Persverklaring
Die bekende Afrikaanse tydskrif Kuier het pas aangekondig dat hulle ‘n nuwe redakteur, Lara Atson, op 1 April 2023 verwelkom.
“Kuier het die afgelope 14 jaar ’n yslike bydrae tot die medialandskap gelewer. Ek het die grootste bewondering vir die tydskrif en vir die span wat ’n merkwaardige platform geskep waar mense in die gemeenskap hul stories kan vertel op ‘n manier wat Suid-Afrikaners se daaglikse ervarings en werklikhede weerspieël,” sê Lara. “Dit is vir my ’n groot eer om die leisels oor te neem en stories te help skep wat lesers se hartsnare roer en hulle ophef.”
Kuier het onlangs aangesluit by Media24 se afdeling vir Weeklikse publikasies onder Minette Ferreira, hoofbestuurder van Leefstyl en Gemeenskapsnuus by Media24. Minette glo Lara se uitgebreide tydskrifervaring maak haar die perfekte persoon om Kuier die toekoms in te lei.
“Ons medialandskap verander voortdurend en handelsmerke vereis redaksionele leiers met ’n passie vir inhoud en wat gretig is om op ’n betekenisvolle manier by hul lesers en handelsvennote betrokke te wees.”
Lara het ’n groot impak op die tydskrifwêreld gemaak, met uitmuntende prestasies in haar 15 jaar as ’n joernalis en redakteur sedert sy die graad BA BPhil. Honeurs in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Lara het in 2009 as ’n skrywer by Huisgenoot aangesluit en het in 2017 assistent-redakteur geword. Sy het Huisgenoot se gewilde seksies oor leefstyl, beroemdes en vermaak geredigeer, tesame met handelsmerkuitbreidings insluitende resepte- en ouerskaptydskrifte. In 2019 het Lara as redakteur van die tydskrif tvplus waargeneem voor sy na haar Huisgenoot-pligte teruggekeer het.
Meer oor Kuier
Sedert Kuier se ontstaan in 2009 is dit ’n media-fenomeen wat ’n gemeenskap van Afrikaanse lesers deur verteenwoordiging dien. Die hardwerkende Kuier-vrou lei en verenig haar gemeenskap, en sy verteenwoordig daardie groot Afrikaanse gawe van geselligheid. In Kuier vier ons haar vermoë om elke dag spesiaal te maak deur ons stories en eksklusiewe onderhoude, asook met stories wat harte raak.