Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Afrikaans is gesond! So bewys navorsing wat in 2022 deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) in samewerking met Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) gedoen is en in ’n verslag – Die Algemene demografie van Afrikaans – gepubliseer is. Tog kan ons nie op ons louere rus nie en is daar wel rede tot kommer, want alhoewel Afrikaanssprekendes se getalle in absolute terme tot 7,21 miljoen in 2031 behoort te groei, het die navorsing bevind dat die getal Afrikaanssprekendes krimp relatief tot die res van die bevolking. Luidens die verslag, word die geskatte groei van bruin en swart Afrikaanssprekendes teen 2041 op 2,7 miljoen van die bevolking (61,4% van die Afrikaanse bevolking) bereken. Die verslag noem dan verder dat 20 000 bruin Afrikaanssprekendes jaarliks verengels. Hoekom gebeur dit? Afrikaans.com poog in die artikel om agter die kap van die byl te kom. Hoekom stuur ouers hulle kinders na Engelse skole? Wat is die moontlike gevolge van verengelsing?
Redes vir verengelsing
Die akademikus en wetenskaplike, prof Debra Meyer sê dat die redes vir verengelsing wyd en uiteenlopend is, maar dat die belangrikste rede volgens haar is “omdat Afrikaanssprekendes aan Engels dink as die taal van sukses, veral in die nuwe Suid-Afrika. ’n Mens kan ook nie uit die oog verloor dat ’n minderheid mense voel dat omdat apartheid in Afrikaans bedryf is, hulle nou skaam moet wees omdat hulle die taal praat – ’n sienswyse wat deur van die hoofspelers in die politiek aangevuur word.”
Kan verengelsing gestuit word?
Volgens prof Meyer is dit belangrik om aanhoudend akkurate inligting so wyd moontlik beskikbaar te stel en ook om alternatiewe strategieë uit te toets om Afrikaans se toekoms te versterk. “Ek verwys hier na inligting oor die voordele van moedertaalonderrig (sien kassie vir enkele voordele). Verder moet ons ook fokus op Afrikaans se plek in ’n veeltalige land en help om ander inheemse tale te versterk en te ondersteun.
“Ons kan nie maak of ons nie die rede verstaan vir die negatiewe houding van die in posisies van mag teenoor Afrikaans nie. Maar om die redes te verstaan, beteken nie dat ons niks hoef te doen om Afrikaanssprekendes se reg tot die taal te verdedig nie. Mense wat die besluit neem om te verengels dink Engels is die taal van sukses. Hulle dink Engels as eerste taal is voordelig vir hulle kinders, veral as hulle ’n toekoms sien waar Suid-Afrika dalk nie meer hulle tuiste gaan wees nie. Of jy hier bly en uithou of nie, moedertaalonderrig is steeds die beste fondasie vir die aanleer van ander tale. Daar is soveel voorbeelde van Afrikaanses wat in hulle moedertaal geleer en studeer het en wat nou gemaklik groot sukses in Engels behaal.”

Voordele van moedertaalonderrig: Die bousteen van sukses
Moedertaalonderrig:
- Help met die vaslegging van basiese konsepte wat nodig is vir doeltreffende leer.
- Help met leesbegrip. Daarom is dit makliker om jou kennis oor te dra en vrae te beantwoord. Klasdeelname is dus makliker omdat jy die selfvertroue en vaardighede het om jouself uit te druk.
- Maak dit makliker om te leer, want in jou huistaal maak die leeromgewing net meer sin.
- Bevorder kreatiwiteit, probleemoplossing en kritiese denke.
- Verbeter die vermoë om ander tale aan te leer. Kennis en begrip is makliker oordraagbaar tussen tale. Wanneer ’n mens iets regtig in jou moedertaal verstaan, verstaan jy dit gewoonlik in enige taal.
- Lei tot emosionele stabiliteit wat tot kognitiewe stabiliteit en dus beter akademiese uitkoms, lei.
Ons kan nie stry teen die syfers nie
Daar is talle redes hoekom dit so belangrik is dat kinders in hul moedertaal onderrig word, maar die volgende syfers beaam dit verder:
- Ons kan maar net kyk na SA se geletterdheidskrisis en baie van ons graad 4-kinders se swak leesvermoë en veral hul onvermoë om met begrip te lees – blykbaar so hoog as 82% – om te weet – moedertaalonderrig verdien eintlik die hoogste prioriteit op alle vlakke.
- Ook – ‘n Onlangse verslag wat deur die 2030 Leespaneel (Reading Panel) vrygestel is, dui aan dat meer as die helfte van graad 1’s (60%) nie hulle alfabet ken nie. En aan die einde van graad 2, lyk dit nie veel beter nie. Hierdie paneel het ten doel dat alle kinders in Suid-Afrika van 10 jaar en ouer met begrip moet kan lees teen 2030.
- En dan, natuurlik die kwessie van SA se 11 amptelike tale en die feit dat volgens die Grondwet elkeen van daardie kinders die reg het om in hul moedertaal skool te gaan – tog gebeur dit nie.
- Die feit dat uit die 20 toppresterende skole in 2022 se matriekeindeksamen, is agt van die skole Afrikaans, is nog ’n bewys dat moedertaalonderrig sy regmatige plek verdien.
Geforseerde verengelsing
Dus, deur jou Afrikaanssprekende kind in Engels te laat skoolgaan, gee hom juis nie ‘n voorsprong nie, want navorsing het bewys dat kinders stadiger leer in ’n taal wat nie hulle moedertaal is nie – en dit kan lei tot onderprestasie. As jou kind sy moedertaal goed onder die knie het, gaan hy sommer maklik in Engels regkom op tersiêre vlak, maar ook in die werksomgewing.
Gevolge van verengelsing: Meer as taal op die spel
Wanneer ’n mens besluit om jou kind in Engels te laat skoolgaan en dit is nie jul moedertaal nie, is daar talle praktiese implikasies daaraan verbonde. Daar is meer as blote taal op die spel. Taal, kultuur en identiteit gaan saam en word ’n kind nou daarvan vervreem, moet dit op die ou end ’n invloed hê, hetsy in sy gesin, breër familie of sy “plek” in die samelewing. Dit het natuurlik ’n sneeubaleffek, want die Afrikaanssprekende kind wat in Engels skoolgegaan het, lei daartoe dat die kind die tendens voortsit en uiteindelik het die eens Afrikaanssprekende verengels. Met ander woorde, taaloordrag tussen geslagte ly daaronder.
Word ’n taal nie meer gepraat nie, bestaan die gevaar dat die taal sy hoëfunksiestatus kan verloor en vind daar nie meer genoegsame groei plaas nie en die taal val terug. Afrikaans het tot nou toe sy hoëfunksiestatus gehandhaaf – dit getuig die meer as 450 vakwoordeboeke wat in Afrikaans bestaan, die uitstekende prestasie van Afrikaanssprekende studente en akademici – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.
Afrikaans het ’n goed ontwikkelde taalstruktuur (woordeboeke, taalinstellings, kunstefeeste, skeppende kunstenaars) en steeds talle mense wat die taal praat. Tog word Afrikaans al hoe minder gepraat en verstaan – dit sluit tweede- en derdertaalsprekers in. Dit maak die taal kwesbaar vir druk. En hoewel die taal goed vaar in die kunste, is die uitdagings in die sakewêreld en die onderwys groot, afgesien daarvan dat die Afrikaanse ekonomie tot dusver redelik dinamies is.
Wat van die variëteite van Afrikaans?
Daar is talle variëteite van Afrikaans en ’n mens vra die vraag of dit dalk een van die beweegredes kan wees dat ouers hulle kinders in Engels laat skoolgaan – juis omdat hulle huistaal of dan variëteit van Afrikaans verskil van die sogenaamde Standaardafrikaans wat volgens die kurrikulum onderrig word omdat die verskillende variëteite (spreektaal) nie deel van die onderriglandskap is nie.
Prof Meyer sê dat sy dit nie so ervaar dat verengelsing plaasvind as gevolg van mense se variëteit en dat hulle daarom nie sogenaamde Standaardafrikaans praat nie. Daarom is sy van mening dat “ons moet kyk wie besluit wat Standaardafrikaans is en wie dit definieer. As die organisasie(s) en mense betrokke verteenwoordigend is van al die sprekers kom ons nader aan ’n ware Standaardafrikaans.” Sy voel ook dat dit moeilik gaan wees om al die variëteite in ons onderwysstelsel te akkommodeer, en is daarom ten gunste van ’n verteenwoordigende en gestandaardiseerde Afrikaans.
Die ATR se standpunt hieroor is dat alle variëteite bevorder en beskerm moet word en leerders dus aangemoedig moet word om hulle huistaal te skryf en te praat en ook dat daar intussen daaraan gewerk moet word om die variëteite as hulpbronne in die klas te gebruik om gestandaardiseerde Afrikaans baas te raak. ’n Mens wonder net of dit in die praktyk uitvoerbaar is. Veral as ’n mens in gedagte hou dat die variëteit streekgebonde is en onderwysers nie noodwendig opgewasse is om so ’n variëteit te onderrig en te assesseer nie, omdat hulle nie self die spesifieke streektaal/variëteit praat nie. Boonop vereis die onderwysdepartement steeds dat daar by die kurrikulum gehou moet word.
Wat sê studente?
Prof Meyer sê dat studente se opinies uiteenlopend is. “Sommige erken dat hulle ongemaklik is in Engels en eerder in Afrikaans sou wou leer (as hulle dit kon bekostig), ander sê weer Engels is die taal van die toekoms, dus moet hulle uithou en aanhou tot dit makliker word.” Sy noem ook dat die meeste studente wat reeds op skoolvlak verengels het en wie se huistaal eintlik Afrikaans is, voet by stuk hou dat dit ’n goeie keuse was, maar “die dosente wat die vraestelle merk, kan nog duidelik sien die studente dink in Afrikaans en die kwaliteit Engels wat hulle skryf of praat, is nie van die hoogste gehalte nie”. Prof Meyer sê ook dat “die meerderheid van studente openbare uinversiteite kies omdat hulle daar toegang tot geld het om mee te studeer. Die tekort aan Afrikaans by die instansies noodsaak dan ook verengelsing, indien dit nie reeds op hoërskoolvlak gebeur het nie.” Dus is prof Meyer van mening dat indien privaat opleidingskolleges en universiteite die enigste opsies op tersiêre vlak gaan word, ons sal moet “verseker dat alle Afrikaanssprekers, studente en dosente toegang verkry of daar verteenwoordig word”.








