Besighede by die Tinteltong Toekennings

Bang-vir-Bak
Is jy iemand wat bang is vir bak? Wel, dan moet jy by Bang-vir-Bak aanklop en ’n kursus by hulle doen om die fynere kunsies van bak te leer. Bang-vir-Bak bestaan in November al nege jaar lank en die eienaar, wat ook die klasse aanbied, is Lorraine Swanepoel. Bang-vir-Bak spesialiseer in kort halfdag klasse vir die beginnerbakker maar daar is ook ruimte vir diegene wat wel al meer gevorderd is om hulle kennis te verbreed. Op daardie manier bly hulle op hoogte van die nuutste tendense in die bakkuns. Die gewildste klasse is beslis die waarin daar geleer word om nougat of macarons te maak. Daar is ook interessante tapasklasse en ’n verskeidenheid botterversierselklasse en by Bang-vir-Bak kan jy ook leer om die perfekte quiche of kaaskoek te maak. Meer as 80% van die studente wat die bakkursusse bywoon praat Afrikaans! Vir verderde inligting besoek die webtuiste www.bang-vir-bak.co.za of loer in op Facebook: https://www.facebook.com/bangvirbak

BLIKIT
In 2019 het Marlene Britz ’n oulike idee gekry om geskenkblikke met spesiale boodskappe te maak vir spesiale geleenthede. Dit sou ideaal in die geskenkindustrie werk, maar beslis ook vir individuele geskenke. BLIKIT is gebore en vandag bestuur Natasha Sprout en haar span die besigheid vir Marlene. Enigeen kan by BLIKIT aanklop vir daardie spesiale geskenk of geskenke in ’n blik: groot besighede of Jan Alleman. Elke etiket word verpersoonlik. Die langdurige verpakking maak gewis ’n goeie en blywende indruk. Omdat die etikette spesiaal geskep word, werk dit ook uitstekend in Afrikaans. Gaan na die webtuiste: www.blikit.co.za of kyk op Facebook: https://www.facebook.com/Blikit

Craft Braai
ʼn Onderneming wat in die hartjie van die COVID-19 pandemie gebore is, is Craft Braai. Awie Krog staan aan die stuur van Craft Braai en is ook die patent-eienaar. Hierdie besigheid vervaardig en ontwerp unieke braai en buitelewe produkte. Die Craft Braai-sakkie is so ʼn unieke ontwerp wat jou die geleentheid gee om selfs dinge soos maalvleis of springmielies op die vuur te braai. Hierdie unieke sakkie maak dit ook veel makliker om wors te braai of sommer 50 hoendervlerkies op ʼn keer. Afrikaanse mense braai graag, dit is deel van ons kultuur. Met Craft Braai kan jy nou selfs veel meer kreatief wees oor ʼn braaivleisvuur. Besoek die webblad https://www.craftbraai.org/ of loer in op Facebook: https://www.facebook.com/craftbraai

Die Bees
Sydney Webb het die geleentheid aangegryp om uit die korporatiewe wêreld te klim en in 2018 ʼn entrepreneurs-onderneming te begin. Sy besigheid, Die Bees, is ʼn eg-Suid-Afrikaanse klerehandelsmerk wat fokus op stylvolle en gemaklike klerasie: van T-hemde tot kortbroeke en bykomstighede. Die Bees® se klerereeks asook die bykomstighede is aanlyn beskikbaar en daar is ook ʼn fisiese winkel in Centurion. Van Die Bees se klere is wel in winkels reg oor Suid-Afrika beskikbaar en by gewilde markte en feeste. Vir Sydney is dit belangrik om in Afrikaans handel te dryf. Afrikaans is immers die taal van die mense wat sy handelsmerk verstaan. Besoek die webtuiste www.diebees.co.za of loer in op Facebook https://www.facebook.com/diebees.sa

Boervrou Deli
Chantelle Symons het in 2015 gedroom sy besit ʼn beskuitfabriek. Die droom het ʼn werklikheid geword en vandag is sy die eienaar van Boervrou Deli waar jy beslis kan aanklop om kos soos ouma sʼn te proe. Haar oulike venue en koffiewinkel, die Pienk Paleis is op die plaas Doornpoort in Thabazimbi. Afgesien van die smaaklike geregte op die spyskaart, kan jy hier ook klaarbereide, gevriesde etes koop. Vir Chantelle Symons is dit belangrik om in Afrikaans besigheid te doen want dit is die taal van haar gemeenskap. Afrikaans is ook kaaskoek en pannekoek, koeksisters en hoenderpastei. Besoek die webblad https://www.boervroudeli.co.za/ of loer in op Facebook: https://web.facebook.com/boervroudeli

Ella Genetics
Ella Genetics is in 2020, midde in die COVID-19 pandemie gestig. Tans staan Elrise de Kock aan die stuur van sake. Deur middel van ʼn speekselmonster, versamel Ella Genetics DNS wat dan getoets word. Daaruit word baie interessante data bymekaar gemaak wat help kyk na dinge soos kos-intoleransies, die effek van chroniese medikasie, watter oefening sal die beste werk vir iemand met daardie DNS. Die toetsing word opgevolg met ʼn aanlyn terugvoersessie in die moedertaal van die persoon wat die DNS-verslag aanvra. Besoek www.ellagenetics.com vir meer inligting. Volg hulle op Facebook: https://www.facebook.com/EllaGenetics

Feisty Communications & Marketing Specialists
Feisty Communications & Marketing Specialists is ʼn bemarkingsagentskap wat die bemarkingslandskap in Suid-Afrika uitdaag en verander. Die naam Feisty verwys na die lewendige en vurige span vroue agter die stuur van die maatskappy. Juanita Smith het sewe jaar gelede die bal aan die rol gesit. Die mede-aandeelhouers en direkteure is Timoné Mynhardt en Elizna Leibbrandt. Feisty spesialiseer in die volle spektrum van bemarking: sosiale mediabestuur, kommunikasiebestuur, skakelwerk, webontwerp, grafiese ontwerp, fotografie, videografie en strategiese beplanning. By Feisty Communications is Afrikaans die hoeksteen van hulle kreatiwiteit. Besoek hulle webtuiste www.feistycom.co.za of gaan loer in op Facebook: https://www.facebook.com/feistycom

Foxi Original
Zellemari van Niekerk is ʼn student aan die Universiteit van Pretoria wat babaklere en bykomstighede onder die handelsmerk Foxi Original verkoop. Sy het haar besigheid het in 2020 begin. Sy ontwerp en maak self die babaklere en bykomstighede en elke seisoen is daar ʼn splinternuwe reeks. Wat Foxi Original so besonders maak, is dat sy spesifieke items maak vir spesiale geleenthede soos verjaarsdae, doopgeleenthede en inseënings. Zelle, soos haar kliënte haar ken, streef altyd daarna om die beste kwaliteit produkte op die mark te plaas. Besoek haar webtuiste by Foxioriginal.com of gaan maak ʼn draai op Facebook https://www.facebook.com/FoxiOriginal

Full Circle Image Consulting
Lizel van der Westhuizen, ʼn voorkomskonsultant staan aan die stuur van Full Circle Image Consulting. Sy het hierdie besigheid in 2014 gestig. Benewens die wenke wat sy gee om iemand se voorkoms te verbeter, is sy ook ʼn stilis en grimeerkunstenaar wat haar kundige dienste lewer op die program GlamGuru. Lizel help met klerekasbeplanning, gaan doen klere-inkopies saam met haar kliënte, gee styl- en kleuradvies en doen motiveringspraatjies asook korporatiewe werkswinkels. Vir Lizel is dit besonder lekker om die Afrikaanse mense wat by haar om hulp aanklop, in Afrikaans, haar moedertaal, te kan bedien. Haar Facebookblad is https://www.facebook.com/fullcircleimage of besoek die webtuiste: https://www.fullcircleimage.co.za/

Hart en siel
Hart en siel is ʼn dekor- en geskenkwinkel in Clarens in die Vrystaat. Noeline de Beer het twee jaar gelede die winkel oorgekoop en geniet dit besonder baie om ʼn besondere atmosfeer aan Hart en Siel te gee. Kerse, liggies en musiek laat elke koper welkom voel in die winkel. Die winkel spesialiseer in plaaslike produkte maar ook eg-Suid-Afrikaanse handgemaakte produkte. Daar is ʼn hele verskeidenheid breekware, huisdekor en geskenke om uit te kies, boonop alles baie bekostigbaar. Hart en Siel, soos die naam aandui, is ʼn trots-Afrikaanse besigheid en vir Noeline, ʼn ware plaasnooi, is dit heerlik om in haar moedertaal haar besigheid te bedryf. Besoek die Facebookblad: https://www.facebook.com/hartensieldecor

Houthakker
Min dinge verleen soveel warmte aan ’n vertrek as hout. By Houthakker spesialiseer Franco van Wyk en Corinne Landman in die vervaardiging van dekorprodukte uit mooi ligte eikehout. Hulle besigheid het in November 2021 sy deure oopgemaak. Die produkte by Houthakker is hoofsaaklik kleiner items wat ’n groot impak op ’n leefarea kan hê, soos kunstige stoele en tafeltjies. Van die topverkopers is beslis hulle badrakkies, dekoratiewe banke en badstoeltjies. Houthakker verkoop ook geskenkbewyse wat altyd die ideale geskenk is omdat dit die ontvanger toelaat om sy of haar eie keuse uit te oefen. Besoek hulle tuisblad by https://houthakker.store/ of gaan loer in op Facebook: https://www.facebook.com/diehouthakker

Imnandi Bakery
In 1990 het Christa Smith ʼn klein tuisnywerheid begin wat allerlei tuisgebak gemaak het. Haar beskuit was dadelik ʼn wenner. Vandag lewer Imnandi Bakery beskuit aan verskeie groot kettingwinkels. Christa is steeds in beheer van die bakkery en haar seun Gerhard behartig die finansiële aspekte, doen die bemarking en die verspreiding. Vir hierdie ma en seun is dit heerlik om besigheid in Afrikaans te doen. Besoek die webtuiste van Imnandi Bakery: http://imnandibakery.co.za/index.html of volg hulle op Facebook: https://www.facebook.com/imnandibakery/

Is Moz Bos
Op ’n verlate grondpad in Botswana het ’n bosnooi gesmag na muskietweerder wat ook aangenaam ruik. Boonop het die heerlike aardse reuk van wildesalie wat in die lug gehang het haar aandag getrek, en sy het meteens geweet wat om te gebruik vir ’n unieke, Afrika-produk. So is die idee vir Is Moz Bos gebore. In 2016 het hierdie bosnooi, Rina Lombard, met ’n paar blokkies bosseep by ’n apteek opgedaag en dit was dadelik ’n wenner. Vandag vervaardig Is Mos Boz veel meer as muskietweerder. Daar is ’n hele lyfprodukreeks, T-hemde en kombuistoebehore wat by ’n paar apteke, spesialiteitswinkels en buitelugwinkels verkoop word. Rina beskryf haar Is Moz Bos se bosseep as ’n klein stukkie Bosveld-bederf waarmee jy die muskiete eenkant kan hou. Besoek hulle webblad: https://www.ismozbos.co.za/ Is Moz Bos is ook op Facebook: https://www.facebook.com/ismozbos

Jou Plaas Deli
Jou Plaas Deli spog met heerlike vars produkte direk vanaf die plaas en kleinsake-ondernemings. Betz Pienaar het die deure van hierdie besigheid in 2021 oopgemaak. Vir haar is dit belangrik om hierdie goeie, unieke en lekker produkte aan die gemeenskap beskikbaar te stel. Dit boonop in Afrikaans. By Jou Plaas Deli, ʼn winkel in Grootfontein Country Estate in Pretoria-Oos, is die yskaste en vrieskaste gevul met organiese vleis, plaasvars melkprodukte, eiers en heerlike slaaie. Daar is ook ʼn groot verskeidenheid konfyte en heerlike quiches. Besoek die webtuiste – https://jouplaasdeli.co.za of gaan loer in op Facebook : https://www.facebook.com/jouplaasdeli

Klerekas
Die behoefte om ’n eenstop-aanlynklerewinkel te bedryf wat meer as net doodgewone knopieshemde verkoop, het gelei tot die vestiging van Klerekas.com in Junie 2018. Johan en Rianca Jansen van Vuuren, ’n dinamiese en innoverende paartjie, staan aan die stuur van sake. By Klerekas.com is Johan en Rianca se grootste doelwit om noodsaaklike styl te skep wat aan die nodige kwaliteit voldoen maar wat ook byderwets en interessant is. Hierdie aanlynwinkel verskaf klere vir mans en vroue. Klerekas, so sê Johan en Rianca, is ’n modehuis waar jy professionele diens en ’n besondere ervaring in jou moedertaal sal ontvang want hier is Afrikaans ʼn handelsmerk. Besoek die webtuiste: https://www.klerekas.com/ of die Facebookblad: https://www.facebook.com/klerekasdotcom

Knap Sak
Plaaslik vervaardigde leerprodukte van goeie gehalte skop jy nie agter elke bos uit nie, maar jy hoef nie verder as Knap Sak te soek om daarvan in die hande te kry nie. Yolanda de Waal en Dina Liebenberg het hulle leerbesigheid in 2017 oopgemaak. Knap Sak vervaardig die leerprodukte in hulle fabriek op Frankfort waar daar ook ʼn winkel is. Die ander winkel is in Heidelberg Gauteng, maar natuurlik is al die produkte ook aanlyn beskikbaar. Die reeks sluit onder meer items soos handsakke, beursies, belde, skoene, doeksakke, oornagsakke, leerbykomstighede en kinderskoene in. Vir die twee is dit ook besonder lekker om besigheid in Afrikaans te doen. Besoek hulle webtuiste www.knapsakleather.co.za om hierdie gehalte leerwerk te sien, of gaan loer in op Facebook: https://www.facebook.com/knapsak

Kuif & Baard
By Kuif & Baard kry ’n man veel meer as net ’n vinnige haarsny. Hierdie barbierswinkel in die ooste van Pretoria, is ’n plek waar die manlike geslag kan ontspan en afskakel van hulle daaglikse druk terwyl hulle hare of baard gesny of netjies gemaak word. Zoë Burger het die besigheid in 2018 oopgemaak. Op dieselfde perseel is daar ook ’n behandelingskamer waar mans vir gesigbehandelings, masserings, manikure, pedikure en so meer kan kom. Met ’n heerlike Afrikaanse naam, is dit ’n ope uitnodiging om hier in Afrikaans mooigemaak en bederf te word. Besoek hulle Facebookblad – https://www.facebook.com/kuifenbaard of maak ’n afspraak met die FRESHA toep.

Kwikstert
Kwikstert is ʼn bemarkingsagentskap wat fokus op klein ondernemings en bestaan sedert 2019. Anné van Zyl staan aan die stuur van sake en sorg dat sy die hartklop van elke besigheid, vir wie hulle bemarking doen, ontgin. Dan sorg sy en haar span dat die regte mense by hierdie besighede uitkom. Deur die nodige familiariteit by die teikenmark te skep, kweek hulle lewenslange lojaliteit. Afrikaans lê haar en haar span baie na aan die hart en hulle is deurgaans bewus van die groot behoefte wat daar is vir goeie bemarking in keurige Afrikaans, iets wat Kwikstert kan verseker. Besoek die webtuiste, www.kwikstert.co.za of loer in by die Facebookblad: https://www.facebook.com/kwikstertontwerp

LAPA
LAPA is ʼn afdeling van Penguin Random House South Africa (Edms) Bpk. By hierdie uitgewery kry jy bekostigbare boeke vir elke ouderdomsgroep en smaak. LAPA gee ʼn heerlike verskeidenheid boeke uit, hoofsaaklik in Afrikaans. Daar is kinder- en jeugverhale, fiksie, liefdesverhale en nie-fiksie boeke. LAPA se boeke is by die meeste toonaangewende boekwinkels in die land beskikbaar. Sommige van die boeke wat LAPA uitgee, is ook as e-boeke beskikbaar. Die skrywers wat vir LAPA skryf het oor die jare ʼn verskeidenheid toekennings ingepalm en LAPA se boeke is waarlik gehalte boeke. Besoek die webtuiste – https://lapa.co.za/ of die Facebookblad – https://www.facebook.com/LAPA.Uitgewers Jy kan ook inteken op die nuusbrief om meer LAPA-nuus te ontvang.

Liewe Lente
ʼn Besigheid wat graag wil hê elke vrou moet goed voel oor haarself, en gemaklik in haar lyf, is Liewe Lente, ʼn klerereeks wat aanlyn beskikbaar is. Illze Lourens het in September 2021 ʼn besigheid, Daisy Clothing gekoop en dit omskep as Liewe Lente wat sedert Oktober 2021 handel dryf. Illze se ma, Elsje Bolton en sussie Inge Bolton is deel van die span. Die span doen baie marknavorsing om seker te maak dat ʼn item die regte keuse is om op die rak te hang. Hulle verleen ook raad sodat elke vrou wat op Liewe Lente iets koop, die regte keuse maak. Dis vir die span heerlik om in Afrikaans te kommunikeer en seker te maak ʼn kliënt is gemaklik en kan haarself die heel beste uitdruk. Vind hulle op Instagram by @liewe_lente en ook op Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100076454497044

Lingi
Vier jaar gelede het Bertha Lewis die behoefte raakgesien vir interaktiewe speelgoed wat in Afrikaans kommunikeer. Sy het dadelik aan die werk gespring om Lingi, ʼn sagte beer, te ontwikkel – die ideale geskenk vir kinders van 1 tot 6 jaar oud. Die speelding is kindervriendelik, gemaak van nie-toksiese materiaal en is tegnologies gevorderd om enige voorskoolse kind se volle aandag te hou. Op hierdie manier help Lingi, met sy woordeskat van meer as 4000 Afrikaanse woorde, om die skatkis van Afrikaanse rympies, liedjies en stories behoue te laat bly. Lingi praat ook Engels. Die webtuiste van Lingi is www.lingi.co.za en op Facebook kan jy hulle volg by https://www.facebook.com/lingi.co.za

Matt & Milly
By Matt & Milly kry jy topgehalte produkte wat van egte leer vervaardig is en bekostigbaar is vir almal. Lesley-Ann van Eeden het byna drie jaar gelede hierdie besigheid begin wat ook daarop fokus om ander klein besighede en lede van die gemeenskap te ondersteun. ʼn Klein besigheid maar een met ʼn groot hart. Matt & Milly se reeks handgemaakte leerprodukte bied ʼn wye keuse en dis verdeel in kategorieë spesiaal vir mans, dames, kinders sowel as produkte vir die huis. Daar is ook ʼn spesiale huwelikskategorie waar ʼn egpaar onder meer geskenke vir hul gaste kan kies. ʼn Heerlike verskeidenheid leerskoene is ook deel van die versameling. En as jy besigheid wil doen in Afrikaans, moet jy by Matt & Milly gaan aanklop. Gaan loer in op hul webblad by www.mattandmilly.co.za of maak ʼn draai op die Facebookblad – https://www.facebook.com/profile.php?id=100036409287115

Michelle se kombuis
ʼn Tweeling wat seker maak ʼn mens kan elke dag ʼn heerlike bord kos eet, sonder om enigsins die kombuis vuil te maak, is Michelle Britz en Sandri Olivier. Michelle se kombuis se gevriesde etes sluit onder meer tradisionele boerekos, bobotie, pasteie en lasagnes in. Daar is ook ʼn reeks glutenvrye geregte, groentes en ingelegte produkte. In die winter is daar heerlike sop beskikbaar. Michelle lewer af in die Oos-Vrystaat en daar is ook verspreiders in Durban en die Gauteng-area. Sandri bestuur ʼn tak in Namibië. Michelle se kombuis is al vier jaar aan die gang, en geniet dit ook om in Afrikaans besigheid te doen. Die besigheid vier immers hul verjaarsdag op Internasionale Moedertaaldag. Besoek hulle webtuiste – www.michellesekombuis.co.za of loer in op die Facebookblad https://www.facebook.com/michellesekombuis om meer te wete te kom.

Miekeraai
Die nuutste modebykomstighede hoef jou nie ʼn plaas se prys te kos indien jy by Miekeraai aanklop nie. Mia Botha het in 2019 as student handgemaakte oorbelle aan mede-studente verkoop en so agtergekom daar is ʼn groot aanvraag na modieuse en bekostigbare bykomstighede. In 2020 het sy Miekeraai as onderneming geregistreer. Hierdie besigheid bied produkte van uitstekende kwaliteit teen bekostigbare pryse. Alhoewel hulle hooffokus oorbelle is, sluit dit ook ʼn groot verskeidenheid ander juwele in. Dan is daar ook nog haarknippe, serpe, sonbrille, kouse, haarbande en -knippies en selfs dasse vir mans beskikbaar. Mia se kleintyd troetelnaam was Miekeraai en sy het die mooi Afrikaanse naam vir haar besigheid gekies, want Afrikaans is haar moedertaal en dis ʼn voorreg om ʼn besigheid daarin te kan bedryf. Besoek hulle webblad by https://miekeraai.com/ of gaan loer in op Facebook: https://web.facebook.com/Miekeraai/?_rdc=1&_rdr

Mirella Clothing
Op soek na ʼn besonderse kledingstuk wat die koppe sal laat draai? Gaan loer dan in by Mirella Clothing se aanlynplatform of maak ʼn draai by hulle winkel in Menlopark, Pretoria. Twee sussies, Lisa Gittins en Marise van der Westhuysen het in Julie 2020 hierdie besigheid se deure oopgemaak om klere aan die moderne vrou te verskaf. Mirella Clothing verkoop nie net besonderse rokke nie maar ook skoene en bykomstighede vir enige uitrusting om seker te maak dat elke vrou beeldskoon kan voel. Die kledingstukke word ingevoer maar daar is ook plaaslik vervaardigde klere. Maak ʼn draai op hulle webblad by https://mirellaclothing.com/ of besoek die Facebookblad: https://www.facebook.com/profile.php?id=100050309779659

My Pregnancy Journey
Jacqui Rogers het in 2019 ’n belangrike leemte in die mark raakgesien: ’n Swangerskapstoepassing wat plaaslik ontwikkel is. Om die hele toepassing aanmekaar te sit, het hulle meer as twee jaar geneem. Vandag is My Pregnancy Journey die ideale toepassing om te gebruik wanneer jy swanger raak. Dit bied die regte en nodige opvoedkundige informasie, deel die inligting van plaaslike organisasies, produkte en dienste wat spesialiseer in swangerskappe. Daar is groot planne om hierdie toepassing ook in Afrikaans te vertaal sodat Afrikaanssprekende vroue in hulle moedertaal hiermee kan werk. Besoek die webblad: https://www.mypregnancyjourney.co.za/ of loer in op die Facebookblad – https://www.facebook.com/MyPregnancyJourneyApp

NutriFundi
Ses jaar gelede het Chanelle Retief besluit om haar eie dieetkunde praktyk op die been te bring, terwyl sy nog by ʼn staatshospitaal gewerk het. Sedert 2020 het sy egter haar volle gewig by NutriFundi ingegooi en nog ʼn dieetkundige aangestel. NutriFundi, geleë in Kemptonpark, sien buitepasiënte en hospitaalpasiënte. Gewigsverlies en ʼn gesonder leefstyl is ʼn groot rede hoekom mense hier kom aanklop, maar hulle help ook atlete wat dalk oefen vir die Comrades of ʼn CrossFit byeenkoms met die regte dieet om optimale prestasie te verseker. NutriFundi het ook twee jaar gelede ʼn CrossFit gimnasium in Springs gekoop waar Chanelle se man, Jacques Badenhorst aan die stuur van sake staan. Besoek hulle webtuiste – www.nutrifundi.co.za of gaan na die Facebookblad: https://www.facebook.com/NutriFundi

Periwinkle Rokkies & Broekies
Gedurende die streng inperkingstyd van COVID-19, is ’n droom van Marisa Murphy gebore: ’n besigheid wat spesialiseer in eksklusiewe kinderklere wat tydloos is. Sy het in daardie tyd geskenkbokse vir ooievaarstees bymekaar gesit vir mense wat nie by hulle geliefdes kon wees vir so ’n funksie nie en besef daar is ’n groot geleentheid vir haar idees. Periwinkle Rokkies & Broekies, het hieruit gevloei. Marisa behartig al die aspekte van hierdie onderneming: van die aankoop van materiaal, tot die ontwerp, vervaardiging, die aanstuur van die pakkies en die bemarking op sosiale media. Haar eie dogtertjies is die groot inspirasie vir al haar ontwerpe. Besoek die webblad: www.perwinklerokkies.co.za of die Facebookblad: https://www.facebook.com/periwinklerokkies

Petal’je
By Petal’je in Pretoria kan jy aanklop vir die mooiste blomruikers en blomkrone vir spesiale geleenthede. Elkeen hiervan word keurig aanmekaar gesit om by elke begroting en tema te pas. Hierdie besigheid, wat in 2019 sy deure oopgemaak het, word bestuur deur ’n ma-en-dogter-span, Sanel en Marna Roux. Nog ’n spesialiteit van Petal‘je is die blomkroonwerkswinkels wat hulle aanbied. Vir beide Sanel en Marna is die hele ervaring om met blomme te werk baie terapeuties en elke gesig wat ophelder wanneer Sanel en Marna die spesiale ruiker of blomkroon oorhandig, is die beloning op harde werk. Hulle lewer ook in Johannesburg en Pretoria af. Besoek hulle webblad www.petaljeshop.co.za of maak ’n draai op Facebook www.facebook.com/petalje

Plankiwax
Plankiwax vervaardig ʼn voedselveilige houtbehandeling wat gemaak word uit byewas en minerale olie. Maggie du Plessis het ses jaar gelede die besigheid begin. Wat van Plankiwax so ʼn besonderse produk maak, is dat dit geskik is vir enige houtprodukte wat gebruik word in die voorbereiding of opdiening van kos: houtsnyborde, houtslaaibakke en houtlepels. Die byewas en oliemengsel verhoed dat vog en bakterieë die hout binnedring met gebruik van die item. Boonop laat dit die hout pragtig vertoon. Indien jy in Afrikaans met Plankiwax kommunikeer, kan jy verseker wees om in Afrikaans gehelp te word. Besoek hulle webblad https://www.plankiwax.co.za/ of gaan loer in op Facebook: https://www.facebook.com/plankiwax

Pretoria Products
Wat in 2020 begin het as ʼn advertensieplatform, het intussen uitgebrei tot iets veel meer. Pretoria Products van Linda van der Walt, skep ʼn platform vir plaaslike kunstenaars om hulle produkte te verkoop. Tans is daar twee pragtige winkels in Pretoria. Die lokale is egter nie net ʼn afsetgebied vir die produkte nie, maar daar word ook gereeld werkswinkels aangebied deur plaaslike kunstenaars om hulle kundigheid op daardie manier te deel. ʼn Ander interessante element van hierdie besigheid is dat dit ook geskenkbokse uitstuur na enige plek in die land. Pretoria Products het onlangs ook ʼn nuwe onderafdeling begin – “Plaaslik/Creative” om besighede te help om hulle sosiale bemarking onmisbaar te maak. Besoek Pretoria Products se webblad: www.pretoriaproducts.com of besoek hulle op Facebook: https://www.facebook.com/PretoriaProducts

Protea Boekhuis
Protea Boekhuis is ʼn onafhanklike, innoverende uitgewery wat werke van hoogstaande gehalte uitgee en wat trots Afrikaans is. Die werke wat hulle uitgee sluit feiteboeke, fiksie, kinderboeke, jeugromans, historiese werke en kontemporêre tekste in. Die besturende direkteur is Nicol Stassen. Die maatskappy beskik oor ʼn aantal boekwinkels landswyd waar boeke van enige ander uitgewery gekoop kan word. Besoek http://www.proteaboekhuis.com/wp/ om meer te wete te kom. Volg hulle op Facebook: https://web.facebook.com/proteaboekhuis1

Purple Carrot Jewellers
Purple Carrot Jewellers spesialiseer in ontwerpersjuwele gemaak van vlekvrye staal. Alita du Plessis is die eienaar van Purple Carrot en dit bestaan al ses jaar lank. Wat hierdie juwele so besonders maak, is dat jy met graveerwerk jou item kan verpersoonlik, selfs in Afrikaans. Nie almal kan spog met juwele wat woorde soos Boerenooi of Liefiekind uitspel nie. ʼn Paartjie kan hulle name op items soos armbande of hangertjies laat aanbring. Vir Anita en haar span is dit belangrik om aan kliënte die geleentheid te gee om met hulle eie bewoording unieke juwele en geskenke te skep want so word Afrikaans op ʼn trotse manier die wêreld in gedra. Besoek die webblad www.purple-carrot.co.za of gaan loer in op Facebook: https://www.facebook.com/PurpleCarrotJewellery

Sherwood Lodge
Sherwood Lodge is ʼn gastehuis in die ooste van Pretoria. Omring deur koors, rotsvy en akasiabome, voel jy behoorlik asof jy in die Bosveld is. Elkeen van die nege en-suite gastekamers het ʼn private patio. Vier vriende, Jacobus en Liza Strauss en Helgard en Suné Beukes is die eienaars en Liza is ook die bestuurder en hoofsjef. Daar is ook ʼn lieflike eetplek op die perseel, Swartskaap Bistro wat spesialiseer in vars, tuisgekookte maaltye. Swartskaap bied ʼn groot ruimte met veilige speelplek vir kinders. Hier kan jy ook heerlik na Afrikaanse musiek luister. Besoek die webtuiste by www.sherewoodlodge.co.za of die Facebookblad: https://www.facebook.com/sherewood.lodge

Silver Signature
ʼn Baie doeltreffende reeks skoonmaakmiddels vir die huis, kantoor, gastehuis, skool of produkte wat gebruik kan word in kantore, fabrieke of winkels, is beskikbaar by Silver Signature. Boonop kry jy hierdie kwaliteit produkte teen sakpaspryse. Marco Calitz is die besturende direkteur van Silver Signature. Die produktereeks bestaan uit ʼn verskeidenheid skoonmaakmiddels, sepe, seephouers, teëlskoonmakers, vullissakke, industriële sepe, produkte vir gastehuise soos sjampoe, opknappers, stortkappies, stortjel en toiletpapier. Besoek hulle webtuiste – https://silversignature.co.za/ of Facebookblad: https://www.facebook.com/silversignature1

Steyn IP
Iets wat elke dag belangriker word in die wêreld waarin ons leef, is die beskerming van intellektuele eiendom. ʼn Prokureursfirma wat daarin spesialiseer, is IP Steyn. Christiaan Steyn, ʼn prokureur, het IP Steyn in 2020 begin en fokus daarop om handelsmerke, patente, outeursreg en ander intellektuele eiendom te beskerm. Die oogmerk van sy firma is veral om innovasie en kreatiwiteit te beskerm sodat kunstenaars en ondernemings ten volle daarby kan baat. Suid-Afrika is ʼn land met ʼn groot verskeidenheid tale en kulture en elkeen van die tale verdien die nodige respek. Afrikaans is soos elke ander taal in Suid-Afrika, ʼn belangrike deel van ons land se rykdom, en geniet die nodige beskerming, sê Christiaan. Besoek die webblad https://steynip.com of maak ʼn draai op die Facebookblad: https://facebook.com/steynip

Swier
ʼn Besigheid met wortels in Moorreesburg in die Swartland, spog met die mooi Afrikaanse naam, SWIER. Net soos die naam waarborg, verskaf SWIER verskeie unieke en elegante tuisdekorprodukte. Die reeks sluit produkte soos dekoratiewe kussings, tafeldoeke, tafellopers, snyplanke en selfs meubelstukke in. Alles om swier aan jou huis en omgewing te verleen. Die besigheid is in 2018 deur Wilinda Hanekom gevestig en saam met ʼn span ander kundiges sorg sy vir die mooiste produkte. Heel eerste word daar ʼn besonderse foto geneem deur Daniela Louw en dit dien dan as inspirasie vir die ontwerp van een of ander unieke produk. Entrepreneurs reg oor die land verkoop ook van SWIER se produkte. By SWIER word daar vreugde geskep. Besoek hulle webblad: www.swier.co.za of loer in op hul Facebookblad: https://www.facebook.com/profile.php?id=100063449395924

The Bookkeeper Shop
As jy van boekwinkels hou, gaan maak ʼn draai by The Bookkeeper Shop in die ooste van Pretoria. Rachelle Cilliers het vier jaar gelede die deure van hierdie onafhanklike boekwinkel oopgemaak en hier word boeke vir oud en jonk verkoop en ook gereeld nuwe boeke bekendgestel. Daar is min dinge wat so belangrik in die lewe is, soos leesvaardigheid en kennis, en The Bookkeeper Shop omarm hierdie dinge en maak seker dat niemand te kort skiet nie. Hulle is trots Afrikaans en sonder die woorde welkom, leesboek, koffiekuiers, verdomp en boekhouer as hul gunsteling-Afrikaanse woorde uit. Boekhouer? Wel, iemand wat lief is vir boeke, is ʼn boekhouer! Besoek die webblad: www.thebookkeepershop.co.za of loer in op Facebook: (3) The Book Keeper Shop | Pretoria | Facebook

The Fat Butcher
Thian de Smidt het voor ʼn reuse-uitdaging te staan gekom toe hy sy werk in 2009 verloor het. Toe hy nie ander werk kon kry nie, het hy ʼn slaghuis op Ventersburg gekoop en in 2010 die slaghuis se deure oopgemaak. Met die hulp van biltongverkope by fietswedrenne, feeste, wynskoue en ander handelskoue het The Fat Butcher, met sy “Moerze lekker biltong” gou ʼn bekende handelsmerk geword. Die slaghuis in Ventersburg langs die N1 roete wat deur die dorp loop, verkoop ook allerlei heerlike eetgoed en fantastiese pasteie en ʼn mens durf nie daar verbyry nie. Thian glo die sukses van enige besigheid word bepaal deur die passie waarmee jy dinge aanpak. Vir bestellings van hulle heerlike biltong en ander nie-bederfbare produkte besoek https://www.thefatbutcher.online/about-us/ of gaan kyk op hulle Facebookblad: https://web.facebook.com/thefatbutcher

Tjhoko Paint
Tjhoko Paint is uit ʼn verfmaatskappy wat al 50 jaar bestaan, gebore. Jaco Vosloo, Thinus Erasmus, Nadine Vosloo, Karen Nortje en Thinus Nortje staan aan die stuur van sake. Hierdie uitsonderlike verf is nie-toksies en ekovriendelik en daar is ʼn besonder ryke verskeidenheid van kleure. Die verf het nie ʼn onderlaag of deklaag nodig nie, aangesien dit reeds in die verf ingemeng is. Daarom vereis dit weinig voorbereiding en die afwerking lyk professioneel. Elkeen van die kleure is na iemand vernoem, dus vertel elke kleur ʼn storie. Tjhoko Paint word na ʼn paar lande soos Switserland, Australië, Nieu-Seeland, Skotland en Ierland uitgevoer. Besoek die webblad www.tjhokopaint.co.za of Facebookblad www.facebook.com/tjhokopaint

Tjirp
Daar is altyd iets besonders aan enigiets wat handgemaak is. By Tjirp kan jy unieke handgemaakte klei-juwele koop. Jacorien Swart is die eienaar van Tjirp en bedryf dit al sedert 2015. Sy glo daaraan dat elke volwasse vrou dit tog geniet om soms speels en kreatief te wees soos ʼn jong dogtertjie, en haar klei-juwele gee dan aan vroue hierdie geleentheid. Jacorien se leuse in die lewe is: Niks wat mooi is, is perfek nie. Besoek die webtuiste: https://www.tjirp.shop/ of loer in op Facebook: https://web.facebook.com/groups/1082618885994623/user/100044473508010

Tuisteskepper
By Tuisteskepper wag Sarleen Miles, ʼn interieure ontwerper, om jou te help om jou huis mooi te maak. Die besigheid het in 2020 sy deure oopgemaak. Tuisteskepper wil van elke huis ʼn tuiste maak. Hulle lewer die volgende dienste: binnenshuise ontwerp en stilering en versiering. Hulle doen ook opknappings en gee vooraf ʼn digitale voorstelling van die beplande eindproduk. Tuisteskepper het ook ʼn katalogus waaruit die mooiste geskenke aanlyn bestel kan word. ʼn Reeks dekorprodukte wat spesifiek aangepas kan word volgens elke kliënt se spesifikasies maak dinge soveel makliker. Dit sluit dinge soos tafeldoeke, strooikussings en voorskote in. Die besigheid se mooi Afrikaanse naam Tuisteskepper verklap ook dat Sarleen trots is op haar taal en herkoms. Besoek die webblad www.tuisteskepper.com of loer in op Facebook https://www.facebook.com/tuisteskepper

Tummies full of Love
Vir besige ouers met ʼn baba in die huis, is dit altyd ʼn uitdaging om die regte, gesonde kos te gee wanneer die tyd reg is. Tummies full of Love is ʼn onderneming wat dit nou soveel makliker maak. Marita Bezuidenhout staan aan die stuur van sake. Hulle voorsien ʼn reeks babakos sonder enige bygevoegde suiker, sout, stysels en preserveermiddels. Die reeks word gevries verkoop sodat die ouers dit kan gebruik wanneer nodig. Tummies full of Love is beskikbaar in ʼn paar winkels, maar kan ook aanlyn bestel word en afgehaal word by die naaste verspreider in Johannesburg of Pretoria. Die besigheid het onlangs ook begin om na die Kaap te versprei.
Besoek hulle webtuiste: www.tummiesfulloflove.co.za of gaan loer in by die Facebookblad: https://web.facebook.com/Tummiesfulloflove/?_rdc=1&_rdr

Viljoen Juweliers
Viljoen Juweliers is ʼn vervaardigende juwelierswinkel in Worcester wat reeds dekades lank bestaan. Howie Viljoen se oupa, JL Viljoen, het hierdie winkel in 1950 oopgemaak. In 1992 het Howie eienaarskap by sy pa oorgeneem. ʼn Juwelier wat in 2007 by hulle aangesluit het, Merle Botha, het haar vennootskap in 2016 beklink. Vandag staan sy en Howie saam aan die stuur. Vier professionele ontwerpers hanteer die konsultasies met kliënte en die juwele word alles onder een dak vervaardig. Viljoen Juweliers is besonder trots op hulle werkswinkel waar visie tot lewe kom. Hier is kwaliteit en ʼn uitsonderlike ontwerp kardinaal. Vir Viljoen Juweliers is dit belangrik om te kan handel dryf in die taal waarin kliënte gemaklik voel. Besoek die webtuiste: https://viljoenjewellers.com/ of maak ʼn draai op hul Facebookblad: https://www.facebook.com/ViljoenJewel