’n Heerlike kunstefees wat ’n paar jaar gelede vir die eerste keer op die Weskus sy buiging gemaak het, is Jacobsbaai se Oppiwa-fees wat vanaf 17 tot 19 Maart op hierdie Weskusdorpie plaasvind.
COVID-19 het vir twee jaar ’n steek in die wiel van hierdie feesvieringe gesteek maar vanjaar is die fees terug in ’n splinternuwe formaat. Daar waar ’n mens in Jacobsbaai inry, is daar vanjaar ’n feesterrein. Dan is daar ook drie venues, Oppisee, Oppibult en Oppidorp, waar die verskillende kunstenaars hulle vertonings gaan aanbied. Van ons land se grootste talent gaan hierdie naweek op Jacobsbaai bymekaar kom. Dit sluit kunstenaars soos Nataniël, Koos Kombuis, Jak de Priester, Danie Niehaus, Mathys Roets en Anna Davel in. Benewens opwindende vermaak, kan jy ook verseker wees om heerlike eet- en drinkgoed en tipiese Weskus-gasvryheid raak te loop. Die fondse wat met hierdie fees ingesamel word, word weer in die dorp teruggeploeg, en die lieflike wandelpad langs die Jacobsbaai-kuslyn is juis moontlik gemaak deur geld wat met ‘n vorige Oppiwa-fees ingesamel is. Vir verdere inligting, besoek https://www.oppiwa.co.za/ Kaartjies is beskikbaar by https://www.seatme.co.za/