Skrywer: Alita Steenkamp
Praat met enigeen wat gereeld met sy of haar neus in ʼn boek sit, en hulle sal kan getuig van die vreugde wat boeke bring.
In haar boek, How reading changed my life, sê die Pulitzer-pryswenner Anna Quindlen: “Boeke is die vliegtuig, en die trein, en die pad. Hulle is die bestemming en die reis. Hulle is ʼn tuiste.”
Op Sondag 23 April vier ons Wêreldboekedag. Hierdie dag word elke jaar spesiaal uitgesonder om boeke en die plesiere van lees te vier. Dana Snyman, een van ons land se gewildste skrywers, se reis met boeke het al as ʼn jong seuntjie begin. Daar was baie boeke in hulle huis, onthou Dana, maar baie daarvan was op sy dominee-pa se boekrak en dus nie juis leesstof vir ʼn seuntjie nie. Tog het die baie tydskrifte in die huis, en die koerant wat daagliks afgelewer is, sy leeslus aangewakker. As laerskoolseun het hy die dorpsbiblioteek gereeld besoek en so al die reekse soos Trompie, Jasper, Die Uile en Keurboslaan van hoek tot kant gelees. Later het Dana ook sy ma se Audrey Blignaut-bundels van die boekrak gehaal en een van haar boeke wat ʼn blywende indruk op hom gemaak het, is Die eindelose avontuur: ʼn Venster op die wêreldletterkunde.
“Vir my is lees ook ʼn eindelose avontuur” sê Dana.” Soms wens ek ek kan aftree en vir die res van my lewe net sit en lees. Boeke is so ʼn groot deel van my lewe. Tans is ek op reis terwyl ons aan ʼn televisieprogram skiet, en ek het op die pad alreeds ʼn paar boeke gekoop. Ek word sommer kwaad wanneer mense sê boeke is te duur. ʼn Nuwe boek kos jou dalk R200 of R300, maar daarvoor kan jy nie eers gaan uiteet indien julle twee persone is nie. 80 persent van die boeke wat ek besit, is tweedehandse boeke wat ek by Hospice-winkels, die DBV of een van die talle tweedehandse boekwinkels in ons land uitsnuffel. En dan is dit die beste van die wêreldletterkunde. Daar is dus nie ʼn verskoning om nie boeke te koop nie.”
Een van die boeke wat sy lewe verander het, is die boek The Outsider van Colin Wilson wat hy in die vroeë tagtigerjare gekoop het. Dana was toe so 20, 21 jaar oud. Hy het in ʼn buitekamer in Arcadia, Pretoria gewoon, en het die dag daar in die buitekamer die boek oopgemaak en begin lees. In die boek kyk Wilson na allerhande outsiderfigure in wêreldletterkunde. Die heel eerste sin in hierdie boek lui: “At first sight, the Outsider is a social problem.”
“Daardie dag het ek die spreekwoordelike hoendervleis gekry. Vir die eerste keer het ek geweet wie ek is. Ek is ʼn outsider wat altyd buite die kring gestaan het. Dalk het die feit dat ek ʼn enigste kind was daartoe bygedra, maar ek was altyd eenkant. Vir die eerste keer het ek myself beter verstaan, en daar het ʼn groot verandering in my gekom.”
Vir Dana lê die vreugde van boeke daarin dat ʼn mens so dikwels iets van jouself in ʼn boek herken. Dit sit jou aan die dink.
Dana sê ʼn goeie skrywer vind woorde vir die gevoelens wat jy soms net vaag in jou eie lewe ervaar. ʼn Skrywer laat jou dinge raaksien wat jy andersins sou miskyk. Die vreugde lê beslis in die eindelose avontuur waarop boeke jou neem.
Sy eie skryfwerk is vir Dana dan ook ʼn heerlike avontuur. Hy skryf om gelees te word, maar sê reguit dat daar geen dieper betekenis of simboliek in sy skryfwerk lê nie. Indien daar wel is, is dit heel toevallig. Vir hom is sy skryfwerk ʼn manier om na die wêreld te kyk met genade: ʼn oop oë gebed.
Op Wêreldboekedag is Dana se boodskap: “Lees net. Koop boeke. Jy kan by ʼn tweedehandse boekwinkel die wonderlikste boeke vir R40 koop. Lees net en vertrek op daardie eindelose avontuur waarvan Audrey Blignaut praat. Ons lewe in hierdie vinnige tye waarin ons net wil prentjies sien, of ʼn TikTok-video. Ek kom agter my eie aandagspan word ook al hoe korter. Ons moet dit nie toelaat nie. Gun jouself die plesier om rustig te verkeer en vir ʼn uur of twee net te sit en lees. Dit is beslis op my lys om nog voor die einde van die jaar Fjeodor Dostojefski se The Brothers Karamazov te lees. Teen Junie, Julie is die meeste van my werk vir hierdie jaar gedoen, en dan kan ek hopelik in die rustigheid en stilte van Kaapsehoop sit en lees. Ek wens ek kan more begin!”