Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer matrikulante begin droom oor die groot aand: die matriekafskeid. Selfs al beplan ʼn leerling niks buitensporig of uitspattig nie, is die geskikte uitrusting vir so ʼn belangrike geleentheid ietwat aan die duur kant en nie almal kan dit bekostig nie. RSG in samewerking met 7de Laan het tans ʼn welwillendheidsprojek aan die gang waarby ʼn matriekseun en matriekdogter kan baat. Die garderobe van die televisiesepie 7de Laan sal spesiaal ʼn rok en ʼn pak klere maak vir ʼn gelukkige meisie en seun wat dit verdien. Enigeen kan ʼn seun of dogter nomineer wat as gelukkige wenner die prys kan ontvang. Nominasies vir verdienstelike kandidate kan gestuur word aan info@rsg.co.za.
In jou e-pos moet jy die volgende inligting verskaf:
Wie nomineer jy?
Wanneer is die persoon se matriekafskeid?
Nomineer jy ʼn seun of ʼn meisie?
Het jy daardie persoon se toestemming om sy of haar storie te deel?
Skryf ook ʼn motivering waarom jy die betrokke individu wil nomineer om hierdie daad van welwillendheid te ontvang.
Dalk kan jy op hierdie manier help om die drome van ʼn matriekleerling, oor ʼn baie spesiale aand, waar te maak.
Vir meer inligting besoek https://www.rsg.co.za/rsg/ Sluitingsdatum van hierdie projek is 30 Mei 2023.
Jy kan nie jouself nomineer nie, en die individu se matriekafskeid moet plaasvind tussen Augustus 2023 – Desember 2023.