Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die onregmatige deel van e-boeke maak die Afrikaanse boekebedryf dood.
Die afgelope week of wat het dit weer gegons op sosiale media oor die “groepe” op sekere sosialemediaplatforms wat boeke in pdf- of ander formate beskikbaar stel aan elke Jan Rap en sy maat – gratis, verniet, mahala, pasella!
Ja, sê diegene wat saamlees … dis dan so gerieflik. En ek kry die geleentheid om al die jongste boeke van my gunstelingskrywers te lees … en dit kos my nie ‘n sent nie! Jy weet mos hoe lief is ek vir my taal. Ons verstaan ja … so lief dat jy besig is om Afrikaans stadig maar seker dood te maak. Nog erger, diegene wat hulleself hieraan skuldig maak, maak nie net die Afrikaanse boekebedryf dood nie, maar haal letterlik die kos uit ons skrywers se monde.
Kopieregskending: Wêreldwye tendens
Die onregmatige deel van digitale boeke, tydskrifte, musiek en so meer is nie nuut nie. Dit gebeur reeds jare lank, maar dit is juis daarom dat ‘n mens nie net kan oë toemaak en anderpad kyk nie. En dit is hoekom Afrikaans.com hierdie tendens ook onder ons volgers se aandag bring en ons skrywers en kunstenaars ondersteun – want ons gee om … trouens, ons gee sommer baie om … vir ons taal en ons skrywers, musici en kunstenaars.
Toegegee, baie mense is oënskynlik onbewus daarvan dat dit onwettig is, en dink dis binne elkeen se reg om gratis, digitale inligting te bekom, maar juis daarom is dit nodig dat ‘n mens iets daadwerkliks doen en bewustheid skep van hierdie onding wat telkens sy verwronge kop uitsteek. Daar is ‘n verskil tussen inligting wat digitaal beskikbaar is teenoor inligting (of dan ‘n boek) wat gratis en sonder toestemming gedeel word.
Wat nog interessanter is, is dat die grootste sondebokke dikwels juis kan bekostig om boeke, tydskrifte en musiek te koop en dat dit blyk dat die verskoning dikwels die gerief daarvan is en die oortuiging dat hulle niks verkeerd doen nie en eintlik ander mense “help”. Boonop, as jy elke maand geld het vir luukshede (en dit sluit vir talle van ons boeke in) en jy kan nou een item van jou kooplysie afhaal om jou bederfgeld op iets anders te bestee, dan is dit mos vanselfsprekend dat jy gaan inkoop op hierdie “ongelooflike” aanbod – aanlyn gratis “aankope” – lekker, en jy hoef sowaar nie eers jou kosbare brandstof uit te ry of jou sweetpakbroek uit te trek nie!
Is boeke en musiek te duur?
In ’n land soos Duitsland word boekpryse gereguleer en blyk dit dat boeke goedkoper is daar en dus meer bekostigbaar vir die gemiddelde leser. Lees ‘n mens opmerkings van mense oor die onbekostigbaarheid van sekere boeke in Suid-Afrika wil dit lyk asof ons boeke waarskynlik te duur is vir die meeste lesers (en ’n mens het begrip hiervoor) en moet die meeste van ons maar wag om die boek op uitverkoping te koop of by die biblioteek uit te neem. Uitgewers en bemarkers vertel egter die ander kant van die storie. Om ‘n boek te maak en dit dan boonop winsgewend aan die mark te lewer, kos ‘n aardige bedrag en is dit een van die redes hoekom ons boeke so duur is. Nou ja, duur is ook relatief.
Net kortliks
- ‘n Mens kan nie sommer net boeke en so meer onderworpe aan kopiereg goedsmoeds deel of versprei nie – dis onwettig.
- Kopiereg is geldig vir 50 jaar – bereken vanaf eerste publikasie.
- Resensies en studiemateriaal is uitgesluit – uittreksels mag daarin verskyn – maar met verwysing na bronne.
- Die eienaar van kopiereg het alleenreg om
- kopieё te maak en te verkoop (dit sluit elektroniese kopieё in);
- eie werk in- of uit te voer;
- werke wat daarmee verband hou, te skep;
- die werk in die openbaar op te voer (in geval van musiek, toneelstuk, ens.); en
- die regte te verkoop of aan ander toe te ken.
Huidig is daar nie enige standaard manier om kopiereg vir e-boeke te beskerm nie en lê die onus by die vervaardigers en uitgewers om met hulle eie metodes vorendag te kom om die verspreiding en onregmatige kopiёring van sodanige e-publikasies te beheer en te beskerm.
Wat staan jou te doen as jy die slagoffer is van kopieregskending?
- Gaan lê ‘n klagte by die polisie binne jou jurisdiksie – daar waar jy woon. Strafregtelike stappe is gratis.
- Dis is raadsaam om beёdigde verklarings by regsgekwalifiseerde persone af te lê alvorens die verklarings aan die polisie oorhandig word. Die rede hiervoor is dat die konstabel in die aanklagtekantoor waarskynlik minder as niks weet van kopieregskending nie – dit is werklik nogal ’n ingewikkelde storie.
So, maak ‘n saak!
Dis goed en wel, maar hofsake kos geld en tyd en daar moet uiteindelik onomwonde bewys kan word wat die verlies aan inkomste is en/of was. Hoe bepaal ’n mens dit as die gratis rondstuur van e-boeke (op party groepe soveel as 13 000 titels) nie beheer kan word nie? Waar kom die geld vandaan as ’n mens se potensiёle inkomste as gevolg van die kopieregskending in elk geval amper nul is nie? Trouens, daar is skrywers wat as ’n direkte gevolg van hierdie praktyke potensieel tot soveel as tweederdes van hulle inkomste verloor!
“(Die feit) dat sommige skrywers slegs gedeeltelik afhanklik is van hulle inkomste uit skryfwerk, verander niks aan die feit dat hulle staatmaak op die inkomste uit hulle skryfwerk nie – skrywers skryf om den brode.”
– Charl-Pierre Naudé
Nee, die meeste van ons skrywers is nie ryk nie en verdien nie derduisende uit hulle boeke nie – en dit sluit van ons topverkopers in. Topverkopers in Suid-Afrika kan spog met drukoplae van ongeveer 10 000 boeke. So maak die som – 12%-tantième op ’n boek is beslis nie ’n fortuin nie en ons praat nie eers van diegene met kleiner drukoplae nie. Dink hier aan digters. Digbundels en kuns- of handwerkboeke is op ’n nismark gerig en daarom is die drukoplae klein en die inkomste dus minimaal. Nou hoekom dan enigsins skryf? Vir die liefde van die saak – omdat jy lief is vir Afrikaans – omdat jy graag jou kennis deel! Dit is mos absurd.
En die uitgewers?
Daar is wel uitgewers wat saamstem dat hulle dit sal moet verder vat om ons skrywers te beskerm en die bedryf te red. Party uitgewers is ook reeds maande lank besig om ondersoek in te stel en is van plan om klagtes te lê teen e-plunderaars.
Wetsontwerp op Kopiereg
“Die Wetsontwerp in sy huidige vorm beskerm nie ons kunstenaars en skeppers ten opsigte van die kopiereg op hulle oorspronklike werk nie en ontneem hulle dus om ’n inkomste uit hul kuns te verdien.”
“Wat betref die beskerming van outeurs se intellektuele eiendom is dit belangrik om kennis te neem van verwikkelinge ten opsigte van die betrokke wetgewing. Suid-Afrika se Wet op Outeursreg dateer uit 1998 en is dus verouderd. Weens ‘n behoefte aan beter beskerming van die intellektuele eiendom van mense in die skeppende bedrywe is die Wet dus hersien, maar ongelukkig voldoen die wysigingswetsontwerp op Outeursreg van 2017 nie aan die verwagtinge en gestelde vereistes nie en is verskeie aspekte daarvan problematies. Na heelwat prosesse is die wetsontwerp in Junie 2020 deur die president terugverwys na die Nasionale Vergadering. Die Koalisie vir Effektiewe Kopiereg wat bestaan uit skrywers, uitgewers , musici, komponiste, musiekmaatskappye, kunstenaars, ens. probeer dus steeds om ‘n effektiewe en billike kopieregbedeling te bewerkstellig.” – Aldus ‘n prominente uitgewery.
Ja, die publiek sal dalk potensieel voordeel trek uit die wysigingswet omdat hulle dalk minder gaan moet opdok om ‘n boek of handboek of musiek aan te skaf, maar wat van die skeppers en skrywers – hulle moet tog toegelaat word om behoorlik vergoed te word vir hulle werk. Die voorgestelde wysigingswet swaai dus die balans tussen skepper en verbruiker ten gunste van die verbruiker. Nog ‘n rede wat gegee is vir die heroorweging is die kwessie van grondwetlikheid van die wet wat blykbaar ter sprake is.
Hoe ‘n mens ook na die saak kyk, een ding is seker: As daar nie opgetree word nie, is dit nie net ons skrywers en die hele kreatiewe bedryf wat daaronder gaan ly nie – ons taal, ons ryk kultuur, ons plaaslike kennis en werk gaan daaronder ly.
(Die Wet op Kopiereg is ’n ingewikkelde storie en iets waaroor die uwe liewer nie te veel wil sê nie. Verwys asseblief na die skakels onderaan die artikel as jy meer wil lees.)
Jy kan ‘n verskil maak
Ons doen ’n ernstige beroep op ons mede-Afrikaanssprekendes en/of ondersteuners van ons taal en kultuur – doen iets daadwerkliks. Moenie deel raak van ’n apatiese kultuur van baie praat en niks doen nie. As elkeen van ons net binne ons eie sosiale groep optree en mense daarop wys dat dit verkeerd is om digitale boeke gratis rond te stuur, kan ons begin om ’n verskil te maak. Doen ons dit nie, lyk die toekoms vir ons Afrikaanse uitgewersbedryf en veral vir die skeppers van boeke, donker … om die minste te sê.
Bronne:
Skrywers en uitgewers wat deur kopieregskending geraak word. Klik hier.
Jo Prins op Netwerk24: Boekdiewe besig om biblioteek af te brand. Klik hier.
Melt Myburg op Litnet: Afrikaans word dood gesteel. Klik hier.
Regskenners oor kopiereg en intellektuele eiendom. Klik hier.
Chennupati Kodand Ramaiah oor die verskillende kwessies wat verband hou met die kopiereg van e-boeke, soos die “Digital Millennium Copyright Act” en hoe dit betrekking het op e-boeke, probleme waarmee uitgewers en andere te kampe het en moontlike oplossings. Klik hier.
Gaan lees gerus ook oor kopiereg, wat dit is, die Wet op Outeursreg, billike gebruik en meer hier.
Vir vrae oor kopiereg wat gereeld opduik, gaan kyk hier.
Oor kopiereg, klik hier.
Die Wet op Outeursreg 98 van 1978, klik hier.
Kyk ook:
Skrywers pleit by lesers om hulle boeke te koop en outeursreg te beskerm – soos gedeel op PEN Afrikaans se Facebookblad gedurende die 2020-inperking.
Lees gerus die plasing op Sidney Gilroy, skrywer van Klikbek, Middernag en Vlam, se blad oor die onwettige deel van inhoud: