Die Kanna-toekennings, wat jaarliks kreatiewe uitnemendheid by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees beloon, het op Vrydagaand 5 Mei op die wynlandgoed Leopard’s Leap naby Franschhoek plaasgevind.
Die nimlike Lyntjie Jaars was die aanbieder van die geleentheid waartydens dertien toekennings oorhandig is.
Die plekspesifieke toneelstuk Mirre en Aalwyn van Nicola Hanekom, het vanjaar uitgeblink en drie Kannas verower. Hierdie stuk is vir sewe Kannas benoem. Mirre en Aalwyn is op ʼn plaas net buite Oudtshoorn aangebied met Amalia Uys, Daneel van der Walt, Gretha Brazelle en Alyssa van Reenen in die onderskeie rolle. Die skoonheid van die Klein Karoo dra by tot die regte atmosfeer vir hierdie verhaal oor ʼn jong vrou wat terugkeer na haar ouerhuis. Die drie toekennings vir hierdie toneelstuk het gegaan aan Nicola Hanekom as beste regisseur. Die teks is as beste literêre bydrae tot die KKNK vereer en dit is ook aangewys as die beste toneelaanbieding op vanjaar se fees wat vanaf 1 tot 9 April in Oudtshoorn plaasgevind het.
Vanjaar se Kanna vir die beste musiekaanbieding het gegaan aan David Kramer se Ver in die wêreld Kittie. Hierdie musiekblyspel van David Kramer vertel die verhaal van die groot sukses wat die sangpaar Josef Marais en Rosa de Miranda in die 1950’s oorsee met Suid-Afrikaanse liedjies gehad het.
Die akteur Dawid Minnaar het ʼn Kanna-toekenning vir beste vertolking ontvang vir sy spel in Reza de Wet se drama Mirakel. Vir ʼn tweede jaar in ʼn ry het Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl die Kanna-toekenning vir die beste kinderteateraanbieding ontvang vir hulle stuk Liewe Heksie vang vis.
Grant Swanby, Nicola Hanekom (Mirre en aalwyn) en Henét de Villiers van die Het Jan Marais Nationale Fonds © Natalie Gabriels Photography
David Kramer, André Terblanche, Renaye Kramer en Dean Balie (Ver in die wêreld Kittie) © Natalie Gabriels Photography
Neil Coppen (links) en Craig Leo (regs) van Droomkraan Kronieke, saam met Peter Dorrington van Herotel (middel) © Natalie Gabriels Photography
Yolisa Mlungwana (links) en Johann Kruger (regs) van Absa, saam met Liza Grobler (middel) © Natalie Gabriels Photography
Dawid Minnaar (Mirakel) en Wicus Pretorius © Natalie Gabriels Photography
KKNK se Kanna trofees. © Natalie Gabriels Photography