Skrywer: Alita Steenkamp
Opgee was nooit ʼn opsie vir Kobus Olivier nie. Soos ʼn ervare openingskolwer het hy geduldig gebly en geweet vasbyt is die enigste kans op oorlewing.
In 2022 is die hele wêreld aangegryp deur die skokkende manier waarop Russiese magte die land Oekraïne ingeval het. Videomateriaal van die magtige Russiese moondheid se Oekraïense inval wat op internasionale nuuskanale gedeel is, was onstellend. Kiëf, die hoofstad van Oekraïne, was bekend as een van die mooiste stede in Oos-Europa, maar die oorlog se vernietigende spoor het die stad gou van sy skoonheid ontneem.
Op die oggend van 24 Februarie 2022 was die Suid-Afrikaner Kobus Olivier een van die mense wat deur die oorlog vasgekeer is in sy tuiste. Hy, saam met sy vier honde, het in ʼn moderne woonstelkompleks langs Peremogi-weg in Kiëf gewoon. Dit was skaars tien minute se loop vanaf die hoofstraat, Chresjtsjatik-straat, belyn met sy rye koffiewinkels, restaurante en moderne winkels. Kobus was in daardie tyd die skoolhoof van die Astor School in die Mezjigirja Nasionale Park. Hy was ook die direkteur van die Oekraïense Krieketfederasie en het ʼn opwindende program aan die gang gehad om krieket in Oekraïne op skolevlak te bevorder.
Links: Kiëf in Oekraïne word ingeval deur Russiese magte. Regs: ‘n Bomskuiling onder een van die geboue.
ʼn Angswekkende tien dae het op Kobus gewag terwyl hy en die honde in die woonstel op die sewende verdieping geskuil het. Ander inwoners van die woonstelblok kon in die veiligheid van die bomskuiling onder die gebou wegkruip vir missiele, masjiengeweervuur en grofgeskut. Kobus het nie daardie luukse gehad nie. Sy vier vierpootkinders, was te veel vir die reeds beknopte bomskuiling, en hy het die veiligheid van sy badkamer gekies as ʼn wegkruipplek. Teen die een ruit van die woonstel wat op die straat uitkyk, het hy ʼn matras staangemaak om moontlike dwaalkoeëls en skrapnel so weg te keer. Hy vertel dat dit waarlikwaar ʼn vreesaanjaende ervaring was.
“Ek het beeldmateriaal gesien van Mariopol en Gerson en die plekke waar die Russe oorgevat het. Die geboue langs die hoofpaaie is almal platgeskiet terwyl hulle met die tenks daar afgery het. Van daardie geboue is nie ʼn baksteen oor nie. Ons woonstelblok is reg langs die Peremogi-weg waarmee die Russe ook sou afbeweeg. In daardie tyd het ek vrede gemaak dat ek en my honde daar gaan doodgaan. My enigste gebed was dat ons al vyf op een slag dood sou wees, want ek het hierdie groot vrees gehad dat een van die honde dalk vermink, vasgekeer onder die bakstene van die gebou sou wees,” vertel Kobus.
Die matras, kussings en komberse teen die vensters moet die woonstel in Kijif beveilig.
Vir hom was dit van die begin af ononderhandelbaar om die honde daar agter te los. Tiekie, die oudste een van die vier, het babatjies gehad ʼn jaar nadat Kobus, sy invalide pa Kobus senior en Tiekie in Junie 2018 in Kiëf kom bly het. Hy het die drie babatjies, Jessie, Kaya en Ollie gehou en elkeen het ontwikkel in oulike brakkies, elk met ʼn eie besonderse geaardheid. Vir hom was dit op ʼn manier ʼn wonderlike band met sy pa wat toe ʼn maand of wat ná die kleintjies se geboorte oorlede is.
Toe die tyding van die dreigende oorlog hom bereik het, het van sy vriende in Dubai en Londen hom probeer oortuig om die hondjies agter te laat en te vlug. Hy het dit nooit oorweeg nie. Sy honde is sy familie en dit sou onmoontlik wees om hulle in die woonstel of in ʼn diereskuiling agter te laat.
Kobus, sy pa Kobus snr saam met Tiekie en Sherlock, die pa van die ander drie.
“Agterna klink dit dalk baie dramaties, maar ek het daai honde lief. Hulle gee sulke onvoorwaardelike liefde, en drie van die vier ken ek van die oomblik wat hulle gebore is. Gelukkig het ek my vriende se waarskuwings dat daar ʼn oorlog gaan kom, ter harte geneem en ek het niebederfbare kosvoorrade aangekoop en natuurlik water en hondekos. Nadat die klokreël ingestel is dat ons nie ons woonplekke bedags mag verlaat nie, was ek baie dankbaar dat ek voorrade opgestapel het. Ek het ook begin om video’s te deel en ek het op Instagram stories gedeel van my en die honde in die badkamer,” sê Kobus.
Uiteindelik het Warren Simpson van KFM van hierdie video’s te hore gekom en met Kobus kontak gemaak op Instagram. Hy het ʼn paar oggende in ʼn ry vir Kobus geskakel en terwyl die bomme in die agtergrond ontplof, het Kobus dan sy lot met die mense in Suid-Afrika gedeel. Dit het almal aangegryp.
Tyd om te vlug
Op 2 Maart 2022 het Kobus besef dat dit nou nie meer moontlik was om langer in die woonstel aan te bly nie. Die Russiese konvooi het Irpin binnegeval, wat bloot 15 minute se ry van sy blyplek af was. Hy het dadelik boodskappe op Facebook geplaas om te hoor of daar iemand met ʼn kar is wat hom na veiligheid sou kon neem. Om van openbare vervoer soos treine of busse gebruik te maak, sou met vier honde onmoontlik wees. Hulp het uiteindelik in die vorm van Igor opgedaag. Hy was ʼn jong man wat sokker afgerig het by ʼn skool, en het hierdie gesien as ʼn gulde geleentheid om ekstra geld te verdien. Victoria, ʼn Oekraïense vriendin van Kobus, het alles gereël en op die oggend van 3 Maart het Igor hom en die honde kom oplaai. Van daar het hy hulle na Iwano-Frankifsk geneem, sowat 240 km van die Poolse grens. Lviv, wat op die grens was, het geen blyplek meer gehad nie. Kobus het al sy besittings in die woonstel agtergelaat, want daar sou net plek wees vir hom, sy vier honde en een sak in Igor se motortjie.
“Met ons aankoms by die vlugtelingkamp in Iwano-Frankifsk, was dinge geensins beter nie. Van daar is ek na die kothuis in Glowno, Pole, wat vriende vir my gereël het en vir ʼn paar dae was ons in die paradys. Alhoewel ek gedink het ek sou ʼn tuiste kon kry in Pole, het daar nog ʼn ontnugtering gewag. Ek het reeds ʼn skoolhoupos en verblyf gehad, maar die Poolse polisie het by my opgedaag en my meegedeel dat die wet verander is. Ek is nie meer ʼn jaar se verblyf as Oekraïense vlugteling gegun nie en moes binne 15 dae uit Pole wees, omdat ek nie ʼn Oekraïense burger was nie. Ek het Suid-Afrikaanse burgerskap en sou na Suid-Afrika gedeporteer word, sonder my honde.
“In die middel van die nag het ek vir my ʼn motor gekoop en ek het die vier honde ingelaai en na Hongarye gery. Die volgende moeilikheid was toe ek deur die Hongaarse grens na Kroasië wou gaan. Kroasië was nie ʼn Schengen-land op daardie tydstip nie, maar Hongarye was wel. Omdat ek nie ʼn Schengen-visa gehad het nie, het die doeanebeheer gesê ek moet teruggaan Pole toe. Dit was egter onmoontlik. Nadat my goeie vriend, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Oekraïne, André Groenewald, tot my hulp gekom het, het ek deur die grens gekom en na Zagreb, die hoofstad van Kroasië gegaan. Ek is nou al meer as ʼn jaar hier, en ek het intussen ʼn pos gekry by die French International School in Zagreb. Solank ek hier skoolhou, is my verblyf in Kroasië gewaarborg. Myne en die brakkies sʼn.”
ʼn Dokumentêr, en toe ʼn boek
Kobus en die honde se volle verhaal word vertel in die boek Met My Honde wat onlangs deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. Kobus sê die boek het voortgevloei uit die dokumentêre film wat Stefan Enslin gemaak het. Hierdie dokumentêr, War Dogs and I, is in Desember 2022 op M-Net uitgesaai en is steeds op Catch-Up te sien. Stefan het vir Eben Pienaar by NB Uitgewers genader en gesê Kobus se verhaal is beslis een wat in boekvorm opgeteken moet word.
“Ek en Hilda van Dyk wat ʼn joernalis by Huisgenoot was, het saam die boek geskryf. Sy het my op Zoom gebel en dan praat ons ʼn paar ure lank. Ek kon alles in detail vir haar vertel en sy het dit dan in woorde op papier omgesit. Ons het seker vir amper sewe maande aan die boek gewerk. Die Engelse weergawe, Not without my dogs, verskyn in Junie op die rakke. Ek is besonder opgewonde oor die boek, want ek en Hilda het die geleentheid gehad om lekker detail oor die honde en die hele avontuur te gee. Jy leer meer oor Ollie en sy maniertjies en ook die ander en ek kon presies verduidelik waarom daar so ʼn ongelooflike sterk band tussen ons is.
“Ons is saam deur verskriklike moeilike omstandighede, maar my fokus was nooit op myself nie. Ek het die hele tyd net die honde se veiligheid in my kop gehad. Hulle het my ongelooflik baie gehelp in daardie maand vandat die eerste bomme ontplof het, totdat ons uiteindelik in Zagreb aangekom het.”
Op die vraag wat hy anders sou doen as hy weer in dieselfde situasie was, antwoord Kobus gou: “Absoluut niks nie.” Hy sê selfs nou, wanneer hy dink aan daardie angstige tyd, weet hy hy sal weer dieselfde keuse maak. Vandag is hy en die vier honde gelukkig in Zagreb en elke druppel sweet en trane was ongetwyfeld die moeite werd.
Die verhaal van Kobus en sy honde is voorwaar ʼn wonderlike verhaal wat enige diereliefhebber sal aangryp. Ten slotte sê Kobus dat hy baie dankbaar is oor ʼn nagmerrie-ervaring wat uiteindelik ʼn wonderlike leerkurwe was.
“Ek het ʼn paar dinge geleer en dit is in die eerste plek om nooit moed op te gee nie. Daar is ʼn gesegde wat lui: ‘Waar groot liefde is, gebeur wonderwerke.’ Ek het dit absoluut gesien hierdie afgelope jaar. Dit was voorwaar nie klein wonderwerkies nie.
Met tye het alles onmoontlik geraak, maar dan het ek gekies om op die Here te vertrou, en in myself te glo. My loopbaan as ʼn krieketspeler was ook van groot waarde. As openingskolwer moes ek gereeld vinnige boulers trotseer. Boulers soos Brian McMillan en Eric Simons. Daar het ek al geleer ʼn mens gee nooit op nie, dis nie ʼn opsie nie. In die eerste paar boulbeurte met die nuwe bal moet jy geduld hê. Daarsonder gaan jy dit nie maak nie.
“Nog ʼn wonderlike ding wat hierdie ervaring my geleer het, is die goedheid van mense. Mense wat ek nie eers ken nie. ʼn Middeljarige vrou wat in Indië van my storie gehoor het, het op ʼn dag drie duisend euro in my rekening betaal. Dit was drie maande se leefgeld. Sy was maar een van baie onbekende weldoeners. Van my krieketvriende in Dubai, Engeland en Suid-Afrika het in my PayPal-rekening inbetaal, wanneer ek bloot net 5 euro in die bank gehad het. In Kroasië moes ek byna ʼn volle jaar oorleef sonder ʼn salaris, beslis nie ʼn maklike taak nie, maar danksy mense se goedheid, en die Here se genade, is ek en my honde hier om die storie te vertel.”
ʼn Nuwe lewe vir Kobus en die vier honde in Kroasië, Kobus skroom nie om die vier saam te neem op uitstappies nie.
Wie is Kobus Olivier?
Kobus Olivier het vir ongeveer 20 jaar lank klubkrieket in die Westelike Provinsie en Boland gespeel. Hy is ʼn ervare openingskolwer. Sy krieketloopbaan het hom ook na Engeland geneem tydens die Engelse somer, vir meer as elf jaar lank. Hy het ook in Skotland en Holland klubkrieket gespeel het. Hy was ook vir 14 jaar lank die direkteur van krieket by die Universiteit van Kaapstad. Nadat sy pos as sportorganiseerder by ʼn skool in Kaapstad oorbodig verklaar is, het ʼn paar maande van swaarkry voorgelê. In die tyd het hy sy baie siek ma versorg. Ná haar dood het ʼn wonderlike geleentheid oor sy pad gekom. Hy is aangestel as die uitvoerende hoof van Kenia Krieket. ʼn Jaar later is hy en sy pa Dubai toe waar hy ook die direkteur van krieket was. Hy was ook ’n LO-onderwyser by die Kings’ School Al Barsha.
In die vier jaar in Dubai het hy en die Indiese draaibalbouler Ravichandan Ashwin ook ʼn krieketakademie begin en groot sukses daarmee gehad. Die Dubaise hitte was egter vir hom te veel en hy het gesoek na ʼn nuwe bestemming om ʼn lewe te begin. Hy het sy hart op Kiëf in Oekraïne verloor, en in Junie 2018 het hy saam met sy pa wat toe in ʼn rolstoel was, en die hond Tiekie na Oekraïne verhuis. Alhoewel hy gedink het sy krieketdae is verby – hy het bloot ʼn onderwyspos aanvaar – het krieket hom vinnig weer gevind en voor sy vlug uit Oekraïne, was hy die direkteur van hierdie land se krieketfederasie. Ongelukkig het die oorlog krieket in Oekraïne van die tafel gevee.