Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ek het gesels met ‘n ma van ’n 10-jarige seun wat met angs en OKS gediagnoseer is. Sy leef elke dag saam met die realiteit van hierdie steuring en het haarself deur kursusse en navorsing bemagtig om hom na die beste van haar vermoë te help en begrip te hê vir sy gedrag. Die res van die gesin en uitgesoekte vriende is ook baie ondersteunend.
Eerstens wil sy net beklemtoon dat alhoewel die toestand moeilik is om te hanteer, dit beslis behandel kan word en ’n mens ’n lewe sonder OKS kan lei, mits jy die regte terapie ontvang.
Hoe vroeër die diagnose, hoe meer kans op sukses. Op die stadium gebruik hulle ook nie medikasie nie. Een van die redes is dat medikasie nie sommer vir ’n 10-jarige voorgeskryf word nie (in die VK), behalwe as hulle selfdoodneigings openbaar.
Volgens haar, is die hantering van OKS strydig met alles wat jy voel reg is vir jou kind. Wanneer jou kind onbeheersd huil en sê dat hy bekommerd is oor iets en jou moederlike instink skop in en jy wil die kind gerusstel en troos, is dit juis wat jy nie moet doen nie. Jy moet inderwaarheid met hom saamstem en bevestig dat so iets wel kan gebeur.
Hier is haar storie:
Waar het dit begin? Ek veronderstel dit het begin met angstigheid ten tyde van die Covid-pandemie. Ek het agtergekom dat hy herhalende gedrag en patrone getoon het – deur goed te tel, of hy sou regtig ontsteld word as hy na die horlosie gestaar het en ek het gepraat voordat die tyd verander het. Hy het nie verstaan hoekom hy so gevoel het nie, maar ek het onmiddellik besef wat aangaan. Ek het besluit om daaroor met hom te gesels en byvoorbeeld gesê: “Ek het opgelet jy doen dit …” Die geselsies het hom regtig gehelp, want hy het begin praat daaroor en vertel van al die goed wat hy moet doen en hy verstaan nie hoekom hy dit moet doen nie, maar as hy dit nie doen nie, het hy gevoel iets vreesliks gaan gebeur. Ek het aan hom verduidelik waaroor dit gaan en dit het gehelp en hy het begin om openlik daaroor te praat. Omdat hy dit verstaan het, kon hy die spesifieke gedrag stop – natuurlik is dit steeds ’n onafgehandelde proses, maar in terme van die tellery en patrone het hy dit reggekry om daardie gewoontes te laat vaar.
Dit probleem met OKS is, jy kan dit net met sogenaamde blootstellingsterapie stop (“exposure therapy”), m.a.w. om dit wat jy nie wil doen nie, te doen.
As jou brein dus vir jou sê om tot 25 te tel, dan dwing jy jouself doelbewus om dit nie te doen nie. Dit is natuurlik ontsettend moeilik, maar na twee of drie keer, breek dit wel die siklus. Ongelukkig verskuif dit opnuut na iets anders, maar dit is OKS – dit gaan nooit weg nie – jy leer bloot om dit te bestuur en daarmee saam te leef.
Met hom is dit die hele tyd daar – selfs al het hy opgehou met die patrone en tellery. Dit het nou net verskillende vorme en die angs en obsessiewe gedagtes het oor die algemeen meer geword. Tog het die gesprekke vroeër gehelp, want nou kan hy oor elke nuwe ding wat met hom gebeur, praat – met die terapeut, maar ook met my. Hy het dus eienaarskap geneem en besef: “Ek het OKS en dit is my OKS wat veroorsaak dat ek dit doen.” Dit help, want hy is bewus dat dit nie werklik is nie en dat dit sy gedagtes is. Tog maak dit nie enige verskil terwyl hy midde-in die situasie is nie, want op daardie oomblik is hy steeds oorweldig en ontsteld. Ek glo egter dat dit dalk erger sou wees as hy nie besef het wat besig is om te gebeur nie.
Tydens hierdie proses het ek self besef ek het ook OKS – ek het gedog dit is net angs, maar die patrone, tellery, of “as jy nie dit doen nie, gaan die persoon byvoorbeeld sterf” en so aan, is wat my gedagtes oorheers het toe ek jonger was en selfs nou nog van tyd tot tyd. OKS is baie uniek en anders as ander soorte angstigheid omdat dit daaroor gaan om obsessies te hê en dan word dit kompulsies – dinge wat jou brein jou dan vertel jy moet doen. Jy het dus ’n indringende gedagte en dan die kompulsie om iets te doen en so oortuig jy jouself: As jy dit doen, sal daardie ding nie gebeur nie.
’n Voorbeeld van tipiese gedrag:
’n Gesinslid verlaat vroegoggend die huis op pad werk toe. Die OKS-lyer is angstig dat hy nie gaan terugkom vanaand nie. Hy glo nou: As ek die persoon dophou wat die huis verlaat en ek sien hom wegstap en hou dop totdat ek hom nie meer kan sien nie en hy kom dan later veilig terug huis toe – en het die dag oorleef – dan is dit omdat ek daardie ding gedoen het (hom dopgehou het). Dit is wat my brein my vertel. Die feit dat ek hom dopgehou het, is die rede hoekom hy in een stuk huis toe gekom het. As ek dit nie doen nie, sal hy beslis iets oorkom! Dít is die soort siklus waarin die OKS-lyer vasgevang word.
Blootstelling- en responsvoorkomingsterapie
Dit blyk dat blootstelling- en responsvoorkomingsterapie die beste resultate lewer in die behandeling van OKS.
Hier is ’n voorbeeld: ’n Vrou wat bang was sy gaan haar man doodmaak en wat daarop aangedring het dat al die messe toegesluit word voordat sy kon gaan slaap, want sy het geglo sy kan dalk in haar slaap loop, ’n mes in die hande kry en hom doodmaak – dit was die tipiese indringende gedagtes wat sy gehad het.
Haar behandeling het die volgende behels: Eers moes sy die laai waarin die messe gebêre word, ongesluit los, daarna moes sy een mes op die toonbank los, en so aan. Daarna moes sy met ’n mes onder haar kopkussing slaap, ensovoorts. Terapeute glo dat dit die enigste manier is om die OKS te kul, want dit breek die siklus. Jy doen iets en dan vertel jou brein jou dat omdat jy dit gedoen het, is jy veilig en omdat jy dat gedoen het, het jy nie jou man met ‘n mes gesteek nie. Dit is die rede en nie die feit dat jy hom in elk geval nooit met ’n mes sou steek nie. Jou rasionele denke weet dit is nie waar nie, maar dit is wat die OKS jou laat voel en juis daarom is dit moeilik om te behandel en te hanteer.
OKS-lyers kan nie onsekerheid hanteer nie. Hulle vrees dit wat hulle nie weet nie. Hulle dink dus: “Ek kan dit nie hanteer dat ek nie weet nie, daarom sal ek ‘n manier vind om die situasie te beheer, of ek vertel myself ek kan dit beheer deur dit of dat te doen – en as ek dit doen, sal dit nie gebeur nie.”
’n Voortdurende saga – een tree vorentoe, twee treë terug
Soms gaan dit beter, ander kere weer slegter. Dis ’n daaglikse stryd en die belangrikste is om dit te leer bestuur. En dit verander … so dit is geweldig ontstellend vir alle betrokkenes. Maar ons werk daaraan. Ek het ook baie hieruit geleer. Wat ek wel kan sê: Dit is werklik moeilik vir kinders, want hulle het nie die kognitiewe begrip en ontwikkeling wat nodig is nie en daarom is dit vir hulle uiters angswekkend en voel dit werklik en groot en rampspoedig. Daarom voel die kind hy moet ’n mate van beheer hê en dit vind hy deur kompulsiewe rituele toe te pas.