Chané Grobler is een van Suid-Afrika en Afrika se grootste TikTok-sterre. Met meer as 2.4 miljoen volgers, het dié plat-op-die-aarde-20-jarige uit Pretoria dit reggekry om te doen waaroor baie mense net kan droom: om ‘n voltydse handelsmerk en besigheid op die been te bring as sosialemediabeїnvloeder (social media influencer). Maar, dit het nie sommer so gebeur nie … Chané is bedag, doelgerig, en glo in die waarde van jouself wees om raakgesien te word.
Hierdie artikel vorm deel van ‘n reeks om hierdie Augustus merkwaardige vroue te vier. Hierdie reeks beoog om vroue van verskillende agtergronde, ouderdomme, en passies uit te lig. Elk van die vroue, alhoewel talentvol in verskillende aspekte, word spesifiek uitgelig oor een kernfokus, maar ons brei ook uit oor hulle menswees. Ons het ten doel om deur ‘n gesellige en positiewe gesprek die luisteraar of leser in staat te stel om die persoon beter te leer ken en ook iets by hulle te kan leer.
Ons het met haar gesels om meer te leer en hopelik jou as leser of luisteraar te bemagtig om ook sosiale en digitale media vir opwindende moontlikhede te ontgin. So, hoe kry ‘n mens dit reg om 2.4 miljoen volgers op TikTok te kry en byna 100 000 op Instagram … en boonop ‘n winsgewende besigheid daardeur te bedryf? Kom ons vind uit!
Chané in haar eie woorde. Luister die volledige onderhoud hieronder!
Hoe het hierdie reis begin, waar het dit begin, hoe lank het dit geneem, en waar staan jy nou?
Ek het in 2014 op Musical.ly begin … Dis later oorgekoop en het TikTok geword. Aanvanklik het ek geen van my video’s publiek gemaak nie. My ma het my toe oortuig om dit wel te doen … en toe het ek vir ‘n lang tyd drie likes op my video’s gehad: my ma, ouma, en broer.
Uiteindelik het ‘n video wat ek gedoen het op die VSA se For you-blad verskyn – dis soos ‘n gunstelingeblad wat jou inhoud aan ‘n groot gehoor mense wys. Stadig maar seker het die volgers begin opbou. Dinge het veral vanaf 2017 momentum begin kry. Ek sou sê dit het sowat drie en ‘n half jaar geneem om van 100 000 volgers in 2017 tot 2.4 miljoen in 2021 te groei. Ek is baie dankbaar daarvoor!
Hoe skep ‘n mens goeie inhoud?
Dis ‘n onmoontlike vraag! Maar, die kort antwoord is om net jouself te wees en waar te bly aan die dinge waarvoor jy staan. Mense kom baie vinnig agter as iemand vals of aansitterig is. Daar is ook nie ‘n standaard tipe inhoud wat vir elke persoon gaan werk nie – wees jouself en wees trots daarop! Sommige trends, solank dit sin maak vir jou gehoor en binne jou ‘’handelsmerk’’, kan ook help dat jy raakgesien word.
Hoe belangrik is die tegniese aspekte van inhoud skep?
Dinge soos beligting, goeie redigering en so meer?
Kom ek stel dit so … ek het al meer as ‘n miljoen volgers gehad voordat ek my eerste ring light aangeskaf het. Natuurlike sonlig is jou beste maat. En, as ek in die aand moes video’s neem, het ek sommer my lessenaarlampie gebruik. Moet dus nie jou kop te veel breek oor die tegniese aspekte of dit in jou pad laat staan nie.
Hoe kan ‘n mens moontlik inkomste verdien uit sosialemediaplatforms soos TikTok?
TikTok is glad nie soos Youtube waar iemand deur die platform self betaal gaan word omdat hulle video’s sekere hoeveelhede views kry of omdat advertensies vooraf op die video’s gewys word nie. Dis minstens nie hoe dit hier in Suid-Afrika werk nie. Indien iemand ‘n redelike groot gevolg opbou of byvoorbeeld met ‘n sekere kwessie assosieer word, kan hul egter deur handelsmerke genader word vir borgskappe. Dit kan iets so klein wees soos ‘n kunstenaar wat jou vra om ‘n dans op een van hul nuwe liedjies uit te werk teen ‘n klein bedrag. Dit kan ook onderhandelings met groot besighede insluit. Dit is egter nie iets wat ‘n mens noodwendig aktief kan najaag nie … Fokus op goeie inhoud en om ‘n lojale gevolg te vestig, en die res sal heel moontlik volg. Ek is ook baie spesifiek in die tipe borgskappe waarvoor ek instem. As ‘n mens elke keer instem wanneer iemand ‘n betaling aanbied, sal jy naderhand jou gehoor se vertroue verloor en ook verwarring skep binne die tipe inhoud wat jou volgers verwag. Die hooffokus moet dus nooit finansieel wees nie.
Jy as Chané is jou eie handelsmerk … watter uitdagings gaan daarmee gepaard en hoe verskil jy as mens van wat mense dalk mag dink of aanneem van jou blaaie af?
Mense is gereeld verbaas deur hoe gewoon en plat op die aarde ek is. Hulle verwag iemand wat baie meer high maintenance gaan wees. Net soos enigiemand anders, is ek bloot ook mens.
Een van die grootste voordele, maar ook nadele van sosiale media is die nabyheid van jou gehoor.
Jy het al genoem dat mense angstig raak as jy vir ‘n dag of wat nie plasings maak nie … Hoe trek mens lyne tussen jou gehoor gelukkig hou en persoonlike balans?
Ek moet sê ek raak al beter daarin … die gehoor verwag nie noodwendig dat ek meer elke dag iets plaas nie. Dis belangrik om lyne te trek en ook ander dinge te prioritiseer – sosiale media kan ‘n mens mal maak. Ek is bloot streng met myself daaroor … al was ek ook nie altyd nie. Soos ‘n mens besiger raak, het jy nie noodwendig tyd om elke dag inhoud te skep nie. En dis ook oukei.
Mens hoor gereeld van persone wat die slagoffer word van aanlyn teistering of boeliery …
Het dit al met jou gebeur? Hoe hanteer mens dit?
Elke dag, nou nog! Ek wil graag hê dat my platforms ‘n plek moet wees van positiwiteit … iewers waar mense veilig voel. Ek duld dus nie negatiwiteit of boeliegedrag nie. Eerder as om deel te neem daaraan of te probeer terug antwoord, sal ek sulke volgers blok.
TikTok is geweldig gewild onder skoolgaande persone veral … Jy is ‘n rolmodel vir duisende jong mense op jou blad.
Tot watter mate is dit belangrik vir ‘n beїnvloeder (influencer) om hul gehoor in ag te neem met die tipe inhoud wat geskep word?
Ongelooflik belangrik! Ek dink nie mense besef aldag hoe groot invloed en impak jy op die mense het wat jou volg nie. Ek is baie bewus daarvan om ‘n goeie voorbeeld te probeer stel en my waardesisteem te volg wanneer dit by inhoudskepping kom. Daar is byvoorbeeld gereeld trends wat ek doodeenvoudig voor sê: nie my gehoor of handelsmerk nie. Weereens, weet wie jy is en hou daarby. Onthou ook om inhoud te skep wat ouderdomsgepas is vir jou gehoor – jy kan op TikTok kyk hoe oud jou volgelinge gemiddeld is. Stel ‘n goeie voorbeeld.
Jy is genomineer vir ‘n Nickelodeon Kids Choice-toekenning Vertel ons meer daarvan.
Ek het aanvanklik gedink iemand trek my been! Maar, ek is toe benoem vir die African Internet Star of the Year Award. Ek het grootgeword met Nickelodeon en om deur hulle raakgesien te word was onwerklik. Alhoewel ek nie gewen het nie, bly dit ‘n groot eer.
Enige laaste gedagtes of advies aan iemand om sosiale en digitale media vir die bou van ‘n persoonlike handelsmerk te gebruik?
Weereens wees net jouself. Anders as dit … probeer! Waag die kans! Begin inhoud skep, maak video’s, doen wat jou bang maak … Niks groei in ‘n mens se gemaksone nie en jy weet nooit watter deure wag om oop te gaan nie.
Wat hou die toekoms in?
Ek wil graag aanhou bou en groei … wie weet dalk as ‘n aanbieder eendag. Ek is ook baie passievol oor geestesgesondheid en sal graag as ‘n spreker by skole wil optree om mense byvoorbeeld te leer oor sosialemedia-etiket. Daar’s nog baie dinge wat ek graag wil doen!
Dit is wonderlik dat daar Suid Afrikaners en meer spesifiek Afrikaners is wat sukses op die sosiale platforms en ook Internasionaal behaal. Baie geluk Charne met die Kids choice nominasie. Trots op jou en dit lyk of jy alreeds dink aan die toekoms na die sosiale media ontploffing. Dis altyd my bekommernis dat die jongmense nie moet vasklou aan hulle sukses hier en nou nie. Verandering is onafwendbaar en wat nou die inding is kan in ‘n oogwink verdwyn en daarmee saam jou inkomste.