Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Dit verbluf dat die Wes-Kaapse polisiediens voortgaan met ‘n verengelsingspoging wat reeds in die Noord-Kaap ná ‘n draai in die hof in die stof gebyt het.” – Dr Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad (mediavrystelling 12 Maart 2023)
Die kwessie oor die taalbeleid van die Suid-Afrikaanse polisiediens is nie nuut nie, maar is weer eens ter sprake nadat dit aan die lig gekom het dat die Wes-Kaapse polisiediens weier om nie-Engelse dossiere van polisiekantore te ontvang, afgesien daarvan dat die SAPD reeds voorheen daarteen gewaarsku is dat so ‘n eentalige beleid nie kan werk nie. Dit blyk ook dat die polisiediens se aand- en môrepraatjies nie ooreenstem nie, want volgens die SAPD-woordvoerder, brig. Novela Potelwa, mag niemand weggewys word nie en moet verklarings in al 11 amptelike tale afgeneem word, veral as die klaer nie Engels magtig is nie. In dieselfde asem word daar egter gesê dat daar nie van die beamptes verwag word om as tolke of vertalers op te tree nie. En tog word nie-Engelse dossiere nie aanvaar nie.
“Die gevolg van taalfoute in ‘n verklaring kan wees dat slagoffers ‘n hofsaak verloor omdat hulle weergawe daar van dié in die oorspronklike verklaring sal verskil.” – Alana Bailey, AfriForum
Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum in ‘n berig op Netwerk24 skend so ‘n beleid die regte van die oorgrote meerderheid inwoners van die Wes-Kaap, aangesien hulle moedertaal nie Engels is nie. Die statistiek beaam die stelling, want daarvolgens is ongeveer die helfte van die Wes-Kaap se inwoners se eerste taal Afrikaans, en diegene wie se huistaal nie Afrikaans is nie, is wel Afrikaans magtig. Wat belangrik is, is die feit dat Engels slegs 20% van die mense van die Wes-Kaap se eerste taal is. Bailey sê ook dat “die Wet op die Gebruik van Amptelike tale, Wet 12 van 2012, voorsiening maak vir die gebruik van ten minste drie tale op nasionale vlak en onderskeidelik ook die mees gebruikte drie tale per provinsie”.
Mees weerloses word geraak
“So ‘n beleid het ‘n enorme impak op gemeenskappe en bemoeilik toegang tot die polisie se dienste.” – Kommissaris Aäron Messelaar, kaptein van die Griekwakoningshuis
Dr Zakeera Docrat, ‘n forensiese taalkundige van die Universiteit van Wes-Kaapland, wat navorsing oor meertaligheid in die polisiediens en regsisteem doen, sê dat “veral sensitiewe sake, soos kindermishandeling, swaar getref word” en gee as voorbeeld ‘n Afrikaanssprekende kind wat ‘n gemeenskapsdialek praat en ‘n verklaring in Engels moet aflê wat deur ‘n Xhosaspreker afgeneem word, wie se moedertaal ook nie Engels is nie en “wat Engels dikwels self nie onder die knie het nie”.
“Die aandrang op slegs-Engels skep onoplosbare probleme vir polisiebeamptes en klaers. Hierdie probleme kan net by wyse van ‘n meertalige beleid en praktyke opgelos word.” Aldus dr Docrat.
Volgens dr Steenkamp moet die taalbeleide van die Wes-Kaapse polisiediens dringend hersien word om geregtigheid vir gewone burgers te verseker.
‘n Slotgedagte
Prof Hans du Plessis skryf in ‘n artikel op Maroela Media (September 2020): “Meer as 50% van Suid-Afrikaners verstaan waarskynlik nie Engels of Afrikaans behoorlik nie. Om dus slegs Engels (en/of Afrikaans) vir amptelike kommunikasie te gebruik, is daarom ‘n gruwelike skending van die meerderheid van Suid-Afrikaners se fundamentele reg en boonop ongrondwetlik.”
Bronne:
Polisie gekap oor taalbeleid in Wes-Kaap | Netwerk24 (ATR-mediavrystelling, 12 Maart 2023)
Verklarings by polisie móét nou net in Engels afgelê word | Netwerk24
Polisie in Wes-Kaap se taalbeleid onder skoot | Netwerk24
Inheemse veeltaligheid: Die mens is die taal wat hy praat | Maroela Media