Kinders vind gou aanklank by Bazoo, die vriendelike bergskilpad. Sy outentieke stories het eenvoudige storielyne wat afwagting skep en dit ’n interaktiewe leeservaring maak. As kinders geniet waarmee hulle besig is, vind leer spontaan plaas en as mens net klein bietjie meer tyd spandeer om oor ’n storie te gesels voor jy begin lees, kan hulle soveel meer uit die storie kry!
Een van die grootste uitdagings waarmee hedendaagse grondslagfase-onderwysers te kampe het, is die samestelling van hulle klasse. Die graad 1-leerders wat voor juffrou op die mat sit, kom uit verskillende areas, het verskillende agtergronde en praat dikwels ook verskillende moedertale. Nou moet die kinders begin lees en boonop met begrip en dit is hier waar innoverende onderrig ter sprake kom. Maar watter hulpmiddels en apparaat is beskikbaar en waar kry ’n mens hulp?
Ebony Books uitgewers het hierdie leemte raakgesien, met onderwysers en geletterdheid-spesialiste hande geneem, en ’n eg Suid-Afrikaanse produk, die Bazoo Gedifferensieerde Leesreeks, ontwikkel!

Hierdie reeks is so saamgestel om leesonderrig net daardie bietjie makliker te maak en om die boekies te gebruik is sommer baie pret. Die geliefde illustreerder, Fred Mouton, se unieke styl lok reaksie uit wat lei tot interessante gesprekke rondom die storie en karakters. Bazoo, die hoofkarakter, is ’n bergskilpad wat in Fynbosstraat 5 op Tafelberg woon. Hy en sy vriende maak ons meer omgewingsbewus, veral van die Kaapse Floraryk, die kleinste dog rykste floraryk van die wêreld se ses plantkoninkryke! Daar is Dempies, Nala, Bob en Zak – dassie, naaldekoker, kees en slak, asook Fiebie die Fynbosfeetjie wat graag ’n rooibosteetjie drink! Ebony Books wil met hulle leesreeks ‘n waardevolle bydrae lewer vir almal om te leer lees en die genot van egte stories te ervaar!

Lees het baie met selfvertroue te doen. Om te leer lees saam met Bazoo en sy vriende, is die ideale manier om kinders se selfbeeld te bou. Soos alle skilpaaie is Bazoo maar stadig, maar hy kom ook uiteindelik by sy bestemming uit. Net so leer die kinders wat uitdagings rondom lees ervaar ook stadiger, maar omdat hulle Bazoo as voorbeeld het, weet hulle dat hulle ook by hul eindbestemming gaan uitkom en kort voor lank self sal kan lees. Soos die refrein wat Bazoo in “Die Reptielresies” herhaal: “Ek kan, ek kan, ek weet ek kan!”
Begeleide lees met ’n kinkel
Die Bazoo Gedifferensieerde Leesreeks bestaan uit ses titels en elke titel het leesboekies op vier vlakke. Agterin elke leesboekie is pretaktiwiteite om onder andere perseptuele vaardighede te versterk, selfvertroue te bou en vaslegging op ’n speelgebaseerde manier te doen.
Vlak 1:
Woordlose boekies.
Met behulp van die illustrasies, maak kinders hulle eie sinne en skep dus self die teks. Ook die uitskieters kan die boekies gebruik, want hulle het die vermoë om hulle eie teks en sinne te maak en neer te skryf.
Vlak 2:
Dieselfde geïllustreerde storie, maar nou is daar eenvoudige teks by.
Vlak 3:
Hier is die sinne meer uitgebrei.
Vlak 4:
Geskik vir diegene met goeie blootstelling en begrip.

Positiewe selfbeeld kweek waagmoed
Al die leerders werk met dieselfde titel. Dit beteken dat, ongeag die leerder se vlak van lees, almal met dieselfde storie werk – die moeilikheidsgraad verskil net. Dit skep onmiddellik eenvormigheid in die klas en niemand voel dat hulle nie deel is van die klas of nie goed genoeg is nie.

Onderwyserboeke
’n A4-grootte boek vir die onderwyser met ekstra wenke (opvoedertwiets) en woordeskatlyste. Vlak 1 en 2 is in een boek en Vlak 3 en 4 in nog ’n boek.
Swart-en-wit-spogboekies
Hierdie boekies is die kind se eie en kan huis toe geneem word. Die boekies het dieselfde illustrasies (swart-en-wit) as die oorspronklike storieboek wat in die klas gelees word en fungeer op twee skryfvlakke. Daar is prentjies om in te kleur en die name en teks kan nagetrek word.
Die weergawe sonder teks is ook ideaal vir visuele geheue en herroeping. Die kind het te make met dieselfde prentjies en storie, maar kan die teks uit die skoolboekie kopieer en so skryfvaardighede ontwikkel. Kinders op ’n hoër funksioneringsvlak kan ook die prente gebruik om ’n eie storie te skep.
Die Klank- en Letterspeurders dra by tot visuele en ouditiewe sluiting
Die Klank- en Letterspeurders boeke is geskoei op dieselfde karakters soos in die oorspronklike stories, maar fokus meer op klankleer. Klanke word bekendgestel deur ’n interaktiewe sessie waar die kinders wonder oor, raai, speletjies speel en self hul lyf speurder hou om uit te kom by watter klank volgende behandel word. Daarna werk leerders in hul werkboeke wat ’n verskeidenheid klankaktiwiteite en vasleggingspeletjies saamvat in een boek.

Bazoo Leesklub
Die Bazoo Leesklub word binnekort op die been gebring en almal wat die Bazoo-inhoud gebruik, is outomaties deel van die klub. Beste praktyke sal gedeel word en nuwe aktiwiteite en produkte sal eerste aan lede bekendgestel word. ’n Ideale ondersteuningsplatform om met opvoeders en ouers te kommunikeer!
Bazoo lekkerluister stories & liedjies!
Die waarde van luisterstories moet nie onderskat word nie. Veral in die tyd waarin ons nou leef, waar kinders afhanklik geword het van visuele voorstellings op skerms. Met luisterstories oefen kinders om te luister en te verstaan wat hulle hoor, ‘n waardevolle bydrae tot latere leesbegrip.
Bazoo het 25 oulike dierestories wat in die motor, in die huis of eintlik enige plek geluister kan word! Kinders visualiseer wat hulle hoor en maak dus self prentjies in hulle koppe wat verbeelding ontwikkel. Woordeskat word uitgebrei en gestimuleer en daarmee saam verbeter taalgebruik.
Naas sy liefde vir stories en lees, is hierdie skillie ook lief vir dans! Bazoo maak elke oggend litte los op sy eie dansliedjie – Die Bazoomba – wat bydra tot grootmotoriese ontwikkeling en
sy Leesliedjie benadruk die feit dat lees nuwe wêrelde ontsluit!
Bazoo se stories en liedjies is beskikbaar op Spotify & Apple Music deur hierdie skakel te volg:
https://distrokid.com/hyperfollow/bazoostories/bazoo-se-fynbosbuurt-avonture
https://distrokid.com/hyperfollow/bazoo2/bazoo-songs
Tans is die Bazoo-leesreeks beskikbaar in Afrikaans, Engels en isiXhosa.
Vir meer inligting, besoek die webtuiste by https://www.ebonybooks.co.za/bazoo-differentiated-reading