“Met die nuwe aanlyn projek Bloktyd ontsluit Huisgenoot die wêreld van voorgeskrewe Afrikaanse leeswerk vir leerders op nuwe maniere wat boekwurms én minder ywerige lesers sal boei.“ – Yvonne Beyers, Huisgenoot-redakteur
Bloktyd is ’n nuwe reeks video’s en luisterboeke vir senior hoërskoolleerders wat die jaar se Afrikaanse letterkundige leerwerk baie makliker en lekkerder maak. Die aanlyn reeks word aangebied deur Huisgenoot in samewerking met NB-Uitgewers en Netwerk24, en die inhoud is beskikbaar op Huisgenoot.com. Die projek fokus tans op voorgeskrewe tekste vir matrieks: Krismis van Map Jacobs uit die pen van Adam Small, en Onderwêreld deur Fanie Viljoen, beide van NB-Uitgewers.
Sê Beyers: “Ons span onder meer voorlesings, ontledings, gesprekke en treffende gedramatiseerde tonele in om voorgeskrewe romans, dramas en gedigte te bespreek – en als word lekker toeganklik met video of klank aangebied. Dit beteken leerders kan hulle op nuwe maniere verdiep in die wêreld van hul voorgeskrewe leeswerk, en ons aanlyn video’s en klankopnames gebruik om hul leeswerk beter te verstaan. Op dié manier kan dit ook help met skoolwerk en voorbereiding vir die eksamen.

Voorgeskrewe boeke
Bloktyd se ondersteunende en byderwetse kortvideo’s werp lig op belangrike temas en inligting en sluit onderhoude met skrywers of kenners, konteks-verduidelikings, narratiewe voorlesings van sleuteltonele, asook hulp met spesifiek moeilike vrae in. Die inhoud oor Krismis van Map Jacobs is nou beskikbaar op Huisgenoot.com, en die inhoud oor Onderwêreld sal binnekort beskikbaar gestel word.
Poësie
Nog ’n deel van die projek sal fokus op poësie. Die 22 opvoedkundige kortvideo’s in dié reeks sal kyk na talle van die gedigte wat deel vorm van matrieks se kurrikulum en fokus op algemene poëtiese begrippe asook indiepte-ontleding. Die geskiedkundige konteks en inhoud van elke gedig word bespreek en bekendes soos Jurgen McEwan, Hunter Plaatjies, Euodia Samson, Paul Savage en Zenobia Kloppers sit hand by met die aanbieding en voorlees van gedigte. Samesteller Susan Samuel-van Rooyen meen die aanhoor hiervan sal ’n groot bydrae lewer tot leerders se begrip van ritme en toon. Die poësie-reeks se aanlyn inhoud sal binnekort op Huisgenoot.com beskikbaar wees.
Luisterboeke
Verder sal daar ook binnekort luisterboeke beskikbaar wees vir verskeie senior grade se Afrikaanse boeke (ook vir addisioneletaal-leerders). Dié boeke sal insluit Pienk is nie vir sissies nie deur Christien Neser, Verevrou deur Jan van Tonder, Hoopvol deur Derick van der Walt en dan ook Krismis van Map Jacobs deur Adam Small.
Besoek Bloktyd op Huisgenoot.com en ontdek die spesiale ervaring van die digitale boekekamer.
Vir meer inligting kontak Lea Gerber: lea.gerber@media24.co