. Skuif byvoorbeeld die kind se lessenaar verder weg van die deur (geraas), skerp lig (sonlig deur venster), indien die kind met ’n ander leerder ’n tafel moet deel (verkieslik nie), moet die ander kind georganiseerd, rustig en sterk akademies wees.
- Gereelde bewegingsperiodes. Alle kinders kan daarby baatvind, maar om disorganisasie te vermy, kan dit in klein groepies opgedeel word. Indien oorlading begin opbou, kan die kind gevra word om ’n boodskap aan ’n ander onderwyser te gaan oordra, of om iets vir die onderwyser te skuif (dit verskaf diepdruk en neurologiese organisasie).
- Sensoriese akkommodasies. Indien die kind, ouers en skool dit toelaat, bv. oorfone (om klanke te blok), donkerbril of gekleurde lense, swaar voorwerp op skoot, bv ‘lap pad’, vibrasie of swaar penne, kougom kou – hierdie is individueel vir elke leerder se sensoriese en neurologiese behoefte.
- Neurologiese akkommodasies. Byvoorbeeld, addisionele tyd, lees en toesprake word nie voor die hele klas gedoen nie, los skrif in plaas van vaste skrif. Skryf van toetse met spesiale akkommodasies, spesifiek tot die kind se diagnose.

Wat is van die terapie wat toegepas word om die neurodiverse kind te help om onder andere binne die klaskamer, ander sosiale geleenthede op die sportveld te funksioneer?
Terapie is definitief afhanklik van die individu se uitdagings en disfunksie. Afhangende van die spesieke uitdagings is spraakterapie, arbeidsterapie of fisioterapie nodig, en heelparty kere al drie op een of ander stadium.
’n Evaluasie en ondersteuning deur ’n opvoedkundige sielkundige is gewoonlik nodig, veral vir leiding ten opsigte van skoolplasing en ondersteuning vir leer- en studiemetodes. In sommige gevalle waar daar ’n spesifieke diagnose is ten opsigte van leeruitdagings, bv. disleksie, disgrafie, diskalkulie, is remediërende terapie nodig.
Vir hulp met sosialisering en sportdeelname moet die spesifieke uitdagings oorweeg word. Soms kan ’n sosialiseringsgroep voordelig wees, of spesifieke klubsport met ondersteunende deelname of blootstelling om funksionering te bevorder.
Met jou kieskeurige eters kan die hulp van dieetkundiges ook die ouers en kind baat vir riglyne rakende ’n gebalanseerde eetplan.
Wanneer behoort ouers hulle kinders vir assessering te neem?
Evaluasies moet gedoen word sodra disfunksie bespeur word. Hetsy dit sensoriese, neurologiese, of leeruitdagings is. Die kind se onderwyser in die kleuterskool, laerskool of hoërskool sal die disfunksie herken en daar sal na die spesifieke terapeut verwys word in die spesifieke veld van uitdaging. Neurodiversiteit word gewoonlik in graad R of junior- primêre fase geïdentifiseer. Veral indien die kind dit uitdagend vind om in sy of haar huidige skoolomgewing te funksioneer. Daar is egter gevalle waar die uitdagings eers later opgelet word. Uitbarstings na skool en/of angs, sonder ’n bekende rede, bv. emosionele trauma, is ook ’n goeie aanduiding dat verdere ondersoek na die onderliggende oorsaak gevind moet word en evaluasie is dan nodig.
Raad vir ouers?
Benader en hanteer uitdagings of disfunksie, hetsy rigiditeit, sensitiwiteit of sosiale uitdagings, doelgerig. Moet dit nie vermy nie, vind alternatiewe om dit te benader. Soek hulp by terapeute in wie se veld die uitdaging is. Sodra jy leiding het rakende jou kind se uitdagings of diagnose van die terapeut of dokter (gewoonlik pediatriese neuroloog, neuro-ontwikkelingspediater of kinderpsigiater), lees meer oor die veld en gesels met ander ouers wat al die pad gestap het. Daar is verskeie ondersteuningsgroepe.
Soos gewoonlik, kennis is mag. Dit is belangrik om ’n evaluasie te oorweeg. ’n Diagnose is nie ’n etiket nie, dit is meer van ’n rigtingaanwyser. Die begin van die pad om ’n gelukkige kind te hê wat tot sy eie potensiaal groei, in die omgewing wat hom/haar die beste laat ontwikkel. Met die nodige leiding, kan jy jou gereedskaptas vol maak met die nodige ondersteuningstegnieke vir jou kind, en metodes vir hantering van uitdagings in die drie lewensfere.
Diagnose gee ook riglyne in terme van watter uitdagings julle moet oorkom, en watter is minder belangrik (kies jou slagvelde) en fokus energie op areas wat vir jou en jou kind betekenisvol kan wees.
Ten slotte
Daar is nie ’n kitsoplossing nie. Dit is ’n pad wat die ouer en kind stap, en soms sien jy eers die resultate van insette, terapie en aanpassings heelwat later. Dit is bloot die kind se neurologiese samestelling en saam met die uitdagings is daar ook ongelooflike sterkpunte in hulle alternatiewe ervaring van die wêreld. Daarom het die neurodiverse kind begrip en ’n alternatiewe benadering nodig om te ontwikkel, te floreer en sy potensiaal sonder angs en uitsondering van die samelewing, te behaal.

Wees bedag op oordiagnosering, selfdiagnose en veralgemening
“Die ‘Elon Musks’ van die wêreld het neurodiversiteit populêr gemaak, en heelwat ouers sal hulle kinders as neurodivers klassifiseer, sonder dat daar daadwerklike simptome of uitdagings is. En ja, dit is moontlik dat daar sommige uitdagings is, maar ’n mens moet versigtig wees om te oordiagnoseer en te vinnig aan die wêreld te verkondig hoe moeilik dit is met hulle uitdagende kind, terwyl dit soms net ouerskap en/of minimale uitvalle is. Soms is dit makliker om ’n ‘alternatiewe skool’ te kies omdat die kind (of ouer) nie hou van die uitdagings in die middag met die uitbarstings (“meltdowns”) nie. Daar is egter ’n hele gereedskapskis om eers te probeer en die kind te bemagtig om in enige omgewing te kan funksioneer.
“Ons as terapeute se probleem hiermee is dat die pad vir die ouer en kind wat werklik neurodivers is, gewoonlik tesame met ’n formele diagnose, werklik uitdagend kan wees. Op ’n daaglikse basis is die ‘meltdowns’, sosiale uitdagings, slaapsteurnisse en angsvlakke van die kinders uitmergelend, en om dit te veralgemeen, maak hierdie ouers en kinders se uitdagings af as minder intens. Sosiale media en selfdiagnose speel ongelukkig ’n groot en negatiewe rol, maar aan die ander kant is blootstelling en bewusmaking essensieel sodat ondersteuning en inklusiewe skole en werksomgewings geskep kan word.” – Charlene Cruickshank, arbeidsterapeut
Meer oor Charlene Cruickshank
Charlene Cruickshank is ’n arbeidsterapeut en reeds 20 jaar lank in privaat praktyk. Sy het ’n B.Arb voltooi by die Universiteit van Pretoria (1999) en haar loopbaan begin by Addington Hospitaal en ’n skool vir serebraalgestremde kinders voordat sy in privaat praktyk vir pediatrie begin werk het. In 2005 voltooi sy haar opleiding in Sensoriese Integrasie (deur SAISI) en voortgesette opleiding in kinderontwikkeling. Haar opleiding en ervaring as terapeut asook ma van drie kinders, gee haar die vaardighede om kinders te bemagtig om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel met ingeligte ouers en onderwysers wat hulle ondersteun. Sy is passievol oor inklusiwiteit en neurodiversiteit. Charlene het artikels geskryf vir ouertydskrifte en bydraes gelewer vir twee gepubliseerde boeke oor sensoriese integrasie in die klaskamer, in kinderontwikkeling en die uitdagings van neurodiversiteit. Sy was ’n gasspreker op ’n televisieprogram oor kinderontwikkeling en bied lesings aan in haar veld van kennis. Charlene werk tans in ’n privaat praktyk verbonde aan twee kleuter- en laerskole waar sy kinders van so jonk as ses maande tot tienerjare behandel.
