Die toekoms van Afrikaanse nuus

Tuis 5 Weet dit 5 Taalnuus 5 Die toekoms van Afrikaanse nuus
Afrikaanse nuus

In ʼn berig wat op Netwerk24 verskyn, doen Murray La Vita volledig verslag oor ʼn gesprek wat gevoer is as deel van die Praat Saam-diskoersreeks op vanjaar se KKNK. Die onderwerp van hierdie gesprek is: Is die nuusaanbod in Afrikaans voldoende? Die deelnemers aan hierdie gesprek was Theresa Olivier, adjunkredakteur van Netwerk24, Nicolene de Wee, uitvoerende regisseur van RSG se nuus- en aktualiteitsprogramme en emeritus professor Johannes Froneman, mediakommentator en kurator van die digitale mediamuseum mediamense.com. Jody Hendricks was die gespreksleier.

Die volgende 10 punte som die gesprek op:
  1. Netwerk24 sal altyd bly groei en daar sal altyd ʼn soeke wees na nog nuus in Afrikaans, aldus Theresa Olivier.
  2. Die oorgrote meerderheid van mense wat Afrikaans praat is bruin en veral op die platteland en ons gaan beslis nog lank ʼn Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika hê. – Theresa Olivier.
  3. Die diversiteit binne die gedrukte nuusaanbod het drasties verminder in die laaste paar jaar weens die talle publikasies wat toegemaak het, aldus prof Froneman.
  4. Die Burger, Beeld en Volksblad is vir alle praktiese doeleindes streekuitgawes van wesenlik dieselfde nuusinsamelingsproses. – Prof Froneman.
  5. In die uitsaaimedia gebeur daar baie positiewe dinge met meer as 200 gemeenskapsradiostasies wat ook in Afrikaans uitsaai.
  6. Die nuutste navorsing wat onder RSG-luisteraars gedoen is, toon aan dat 64% van die luisteraars graag na nuus wil luister, aldus Nicolene de Wee.
  7. Die Afrikaanse aanbod op die uitsaaimedia is wesenlik beter as die aanbod in die 80’s.
  8. Gedrukte Afrikaanse koerante is amper geskiedenis, maar die radio is ʼn ander storie, aldus prof Johannes Froneman.
  9. Daar het talle digitale nuusplatforms bygekom soos Netwerk24, maar ook Maroela Media en AfriNuus.
  10. Die nuusaanbod het dus verskuif van gedrukte media na uitsaai en digitaal.

Die gesprekspaneel was dit eens:

Solank as wat daar mense is wat Afrikaans praat, sal Afrikaanse radio geluister word, en sal mense honger wees om nuus in Afrikaans te kry.

by | Apr 14, 2023 | Taalnuus, Weet dit

Deel hierdie plasing