Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Sedert November 2022, toe ChatGPT (“Chat Generative Pre-trained Transformer”) bekendgestel is, is kunsmatige intelligensie en wat ‘n mens alles daarmee kan vermag, op almal se lippe. Die taalmodel, ChatGPT, is deur die maatskappy OpenAI in San Francisco ontwikkel en is grootliks geskoei op hulle GPT-3-taalmodel, maar verfyn deur leer onder toesig en versterkingsleer toe te pas (“supervised and reinforcement learning”). Die kletsbot stoor kennis wat dan later op verskillende, maar verwante probleme toegepas kan word. Die gebruiker vra die BOT ‘n vraag en dan reageer hy teen ‘n verstommende tempo en binne sekondes het jy jou antwoord – nie altyd 100% akkkuraat nie, maar gee jy hom nog wenke of inligting en konteks, is die volgende probeerslag dikwels nader aan die kol. Boonop kan die blikbrein in Afrikaans gesels! En afgesien van tekortkominge/beperkinge – hy verstaan onder andere nie nuanse nie, maak spel-, vertaal- en feitefoute en pleeg plagiaat – het ChatGPT vinnig die aandag getrek vir sy vermoë om gedetailleerde en geartikuleerde antwoorde oor talle kennisdomeine te verskaf. Dus ‘n kunsmatige intelligensie-platform wat geleer is om die mens met ‘n verskeidenheid van take by te staan. Maar al leer die BOT uit sy foute – en vinnig ook – speel die mens op die stadium steeds ‘n belangrike rol en moet die BOT se werk gekontroleer word. Soos die taalkundige Jana Luther tereg sê: “Moenie als wat kletsbotte vertel vir soetkoek opeet nie.” Dit is dalk tydbesparende tegnologie, en ‘n baie goeie beginpunt as ‘n mens navorsing doen, maar dit kan jou met meer probleme as oplossings opsaal as jy nie bedag is op die beperkinge nie.
So werk die BOT
Eerstens moet jy op OpenAI ChatGPT-webtuiste registreer om die kletsbot te gebruik – dit is nou as jy dit kan regkry, want binne vyf dae na die bekendstelling, was daar reeds 1 miljoen gebruikers en die getal groei daagliks.
As jy geregisteer het, kan jy begin vrae vra. Die KI prosesseer dan jou versoek en reageer gebaseer op die inligting wat dit tot sy beskikking het. Tans strek ChatGPT se inligting tot sover as 2021 – en die jongste inligting ontbreek dus, maar na gelang die gebruik toeneem en meer inligting ingevoer word, raak die BOT slimmer en is dit ‘n kragtige werktuig om vrae oor ‘n verskeidenheid onderwerpe te beantwoord, aanbevelings te maak en selfs geskrewe inhoud te genereer.
Die mens kraai steeds koning
“Jy moet wenke, hulpmiddels en konteks aan die BOT verskaf en dan die vermoë hê om die inhoud te redigeer en te hersien, en juis daarom moet ‘n mens kreatief wees om die BOT te gebruik.” – Adrian Twarog in gesprek op Tegnologie met Blaine op RSG (21 Januarie 2023)
‘n Sleutelfaktor van ChatGPT is dat dit menslike teks outomaties kan genereer, maar nie die mens ten volle kan vervang nie – nog nie. Ondernemings en individue kan dit wel vir baie take aanwend, soos bemarkingsnavorsing, inhoudsgenerering, kliëntediens, virtuele ondersteuning en aanlyn onderrig.
By ‘n onlangse Maroela Media Skryfnet-werkswinkel saam met Christien Neser het die kreatiewe jongmense wat die werkswinkel bygewoon het, bewys dat ‘n masjien nie dieselfde kreatiwiteit as die mens het nie. Die kletsbot en die deelnemers het dieselfde opdrag gekry en alhoewel die kletsbot binne 30 sekondes klaar was en die groep 30 minute lank besig was, vertel Christien dat die “kreatiwiteit van die slimkoppe gelukkig die van kunsmatige intelligensie s’n oortref het”.
Gebruike van ChatGPT sluit in:
- Teksgenerering vir nuusartikels, fiksie en poësie
- Kommunikasiekonsultant en joernalis, Ed Richardson, in ‘n gesprek met Mariska Spoormaker op RSG, glo ChatGPT sal “’n onomkeerbare invloed op die mediaveld hê en dat joernaliste sal moet diversifiseer en spesialiseer om te verhoed dat die rekenaar hul werk oorneem.” Joernaliste in die gedrukte media sal daarom moet aanpas om hulle werk duidelik te onderskei van die BOT se skryfwerk. Wat Richardson wel bekommer is waar die nuwe generasie hulle ondervinding sal kry om navorsing te doen, en so meer, want die rekenaar doen dit reeds en blitsvinnig. Een tekortkoming is die feit dat die BOT nie plagiaat kan optel nie – ‘n kwessie wat natuurlik uiters belangrik is, veral in akademiese skryfwerk. Die BOT kan ook nie onderhoude met regte mense voer nie – dus sal joernaliste steeds moet uitgaan en onderhoude gaan voer. Richardson beveel dus aan dat onderwysers, lektore, ens. opleiding sal moet ondergaan om die kwessie van BOT-gegenereerde skryfwerk te hanteer.
- Opsomming van langer dokumente of artikels
- Beantwoording van vrae as ‘n potensiële plaasvervanger vir Google Search
- Generering van storie-idees of hoofopskrifte
- Generering van produkbeskrywings, bloginskrywings en ander tipes inhoud
- Kan in ‘n mate die rol van tutor vervul as kinders huiswerk moet doen en vrae het of probleme moet oplos
Beslis nie alwetend nie
ChatGPT kan verkeerde antwoorde gee – antwoorde wat dalk moontlik klink, maar verkeerd is of nie sin maak nie. Die rede hiervoor is dat die KI nie vanself reg van verkeerd kan onderskei nie en slegs subjektiewe antwoorde gee. Daarom moet dit steeds geleer word om die verskil te ken en dit is natuurlik nie ‘n maklike taak nie.
Die gebruiker, veral in Afrikaans, moet steeds taal ken, want die BOT maak vertaalfoute, bv. indigenous plants vertaal hy met inwonende plante i.p.v. inheemse, ens.
Wat ook belangrik is, is hoe die versoek bewoord word. ChatGPT kan volgens die manier waarop die vraag gevra word, sy vermoë om te antwoord of nie te antwoord nie, verander weens die manier waarop hy leer.
Plagiaat
ChatGPT kan plagiaat pleeg. Die BOT verkry data van oraloor op die internet as deel van sy modelleer en sommige van die data word nie as algemene kennis beskou nie. As jy dus iets by ‘n geskrewe stuk werk insluit en dit word nie as algemene kennis beskou nie, of jy is nie die primêre bron nie, moet jy dit aanhaal om plagiaat te vermy. Hoewel die kletsbot aanhalings kan verskaf en selfs soms antiplagiaatprogramme kan omseil, moet jy baie versigtig wees wanneer jy die BOT gebruik.
Na gelang ChatGPT al hoe meer gebruik word in skryfwerk, word KI-programme geskep om vas te stel of ChatGPT of ander soorgelyke modelle gebruik is. GPTZero is byvoorbeeld een so ‘n program.

Onnies sal moet leer hoe werk die BOT
In nog ‘n gesprek op driesestig op RSG (18 Januarie 2023), sê prof Darelle van Greunen, direkteur van die Sentrum vir Gemeenskapstegnologie by die Nelson Mandela Universiteit, dat ChatGPT beslis die onderwys sal raak. Die jonger generasie is goed vertroud met die jongste tegnologie en weet meestal meer as die onderwyser, maar dit bly steeds die taak van die onderwyser om die grondslag te lê vir die kind se taalopvoeding en -begrip. ChatGPT is nie op hoogte van veranderinge in die kurrikulum nie en leer wat hom gevoer word – hoewel dit vinnig geskied – maar wanneer dit by omskrywing en interpretasie van inligting kom, raak dit problematies omdat die BOT subjektief interpreteer. Die masjien het konteks nodig om dinge te omskryf en dit gee aanleiding tot vreemde stories en paragrawe wat nie noodwendig aanmekaar koppel of sin maak nie. Prof van Greunen noem ook dat skryfstyle binne dieselfde stuk kan verskil – juis omdat die BOT die inligting vir sy “storie” van oraloor versamel het. M.a.w. soos wat prof Bertman Haskins van die Nelson Mandela Universiteit dit stel: “Die (taal)model word geleer om die teks op te breek en konteks te soek om nuwe voorbeelde te gegenereer. Navorsers moet egter die data in spesifieke vorms deurgee omdat die huidige modelle (soos ChatGPT) vooraf opgelei is. Die bronne is deur verskillende mense geskryf en ons weet nie wat die BOT gebruik en wat nie en ook nie wat noodwendig korrek is nie. Maar hoewel ChatGPT se data reeds verouderd is (2021), word daar voortdurend aan die model herbou en word nog voorbeelde ingevoer.” Dit is hoekom die model ook nog oopgestel is, sodat mense nog inligting kan invoer om die BOT verder te leer. Volgens Haskins “sit ons met ‘n elektroniese woordbom”.
Dawie Roodt het op Sakenuus in die RSG-program Op en wakker (16 Januarie) gesê dat ChatGPT verstommend is en alhoewel dit sekere beroepe kan ontwrig, is dit die aard van die tegnologie en sal ons moet leer om daarmee saam te lewe. Sê Roodt: “Hierdie tegnologie is nog in die beginfase, maar dit gaan beslis ontwrigtend wees.”
Die invloed van ChatGPT op toetse en eksamens
In die RSG-program, Ons en die onderwys van 19 Februarie 2023 het prof Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch sy mening uitgespreek oor die invloed wat ChatGPT op toetse en eksamens kan hê.
“Ons lewe in die tyd van die Vierde Industriële Revolusie waar tegnologieë met mekaar praat en van mekaar leer. ‘n Kletsbot soos ChatGPT is gebruikersvriendelik en kan opstelle, gedigte en stories skryf en selfs sekere wiskundeprobleme oplos, maar jy (die mens) moet hom steeds die regte en nodige inligting voer of dan leer. Die BOT weet selfs hoe om plagiaat te omseil en as hy foute maak, kan hy dit regstel mits hy die nodige inligting gevoer word. Die vraag is egter hoe universiteite en skole in die toekoms gaan assesseer – veral as jy nie weet of dit die rekenaar of die student/leerder se werk was nie.
“Sommige universiteite het reeds probeer om terug te beweeg na eksamens waar studente sonder rekenaars en met pen en papier die eksamen/toets moet aflê, maar dit is nie ‘n volhoubare oplossing nie. Daarom moet kinders geleer word om kreatief te reageer op kennis en moet ons weer kyk na hoe ons in die toekoms die student/leerder se werk gaan assesseer, of dan sy kennis toets. Ons sal heeltemal nuut hieroor moet dink en meer ingestel raak op probleemoplossing en kritiese denke. ‘n Meer aktiewe en interaktiewe leerervaring waar die onderwyser/dosent saam met die leerder/student na oplossings soek, is ‘n goeie benadering, maar dat eksamens en veral die matriekeksamen sal moet verander, blyk al hoe meer nodig te wees.
“Om aan te hou om van leerders te verwag om hersiening te doen, is verouderd en ons sal daarvan moet wegbeweeg. Vandag se generasie wil elke dag nuwe dinge leer en met die tegnologie interaksie hê.
“Dit is so dat KI ‘n lekker hulpmiddel is, maar ons moet bedag daarop wees dat dit ‘n mens se kritiese denkvermoë (en dus ook probleemoplossing) skade kan aandoen. Dit is belangrik om te verstaan wat die rede agter ‘n spesifieke antwoord of oplossing is, want dit gee jou die vermoë om wanneer dit nodig is, op jou voete te dink.
“Daarom bly dit steeds onderwysers en dosente se plig om kinders te leer en moet ‘n mens te alle tye akademiese integriteit handhaaf. Leerders het dit nodig. Praat dus openlik oor ChatGPT, leer hulle oor die voor- en nadele en die impak wat dit op hulle kan hê en gebruik dit dan tot jou voordeel.”
Sewe goed wat jy nie van ChatGPT geweet het nie
ChatGPT kan
- ‘n logo skep – bestaande en nuwe handelsmerke;
- ‘n 3-D animasie skep;
- musiek komponeer;
- inhoud in veelvuldige tale skep;
- ‘n boek skryf of ten minste ‘n hoofstuk;
- as ‘n Linux- virtuele masjien werk (vir die meer gevorderde gebruikers); en
- ‘n teksgebaseerde rolspelspeletjie speel.

Sewe wenke om die meeste uit die kletsbot te kry
- Gebruik eenvoudige en spesifieke porboodskappe (“prompts”).
- Raak deel van die gesprek – vra nog ‘n vraag/vrae as die respons nie heeltemal in die kol is nie.
- Vra die BOT om weer te probeer – wees dus meer spesifiek of stel die vraag anders.
- Leer die BOT jou skryfstyl – gee hom iets wat jy geskryf het, vra hom om dit te analiseer sodat hy weet watter styl om te gebruik.
- Vra vir ‘n hoër woordtelling as wat jy nodig het – want jy kan altyd sny aan die teks.
- Moenie bang wees om die inhoud te redigeer nie en die feite na te gaan nie. Proeflees die werk vir taal- en spelfoute en maak seker die BOT maak nie stellings waarmee jy nie gemaklik voel nie.
- Wees bewus van ChatGPT se tekortkominge: Die BOT kan nie alles doen nie en het ook nie die nuutste inligting nie (hy is net tot 2021 geleer) en soek daarom nie die jongste inligting op die internet nie.
Kortom, ChatGPT is ‘n produktiwiteitshulpmiddel wat jou kan help om ingewikkelde en tydrowende take af te handel, maar dit is nie iets wat jou werk ten volle kan vervang nie. Maak seker jy lees en gaan alles na wat jy skep.
Definisies van Kunsmatige Intelligensie
Volgens Merriam-Webster, is Kunsmatige Intelligensie ‘n “onderafdeling van rekenaarwetenskap wat ten doel het om programme saam te stel wat funksies kan verrig wat met die van menslike intelligensie vergelykbaar is. Dit is ‘n multidissiplinêre vakdissipline wat inligting uit die sielkunde, sosiologie, neurologie, wiskunde, rekenaarwetenskap, filosofie en biologie insluit. KI kan ook beskou word as die rekenaargebaseerde simulasie van intelligente gedrag, of die masjiennabootsing van intelligente gedrag.”
Die Oxford verwoord dit so: “KI is die teorie en ontwikkeling van rekenaarstelsels wat take uitvoer wat normale menslike intelligensie vereis, soos visuele persepsie, spraakherkenning, besluitneming en vertaling.”
Techopedia sê KI beteken “die skepping van sagteware met die vermoë om die omgewing te ontleed met behulp van voorafbepaalde reëls, soekalgoritmes en patroonherkenning waarop strategiese besluitneming volg”.
Interessant: AfriKI skep gedigte in Afrikaans
Imke van Heerden, Anil Bas en Etienne van Heerden het onlangs ‘n digbundel, Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte saamgestel. Die bundel is uitgegee deur Naledi, en beskikbaar by Graffiti Boeke.
Hierdie bundel “is ’n poging om die moontlikhede van Afrikaans met behulp van kunsmatige intelligensie te ontdek. Die gedigte is kokreatief geskep, naamlik ‘n digter en ‘n masjien het saam die gedigte geskep. Frases KI-teks is sorgvuldig deur die outeur saamgeweef om verse te vorm, as deel van ‘n eksperiment wat vra en verken: Hoe kan hierdie tegnologie die digkuns aanvul en uitdaag?
“Imke van Heerden en Anil Bas lei tans ‘n akademiese navorsingsprojek, AI as Author, in Istanboel en het in 2020 ‘n generatiewe taalmodel genaamd AfriKI – Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie – ontwikkel. Om Afrikaans aan te leer, het die taalmodel as datastel Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld gelees. AfriKI is as instrument ingespan om die eerste KI-gedigte in Afrikaans te help skep. “‘n Voorbeeld:
Geheimsinnige ideale
paadjie
digby die huis.
Silwerwit in die soontoe,
saggies soos ’n spokerigheid.
Lees meer hier.

Bronne:
ChatGPT explained: what is it and why is it important? | Tom’s Guide (tomsguide.com)
7 things you didn’t know that ChatGPT can do | Tom’s Guide (tomsguide.com)
7 best ChatGPT tips to get the most out of the chatbot | Tom’s Guide (tomsguide.com)
- Die bot wat jou skryfwerk doen – 12 Januarie 2023 op driesestig
- Onnies sal moet leer hoe werk die bot – 18 Januarie 2023 op driesestig
- Dawie Roodt op Sakenuus – 16 Januarie 2023 op Op en Wakker
- Tegnologie met Blaine – 21 Januarie 2023
- Ons en die onderwys – 19 Februarie 2023
- Kan ChatGPT ‘n goeie filosoof wees? – 23 Januarie 2023 op Op en Wakker
Kunsmatige intelligensie – LitNet
Kunsmatige intelligensie | Artificial intelligence Archives – LitNet
Kyk ook:
AfriKI: Kunsmatige Intelligensie-gedigte in Afrikaans | Videolesing in Engels en Afrikaans – LitNet