Skrywer: Alita Steenkamp
Die begeerte om betekenisvol te lewe en van die wêreld ’n beter plek te maak, het by d Johan Beukes posgevat toe hy maar nog in die laerskool was. Hierdie lewens- en leierskapsafrigter wat mense op ʼn daaglikse basis help om hul daargestelde mikpunte te behaal en terselfdertyd optimaal te presteer, het voorwaar by hierdie doelwit van hom uitgekom. Vir 23 jaar lank werk Johan met duisende plaaslike en internasionale leiers, spanne en organisasies en neem hy hulle na ʼn punt aan die ander kant van sukses. Die plekke waar hy sy kennis oordra en mense bystaan en help, wissel tussen maatskappye, skole en universiteite en niewinsgewende organisasies. Vir Johan is dit besonder lekker om hulle saam met hom te neem op ʼn leierskapsavontuur.
IN STUDIO MET JOHAN BEUKES
Luister saam om meer te leer oor:
• Leierskap by die huis en werk
• Uitbranding: tekens en hoe om dit te vermy
• Optimale benutting van jou gawes en talente
• Johan se gunstelingboeke
• Gewoontes wat sy menswees verryk
Dr. Johan Beukes verklap ʼn paar interessante feite oor homself en die pad wat hy tot dusver geloop het in hierdie video. Sy diep begeerte om ʼn betekenisvolle verskil in die wêreld te maak, kom duidelik na vore.
Dr. Johan Beukes verwys na Steve Jobs, die Amerikaanse entrepreneur en eienaar van Apple wat op ʼn dag sy werk verloor het voordat hy uiteindelik sukses behaal het. Hy vertel hoe Jobs hierdie uitdaging oorkom het en gee wenke aan enigeen wat tans in dieselfde bootjie is.
Wanneer ʼn mens in ʼn situasie beland waar jy jou werk verloor het, verg dit kreatiewe denke om nie in ʼn gat te beland nie. Dr. Johan Beukes verwys in hierdie video hoe jy so ʼn situasie moet benader sodat jy geleenthede kan raaksien om dit om te keer.
Johan vertel dat hy nogal gewonder het hoe hy by daardie droom van hom, om van die wêreld ʼn beter plek te maak, gaan uitkom. Komende van ʼn klein dorpie was die loopbaanopsies maar min en hy het altyd gehuiwer of hy nou ʼn dominee, prokureur, dokter of skoolhoof moes word. Uiteindelik het sy keuse op teologie geval. Dis egter nie waar hy opgehou studeer het nie. Johan het ook ʼn honneursgraad in bedryfsielkunde, ʼn M Phil in leierskap, ʼn doktorsgraad in opvoedkundige sielkunde en talle ander leierskursusse gedoen onder meer by INSEAD Besigheidskool en Harvard Universiteit. Hy was vir ʼn tydperk in die bediening en was onder meer ʼn leraar by die Studentekerk in Bloemfontein en die Mosaïek-gemeente in Johannesburg. In 2011 het hy egter die bediening verlaat en hom voltyds op leierskapsontwikkeling toegespits.
“Vir diegene wat my vra wat my werk van dag tot dag behels, sê ek altyd dat alles verband hou met daardie kleintyd begeerte van my om ʼn betekenisvolle verskil in die wêreld te maak en mense se lewens positief te beïnvloed. Ek sit op ʼn daaglikse basis met individue, spanne en organisasies en vind by hulle uit watter doelwitte hulle vir hulself stel. Dan word daar planne in plek gekry hoe hulle daarby kan uitkom. Hopelik kan hulle dan uiteindelik ná ʼn tydperk voel dat hulle suksesvol is en doen wat hulle moet doen. Dis veral vir my lekker wanneer ek na tien, of selfs 20 jaar iemand raakloop wat vir my sê dat iets wat ek in ʼn bepaalde sessie vir hulle vertel het, ʼn besluit tot gevolg gehad het wat lewensveranderend was,” sê Johan.
Johan vind sy werk besonder vervullend en sê dat hy dit graag sal wil doen tot die dag wat hy nie meer hier op aarde is nie. Die woord “aftree” bestaan nie in sy woordeskat nie, daarvoor geniet hy sy werk te veel. Sy planne vir die toekoms is bloot net om aan te hou doen waarmee hy tans besig is, en om dit net nog beter te doen. Vir Johan is dit ʼn persoonlike hoogtepunt elke keer wanneer iemand, of mense in ʼn span of in ʼn groot organisasie, hulle lewens vir hom oopmaak en hy die tyd gegun word om hulle te help om ʼn plan vir hulle pad vorentoe uit te werk.
Johan lag wanneer hy gevra word of die huidige elektrisiteitkrisis in ons land hom ook soms moedeloos maak. “Moedeloos is veels te sag. Ek dink gatvol sê presies wat ons almal voel en indien jy nie so voel nie, het jy tred met die realiteit verloor. Ek moedig mense aan om in kontak met hulle realiteit te kom, maar dan moet jy iets doen. Jy moet besluit waaroor het jy beheer, en waaroor het jy geen beheer nie. Nie een van ons het beheer oor die beurtkragskedules nie, maar ons kan besluit hoe ons daaroor gaan reageer. Elkeen moet ʼn plan hê om sy doelwitte te bereik en kos op die tafel te sit. Indien dit dan van jou gaan verg om die land te verlaat, dan moet jy dit doen. Hopelik is daar ander wat metodes soos sonkragpanele of ander groen-energie kies om te kan doen wat hulle moet doen. Indien jy in die posisie is waar jy nie regtig so swaar deur beurtkrag geraak word nie, kan jy besluit op watter maniere kan jy diegene help wat wel erg daardeur benadeel word.”
Johan en sy gesin woon in die Paarl en sy vrou is ʼn onderwyseres by een van die skole. Dis vir die gesin heerlik om soms in die berge te gaan stap. Wanneer beurtkrag toeslaan, geniet hulle dit om bordspeletjies te speel of te lees. Johan is self baie lief vir muurbal en speel dit ʼn paar keer per week. Hy draf ook wedlope in die berge en hou van reis.
Vra ʼn mens Johan wat die dinge is wat hom werklik gelukkig maak, kom die antwoord vinnig, sonder om te veel daaroor te dink:
“Dis die klein dingetjies in die lewe: ʼn mooi sonsopkoms, ʼn asemrowende sonsondergang, om in my kinders se oë te kan kyk, om saam met my vrou iets besonders te doen, om gesond te wees, om te kan lees en oefen. Iets anders wat my ook baie gelukkig maak, is om in mense se teenwoordigheid te wees en saam te kan luister en saam te kan droom. Soms om saam in pyn te sit. Dis daardie noue band tussen my en my familie, of my en ʼn span of organisasies, wat die lewe die moeite werd maak.”
Besoek www.johanbeukes.com om meer oor hom te wete te kom.
Volg hom op Facebook https://www.facebook.com/jabeukes1/
of Instagram https://www.instagram.com/jabeukes/?hl=en
Stuur ʼn e-pos aan jb@johanbeukes.com
Het jy al ooit daaraan gedink om rustig te kyk na die foto’s wat jy oor die afgelope jaar op jou foon gestoor het? Dalk sal jy kan sien of jou lewe te volgeprop was met onnodige dinge. Dit bied ook aan enigeen die geleentheid om te reflekteer oor ʼn paar dinge. Die een ding is beslis om dankbaar te wees oor geleenthede wat oor jou pad gekom het, sê dr. Johan Beukes.
Net 20 % mense slaag daarin om hulle nuwejaarsvoornemens te bereik. Waarom kry hulle dit reg en die ander 80% misluk? Dr. Johan Beukes maak sin van die hele proses van voornemens maak en gee wenke hoe jy dit kan regkry om ook suksesvol te wees met die bereiking van hierdie doelwitte.