Die wenners van vanjaar se Fiësta-toekennings is op Donderdagaand 9 Maart by ’n intieme funksie by The Lookout in Kaapstad se Waterfront aangekondig.
Die Fiëstas vereer hoofsaaklik verhoogproduksies wat op kunstefeeste reg oor die land gedebuteer het. Vanjaar was die 13e keer dat hierdie geleentheid plaasgevind het. Suidooster se Kaashifa, Jawaahier Petersen en Fraksie se Henk, Melt Sieberhagen, het as seremoniemeesters opgetree. Schalk Joubert, Ramon Alexander en Babalwa Mentjies het vir heerlike musikale vermaak gesorg.
Benewens die pryse wat in die dertien kategorieë uitgedeel is, is twee besonderse mense ook vir hulle lewensbydrae tot die kunste vereer. Hulle is dr. Diana Ferrus, ’n skrywer, digter en aktivis en die musiek-maestro prof. Hubert van der Spuy.
Die wenners in die onderskeie kategorieë is:
Beste spel in ’n hoofrol
Sandra Prinsloo vir Die moeder (US Woordfees)
Beste spel in ’n ondersteunende rol
Carlo Daniels vir Ek, Anna van Wyk (KKNK)
Beste regie
Christiaan Olwagen vir Die moeder (US Woordfees)
Beste teaterontwerp
Gideon Lombard vir die klankbaan en ontwerp van Karatara (KKNK, Suidoosterfees)
Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling
Adriaan Havenga vir Iewers in die grys (US Woordfees)
Beste prestasie in klassieke musiek
Handel at Home (US Woordfees, KKNK)
Beste prestasie in visuele kuns
Pitika Ntuli vir Azibuyele Emasiswene / Terugkeer na die bron (Vrystaat Kunstefees)
Beste musiekgedrewe produksie
Prima Donna (KKNK)
Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie
The Ancient Voices (Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies) vir Die oerkluts kwyt (KKNK, Suidoosterfees, Aardklop)
Beste feesproduksie
Die moeder (US Woordfees)
Beste opkomende kunstenaar
Adriaan Havenga: teks vir Iewers in die grys en sy spel en teks vir Om skoon te wees (Woordfees en KKNK)
Blou Fiësta
Stemme (Suidoosterfees)
Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale sê dat die verhoogkunstenaars wat gehore die afgelope jaar dwarsdeur die land op besonderse maniere geraak het in die verskillende produksies, is helde wat erkenning verdien. Die kunstenaars wat die tydsgees reg kon lees en besonderse werk kon skep, het uiteindelik as die wenners weggestap.
Die toekennings is nie vanjaar regstreeks uitgesaai nie, maar Fiësta se program op 24 Maart sal aan die glansaand gewy word en ’n insetsel van die aand sal op Bravo! op 26 Maart gewys word.
Nataniël
Gideon Lombard
Dr Diana Ferrus
Christiaan Olwagen
Carlo Daniels
Adriaan Havenga