Ons almal loop op dieselfde aarde is die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se tweede projek in die idiomereeks oor die vier natuurelemente. Die eerste weergawe het gefokus op water; hierdie uitgawe fokus op die aarde, en wind en vuur sal in die toekoms die lig sien. Met hierdie tema wil hulle die unieke verskynsel vier dat verskillende tale en kulture ’n gemene deler in die natuur vind. Die SBA wil ook erkenning gee aan die feit dat die aarde ’n lewensbelangrike rol in ons elkeen se bestaan speel. Die idiome en uitdrukkings herinner ons aan die uiteenlopende geografiese landskappe van Suid-Afrika en aan ons gesamentlike verantwoordelikheid om ons omgewing te bewaar. Die vier tale in Ons almal loop op dieselfde aarde – Afrikaans, isiXhosa, Engels en Setswana – bied elk ’n reeks idiome waarvan die wortels binne elke spesifieke taalkonteks lê. Hulle het telkens probeer om ’n ekwivalent vir elke idioom in die ander tale te voorsien. Omdat idiome en spreekwoorde so diep binne ’n sekere kultuur gewortel is, moes hulle egter in sommige gevalle tevrede wees met ekwivalente wat slegs rakelings ooreenstem. In hierdie gevalle het hulle hul deur die betrokke tema van die idiome laat lei. Laai die volledige sakgids hier af [link: https://sbafrikaans.co.za/wp-content/uploads/2022/08/SBA-Aarde-Idiome-digitaal-volledig.pdf]
Die bestaande boek is aangevul deur kort, gedramatiseerde klankgrepe wat wys hoe die idiome in Afrikaans in die mond van die spreker lewe kry.
Afrikaans.com het met die SBA hande geneem vir die samestelling van kunswerke wat die idiome uitbeeld, hetsy letterlik of figuurlik. Ons moedig onderwysers en leerders aan om hierdie hulpbron deel van jou klaskamerervaring te maak.
Wie is die SBA?
In 1992 is ’n Afrikaans- Geletterdheidstrust gestig om spesifiek in die Wes-Kaap Afrikaansgebruikers in veral plattelandse gemeenskappe, te bemagtig. Uit hierdie trust is die SBA gestig. Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Klik hier vir die SBA-historie van Stigting tot 2019-boekie.
Geletterdheid omsluit alle kommunikasievaardighede wat verwerf word op grond van gesproke en geskrewe taalvaardighede en wat noodsaaklik is vir die uitlewing van volle menswaardigheid op alle lewensterreine. Die SBA-projekte word saamgestel en ontwikkel om te help met nasiebou deur Afrikaans, en ingeboude veeltaligheid is ’n belangrike komponent daarvan.
Besoek die SBA se webuiste om meer te leer.