Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Is jy lief vir Afrikaans in al sy vorme? Dan het ons goeie nuus. Op 8 Mei 2025 is Afrikaans as amptelike taal ‘n volle 100 jaar oud.
Maar, soos dit nou maar is, is een feesviering nie genoeg nie en is daar besluit om gedurende die volgende twee jaar Afrikaans op verskeie maniere en platforms te vier. Sommer net om almal die geleentheid te gee om te deel in die vreugde. Hou dus die media en Afrikaans.com se sosialemediaplatforms dop in die volgende 24 maande en kyk hoe jy ook kan deel word van hierdie belangrike gebeurtenis en boonop dalk ’n paar rand kan wen.
Afrikaans kom van ver af
Afrikaans is ‘n taal wat op drie kontinente ontwikkel het: In Europa (Nederland), in Afrika (17de-eeuse Hollandse dialek) en in Asië (slawetaal).
“Ons glo dat Afrikaans se wortels teruggaan op die Nederlandse verlede, maar ons toon ook duidelik aan die invloede (ander tale, normale taalverandering, oorlog, politiek) wat alles daartoe gelei het dat ‘n nuwe taal (nie Nederlands nie) in Afrika volwassenheid bereik het en uiteindelik in 1925 as ‘n amptelike taal erken is. Hierdie taal se verbintenis met Afrika word bevestig deur die taal se unieke naam – genoem na die kontinent waar dit ontwikkel het: Afrikaans.” – Prof Wannie Carstens tydens die bekendstelling van die boek, Die storie van Afrikaans.
Volgens navorsing wat in 2017 gedoen is, is Afrikaans nie ‘n klein taal nie, maar tel onder die 110 grootste tale (uit 7 099 tale) in die wêreld. En vir diegene wat so graag sê dat Engels dié wêreldtaal is, is daar ook nuus. Die taal met die meeste sprekers ter wêreld is Mandaryns. Afrikaans verdien daarom sy plek afgesien van die druk waaraan die taal elke dag blootgestel word. Ja, die druk kom uit verskeie oorde en Afrikaans trek steeds swaar aan ‘n negatiewe politieke verlede, maar is dit genoeg rede om te glo dat die taal aan die kwyn is? Elkeen wat lief is vir die taal en sy kultuur, kan ‘n bydrae lewer en saam skryf aan die toekoms van Afrikaans. Sê prof. Carstens: “Hou op om te wag op ‘iemand’ om Afrikaans namens jou te ‘red’ – jy moet dit self red deur jou optredes.” Daarom moet ons aanhou om Afrikaans te praat en te gebruik, ons moet sonder aggressie aan die taaldebat deelneem en betrokke raak en deel word van die aksies vir Afrikaans. Soos nou met die aanloop tot die 100 jaar vieringe.
Die ontstaan van Afrikaans
Kanja van der Merwe skryf in ‘n artikel op Studenteplein dat ons hedendaagse Afrikaans tussen 1900 en 1930 ontwikkel het, maar dat “die oorsprong van die taal terugdateer na die koms van Jan van Riebeeck in 1652”, en dat die taal uit 17de-eeuse Hollandse seemanstaal ontwikkel het. Die drie variëteite van Afrikaans wat uiteindelik onstaan het, was:
- Kaapse Afrikaans soos deur die slawe gepraat en met ‘n sterk godsdienstige inslag soos deur die Moslemgemeenskap gebruik, maar ook onder invloed van Maleis en Portugees,
- Oranjerivierafrikaans van die Khoi (hulle het al teen einde van die 18de eeu reeds Afrikaans gepraat), en
- Oosgrensafrikaans van die veeboere wat “sedert 1836 deur nedersetters aan die ooskus van Suid-Afrika gepraat is” en uiteindelik die “fonologiese, morfologiese en sintaktiese basis van Standaardafrikaans gevorm het”.
Van der Merwe skryf in dieselfde artikel dat Afrikaans in Namibië gebruik is “as moedertaal, handelstaal, regstaal, lingua franca en taal van onderwys en godsdiens”. In die Noord-Kaap het die Khoi Griekwa-Afrikaans gepraat en is die taal so in amptelike dokumente gebruik.
Aan die einde van die 19de eeu was Afrikaans steeds net ‘n omgangs- en spreektaal en Standaardafrikaans en die Afrikaanse skryftaal het eers hier aan die begin van die 20ste eeu ontwikkel, en geleidelik is daar “voldoende afstand tussen Nederlands en Afrikaans geskep om Afrikaans as ‘n afsonderlike, funksionele taal te erken”.
Enkele hoogtepunte uit die vormingsjare van Afrikaans
1800’s: Een van die eerste variëteite van Afrikaans was Kaapse Afrikaans wat deur veral die oudslawe in die Kaap gepraat is. Aangesien die meeste van hierdie mense die Moslemgeloof aangehang het, is die taal sterk deur Arabies en die Moslemkultuur gekleur. Hierdie mense was verantwoordelik vir die eerste geskrewe Afrikaans toe hulle die Arabiese alfabet begin gebruik het om in Afrikaans te skryf.
1861: Die eerste Afrikaanse boek word deur Louis Henri Meurant geskryf.
1875: Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) word in die Paarl in die lewe geroep met die hoofdoel om die Bybel in Afrikaans te vertaal.
1914: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) begin om Afrikaanse spelling te standaardiseer. Afrikaans is nou ook ‘n amptelike skooltaal en die Akademie stel die Hertzogprys vir Letterkunde in.
1917: Die eerste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word gepubliseer. In 2017 verskyn die 11de uitgawe reeds.
1919: Die eerste Afrikaanse vroueblad verskyn: “Die Boervrou”.
1925: Afrikaans word een van die amptelike tale van Suid-Afrika.
1926: Die eerste uitgawe van die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) verskyn.
1929: In opdrag van die FAK sien talle Afrikaans-Engelse terminologiewoordelyste die lig.
1930: Die eerste tweetalige Afrikaans-Engelse woordeboek verskyn.
1931: Die eerste Afrikaanse klankrolprent, “Moedertjie” word vervaardig en Chris Blignaut van “Ou Ryperd”-faam verkoop 55 000 langspeelplate.
1932: Op 27 Oktober is die eerste Afrikaanse hofuitspraak in die appèlhof in Bloemfontein gelewer.
1933: Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling verskyn.
1942 – 1959: Afrikaans is gevestig by vier universiteite as wetenskapstaal. Dit is ook gedurende hierdie jare dat Afrikaans gevestig is as taal in die staatsdiens, die geregshowe, die letterkunde, in rolprente en die uitsaaibedryf.
1965: Die eerste uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) verskyn.
1975: Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl word ingewy en vier die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans.
1994: Afrikaans word een van 11 amptelike tale in Suid-Afrika.
Afrikaans is dus nie sommer net ‘n hierjy-40-mense-praat-die-taal, ‘n kombuistaal, of ‘n agterspeentaal nie – daarvoor het Afrikaans en sy sprekers vir te lank reeds geswoeg om die taal sy regmatige plek te laat volstaan. En dit is daarom dat almal wat lief is vir Afrikaans die taal in al sy vorme en variëteite moet koester. Want Afrikaans is lekker!
Vir meer inligting oor die vieringe, klik op een van die skakels hieronder:
- Afrikaans 100 – Mediaverklaring
- Afrikaans 100 – Toespraak
- Theuns Eloff: 100 jaar van Afrikaans in 2025 gevier
Bronne:
PR 222 Ontwikkeling van Afrikaans volledige tydlyn
Die volle verhaal van Afrikaans in een boek! – Afrikaans.com