Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Hier is riglyne hoe ouers en onderwysers kan help.
Ons gesindheid teenoor wiskunde word direk aan ons kinders oorgedra en kort voor lank sit ons met ‘n kind wat bang is vir die vak en nie die selfvertroue het om te probeer nie. Maar, dis nooit te laat nie en met die nodige aanmoediging en hulp, kan die meeste kinders wiskunde baasraak.
Die meeste van ons het een of ander staaltjie of klaaglied oor wiskunde en sekere wiskunde-onnies wat óf die vak uitstekend kon oordra, óf wat so kwaai was dat dit onmoontlik was om enige iets in te neem. Party van ons “haat” wiskunde tot vandag toe en baie glo eenvoudig wiskunde is en was nooit vir hulle nie. En dit is juis die dilemma, want ons gesindheid teenoor die vak word direk aan ons kinders oorgedra en kort voor lank sit ons met ‘n kind wat bang is vir die vak en nie die selfvertroue het om te probeer nie. Kyk ‘n mens na die statistiek en die feit dat Suid-Afrika tweede laaste op die wêreldranglys vir wiskundeprestasie is, is dit noodsaaklik dat ons die wiskundemonster vierkantig in die oë kyk en vir eens en vir altyd wys ons kán!
Dit is juis hier waar ouers ‘n groot rol kan speel, want afgesien van wat jou ervaring was, daar is deesdae soveel hulp en raad beskikbaar dat die meeste van ons kinders goed kan vaar in Wiskunde, veral as ons hulle toelaat om in hulle moedertaal onderrig te word. Dit is een van die beste maniere om jou kind te bemagtig om kognitiewe begrippe en moeilike konsepte onder die knie te kry en juis omdat hulle akademiese taal op peil is weens moedertaalonderrig, raak hulle ‘n vak soos wiskunde makliker baas.
In onlangse episodes van die RSG-program, Groeipyne, is hierdie kwessie juis bespreek en gee prof Corné Kruger (medeprofessor in vroeëkinderontwikkeling en onderwys by die Noordwes-Universiteit se Opvoedkundefakulteit) riglyne oor wat ouers en onderwysers kan doen om kinders van kleins af en in die grondslagfase meer te leer en nuuskierig te maak oor die wonder van getalle, sodat hulle na graad 1 met ‘n ingesteldheid van “ek kán!” na wiskunde sal uitsien. Dit is waarom prof Kruger ouers en onderwysers maan om nie te gou met formele wiskunde te begin nie. “Die kind se nuuskierigheid moet geprikkel word, nie doodgemaak word nie. Hulle moet selfgedrewe wees om self probleme op te los en innoverend te dink. Hierdie selfgerigte leer en selfontdekking om te soek na oplossings vir probleme is van die belangrikste vaardighede wat jou kind kan baasraak.”
Hoekom is wiskunde belangrik?
Wiskunde ontwikkel kritiese denkprosesse, soos logiese redenering, probleemoplossing en die vermoë om kreatief en analities te dink.
Wiskunde word daagliks gebruik. Dink maar as jy ‘n koek wil bak en die bestanddele moet afmeet, of as jy moet uitwerk hoe lank dit jou gaan neem om betyds vir ‘n afspraak te wees.
Wiskunde maak deure oop, veral as dit by loopbaankeuses kom.
“Wiskunde is die taal van die heelal. Die basiese beginsels en wette van wiskunde help ons om die wêreld om ons te beskryf en te verstaan.”
Hoekom sukkel kinders met wiskunde?
Volgens prof Kruger is daar verskeie redes, maar dis veral die gevoelsfaktor of die kind se ingesteldheid wat ‘n groot rol speel. Die kind word dikwels geleer om die stappe soos ‘n papegaai te doen, maar daar is nie noodwendig begrip nie. Daarom is dit belangrik om geleenthede te skep sodat die kind deur middel van spel wiskundige begrippe kan baasraak. Omdat die kind se verstand ontvanklik gemaak moet word vir kennis, is dit belangrik dat ouers positief sal wees daaroor. Kinders moet lus gemaak word vir wiskunde en om dit spelenderwys te doen, is een van die beste maniere. Prof Kruger noem die volgende voorbeeld om getalbegrip vas te lê:
Kies een dag van die week waarop daar “gespeel” kan word en nie van somme of wiskunde gepraat word nie. Sit weegskale uit om voorwerpe te weeg, speel bordspeletjies (hier kan die ouer of die onderwyser saam speel), bespreek vorms, groottes, dikte, speel met water en sand om volume en kapasiteit te ontdek. Aan die einde van die dag het die kinders nie geweet hulle leer nie, maar is getalbegrip tog op informele wyse oorgedra. Hierdie tipe speel met getalle kan op ‘n daaglikse basis plaasvind. Tel die padtekens, lees wat staan op die spoedmeter, hoeveel rooi motors sien julle, ens.

Die kind moet glo hy kan
Die kind wat glo hy kan iets doen, het meer selfvertroue en sal meer geneë wees om te probeer.
Verseker hulle dat dit oukei is om nie die eerste keer reg te wees nie en dat hulle weer kan probeer. Op die manier word die kind subtiel gelei om anders of logies te dink om by die antwoord uit te kom.
Moenie die kind verkleineer nie – dit is ‘n ouer en opvoeder se taak om ‘n kind te koester en hulle selfvertroue te versterk – nie om die kind af te breek nie.
Verduidelik hoekom wiskunde ‘n belangrike lewensvaardigheid is en dat ‘n mens dit elke dag oral en op verskillende vlakke gebruik. (Dink maar net aan wanneer ‘n mens jou maandelikse begroting moet uitwerk, of wanneer jy ‘n beroep beoefen en daar van jou verwag word om wiskundige beginsels toe te pas op onder andere grafieke en diagramme om ‘n verslag te skryf.)
Let op jou kind se leesvaardigheid, want leesvaardigheid en wiskunde gaan saam. Om met selfvertroue en met begrip te kan lees, dra by tot jou kind se getalbegrip. Die kind moet die wiskundevraag met begrip kan lees om te weet watter stappe om te volg om by die antwoord uit te kom.
Boustene vir wiskundige vermoëns
- Goeie getalbegrip – hoeveel is die getal se waarde
Tel spelenderwys die kersies op ‘n koek: 1 + 2 = 3 + 1 = 4
- Een-tot-een-afparing / Klassifisering op grond van ooreenkomste / Vergelyking op grond van verskille
Laat die kind help tafel dek, kouse paar, mes en vurk uitsit, ewe veel lekkers uitdeel vir almal in die groep, m.a.w. hulle leer klassifiseer op grond van eendersheid.
- Probleemoplossing
- Redenering
- Ruimtelike bewustheid – deur op konkrete vlak en deur die sintuie te leer
Skep ‘n omgewing waarin leer deur beweging plaasvind – bo-op, onder, links, regs, ens. m.a.w. kinestetiese spel, bv.
- spring van een kol na twee kolle, ens.
- leer oor vorms – maak lyfies so rond soos ‘n balletjie, maak driekhoek met lyfie
- stel hulle voor aan 3D-vorms voordat daar na ‘n werkboek oorgegaan word

Wanneer moet kinders aan getalle blootgestel word?
Prof Kruger sê dat wiskundige begrippe vanaf babatyd vir die kind geleer kan word – in daardie eerste drie jaar van breinontwikkeling. So kan babas twee eenderse voorwerpe herken, bv. twee eendjies en vorm die baba reeds ‘n begrip van die getal twee. Dit moet egter eenderse voorwerpe wees.
Moet ‘n mens ‘n kind se ontwikkeling aan mylpale meet?
Prof Kruger noem dat elke kind sy eie ontwikkelingsvensters het en teen sy eie tempo leer. Daarom is dit so belangrik om nooit een kind met ‘n ander te vergelyk nie. Skep eerder geleentheid waarin die kind verder kan ontwikkel sonder om dit te forseer, want die belangrikste is dat die kind gereed moet wees voordat leer kan plaasvind. En natuurlik speel belangstelling ook ‘n rol.
’n Sielkundige van Harvard, Howard Gardner, het in 1983 in sy boek Frames of Mind: The Theory of Multiple Intelligences, sy teorie van veelvuldige tipes intelligensie uiteengesit – daarin het hy beweer dat alle mense verskillende soorte intelligensie het. Hy het gepraat van agt intelligensietipes en ook die moontlikheid van ’n negende tipe, eksistensialistiese intelligensie, genoem. Volgens Gardner het mense dus nie net intellektuele kapasiteit nie, maar ook verskillende tipes intelligensie, soos visueel-ruimtelik, linguisties-verbaal, interpersoonlik, intrapersoonlik, logies-wiskundig, musikaal, liggaamlik-kinesteties en naturalisties. En hoewel ‘n persoon veral sterk in ‘n spesifieke area, soos musikale intelligensie, kan wees, beskik hy waarskynlik oor ‘n hele verskeidenheid vermoëns en is hy dalk ook sterk in die verbale en liggaamlike intelligensietipes.
Wat wel belangrik is, is om die kind se sterkpunte uit te lig, want dit sal help om sy selfvertroue te versterk wat natuurlik sal help om wiskundige vaardighede baas te raak.
Kurrikulum is nie die alfa en die omega nie
Die SA kurrikulum is ‘n goeie riglyn, maar daar word terselfdertyd van onderwysers verwag om die leer in hulle klas aan te pas by die leerders se behoeftes. Dit is daarom belangrik dat die onderwyser sal besef dat die kind betrokke moet wees in die leerproses. Daarom moet leer deur liggaamlike belewenis en op konkrete vlak plaasvind. Daarna kan daar oorgegaan word na die tweedimensionele vlak, oftewel die werkboek.
Prof Kruger sê daarom dat die passie van sekere onderwysers soms ontbreek. Kinders wil ‘n rolmodel hê wat hulle inspireer en laat glo dat hulle nou lekker gaan leer – ‘n passievolle onderwyser met empatie vir kinders. Dit is dus belangrik dat onderwysers selfgerig moet werk, oplees en navorsing doen om hulle lesse interessant en opwindend te maak.
Wanneer ontwikkel wiskunde-angs of -fobie?
Prof Kruger noem dat dit reeds vroeg kan ontwikkel. Angs is ook nie net ‘n geval van toeslaan vir wiskunde nie (daardie sogenaamde “blank slaan”). Dit gaan gepaard met fisiese simptome, soos oormatige sweet, naarheid, vinnige hartklop, en dies meer.
Daarom is dit belangrik om te onthou dat dit regtig nie saak maak as jou kind nie soos die ander ma’s se kinders op drie tot by 20 kan tel nie. Moenie jou kind met ander vergelyk nie en hou dit vir jouself.

“‘n Punt op die rapport gaan vergeet word, maar wat in die hart ingaan, daardie selfvertroue en passie, dit is wat belangrik is.” – Prof Kruger
Hoe kan ouers help
Dit is belangrik dat die ouers en onderwyser saamwerk en dat die ouers op hoogte gehou word met waarmee die kind in die klas besig is. Sodoende kan die ouer die werk tuis versterk. Bv.
- Sê vir jou kind: “Verduidelik vir my waaroor gaan dit.” – Die kind herhaal vir die ouer wat hy geleer het.
- Versterk begrippe deur daaroor te praat.
- Bespreek hoe wiskunde in ons wêreld gebruik kan word.
Indien die kind geen belangstelling in wiskunde het nie, kan ouers en die onderwyser ook saamwerk om die kind se nuuskierigheid en selfvertroue te help ontwikkel. Dit lei dikwels tot ‘n ommekeer in gesindheid en kort voor lank besef die kind dat hy wel wiskunde kan doen. Die sogenaamde “ek kan”-gesindheid.
Maak wiskunde pret en realisties. Dink aan ander innoverende maniere om die vak aan te bied.
Dit is belangrik om vas te stel waar die gaping in die kind se kennis van wiskunde lê en dan ‘n stappie terug te neem om op ‘n konkrete vlak die kind te help om dit op daardie vlak te bemeester. Op die manier sal hy dan die volgende begrip kan verstaan en uiteindelik sy wiskunde op peil kry.
Hendrik de Kock, Wolkskooldosent by die Skoleondersteuningsentrum, gee die volgende 10 wenke om ‘n liefde vir wiskunde by jou laerskoolkind te kweek:
- Taal en wiskunde gaan hand aan hand, daarom is dit belangrik om die onderrigtaal goed te verstaan (dink hier aan moedertaalonderrig), sodat die kind wiskundige begrippe soos groter as en kleiner as sal verstaan.
- Vestig getalbegrip. Om die kind slim metodes of truuks te leer om wiskunde aan te leer, word afgeraai, want begrip is die belangrikste.
- Fundamentele en basiese wiskunde. Dis belangrik om die basiese reëls te ken, soos volgorde van bewerkings en vermenigvuldigingstafels.
- Gebruik telrame, albasters, blokkies, ensovoorts.
- Wys op relevansie. Wiskunde is oral om ons, bv. in resepte as ‘n mens kosmaak en hoeveelhede moet afmeet, om tyd en afstand aan te dui, om kombinasies van byvoorbeeld tyd en afstand aan te dui (hoe ver kan ek ry as ek drie ure teen 60 km/h ry, ens.).
- Speel wiskundespeletjies. Dit maak die aanleer van wiskunde prettig. Speel bordspeletjies soos ludo, slangetjies-en-leertjies. Gebruik jou verbeelding – daar is soveel dinge rondom ons wat getel kan word.
- Gebruik die beskikbare tegnologie tot jou kind se voordeel. Laat hulle toe om wiskundespeletjies op die rekenaar te speel.
- Vergeet van reg en verkeerd. Fokus liewer op logika om by die korrekte antwoord uit te kom. Dit kweek kritiese denke en probleemoplossingstrategieë.
- Let op jou woorde om ‘n wiskunde-selfbeeld te bou. Hou dit positief, m.a.w. sê: “Wiskunde is lekker en groot pret!” Moenie etiketteer deur byvoorbeeld te sê dat wiskunde net vir “slim mense” is nie. Moenie die onderwyser afkraak nie. Waak oor daarteen om jou kind te veel te prys, want glo dit of nie, so ‘n kind kan uiteindelik ‘n vrees ontwikkel vir mislukking. Gesonde aanmoediging word aanbeveel.
- Word wiskundig fiks. Maak seker jou kind weet dat dit harde werk verg om te presteer. Ons weet dit is goed om elke dag vir ons kinders voor te lees – net so is dit ook belangrik om elke dag wiskunde saam met jou kind te doen. Uitdeindelik sal hulle nie bang wees vir wiskunde nie en ook besef dat dit nie saak maak hoe goed hulle in wiskunde is nie, maar dat dit wel saak maak hoe hulle daaroor voel.
Bronne:
Groeipyne 23 Februarie 2023 – Groeipyne – Omny.fm
Groeipyne 2 Maart 2023 – Groeipyne – Omny.fm
HEEEEELP, my kind doen Wiskunde! – Skoleondersteuningsentrum
Gardner’s Theory of Multiple Intelligences (verywellmind.com)
Hoekom is wiskunde belangrik? | Maroela Media
Lees:
Wiskunde-onnie skop gat met eie boek | Parys Gazette
Kyk:
Aanlyn wiskunde-tutorprogram: MathsBuddy – ‘n aanlyn wiskunde-tutorprogram, gebaseer op die SA kurrikulum vir graad 1 tot 12. Die program is deur ervare onderwysers ontwikkel en bied meer as 1 800 geanimeerde wiskundelesse en meer as 65 000 interaktiewe vrae. Daar is ook relevante inhoud vir internasionale kurrikulums.
Wiskunde-terminologie: My Wiskunde-Buddie Wiskundewoordeboek – My Maths Buddy – Effective Maths Solutions – die boek is tans uit druk uit, maar is die Afrikaanse weergawe van die geïllustreerde Wiskunde-woordeboek. My Wiskunde-Buddie is ‘n wiskundewoordeboek wat wiskunde van graad 3 tot 12 dek en is ontwerp om gebruikers volle begrip te gee van wiskundeterminologie.
Hip-hop en wiskunde: Alternatiewe onderrigmetode deur Kurt Minnaar van Dreamer Education:
5 Tips for High School Learners || Kurt Minnaar || South Africa – YouTube (in Engels)
Kurt Minaar performs the Math Rap – YouTube (“Never fourget” – in Engels)
MathRap by Kurt Minaar Celebs on HN9 – YouTube (“Vanguard 7” – in Engels)
Nuttige skakels:
Aha Wiskunde – Wiskunde in Afrikaans
Pret met Wiskunde – Kieswetter Klaskamer