Maartmaand brand die vreugdevure hoog, want dan vier die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein sy vyftigste bestaansjaar.
NALN wy hom toe aan die behoud en bevordering van die Afrikaanse woordkuns. Hierdie sentrum is op 24 Maart 1973 amptelik geopen deur meneer JP van der Spuy, die toenmalige Minister van Nasionale Opvoeding. Vir ʼn beter tuiste kon die sentrum nie gevra het nie, want die Ou Goewermentsgebou, met sy rooskleurige bakstene, Bayswatersandsteen en rooi teëldak is ʼn statige tuiste vir hierdie kosbare skatte wat daar bewaar word. Van hierdie skatte sluit die volgende in: alle boeke deur ʼn skrywer, alle inligting oor die skrywer, ikonografiese dokumente, oudiovisuele materiaal, persoonlike voorwerpe wat verband hou met die skryf van manuskripmateriaal- en leefwêreld van die skrywer sowel as ʼn omvattende tydskrifversameling.
Die Ou Goewermentsgebou was aanvanklik die setel van die Regering van die Oranjerivierkolonie en die eerste gebou se hoeksteen is in 1875 deur pres. JH Brand gelê. Die ou gebou is feitlik heeltemal vernietig deur ʼn brand in 1908, maar is weer opgebou volgens die planne van Sir Herbert Baker. Boonop is die sandsteentoring van die gebou, wat deel is van die skoonheid daarvan, nou selfs tien meter hoër as die oorspronklike toring. Hierdie gebou is in 1972 tot ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Wyno Simes is sedert 2018 die kurator van NALN. Hy vertel dat die skrywer en akademikus, prof. PJ Nienaber ʼn belangrike rol gespeel het in die totstandkoming van NALN. Hy het onder meer die Nederlands Letterkundig Museum in Documentatiecentrum in Den Haag, en die Archief en Museum voor het Vlaamse Cultuurleven in Antwerpen besoek. Hierdie besoeke het gelei tot die stigting van dokumentasiesentrums by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in 1970.

“In die Vrystaat het die adviserende biblioteekkomitee van die Provinsiale Biblioteekdiens begin om ʼn sogenaamde skrywersbiblioteek op die been te bring waar manuskripte, eerste uitgawes van boeke en personalia van die skrywers van die Vrystaat-provinsie bewaar kan word. Dit was gou duidelik dat dit oorvleuel met die dokumentasiesentrums van die RGN en PJ Nienaber is genader om leiding te neem met die totstandkoming van ʼn sentrum wat nie net sou sorg vir die bewaring van die geskrifte van Vrystaatse skrywers nie en uiteindelik is NALN op 24 Maart 1973 gestig met Nienaber as die eerste heeltydse direkteur,” vertel Wyno.
Die 50ste verjaarsdagviering bereik in Maart ʼn hoogtepunt met ʼn feesrede, die bekendstelling van die Volksblad-redakteurskamer en ʼn gesprek waar daar meer vertel sal word van die geskiedenis van NALN sowel as die gebou.
“Ons feesrede word op Donderdag 9 Maart deur prof. Bernard Odendaal gelewer. Hy was voorheen die hoof van die ATKV-Skryfskool by die Noordwes Universiteit en hy het ʼn besonderse verbintenis met NALN. Op Vrydagaand 10 Maart vind die amptelike inwyding van die Volksblad-redakteurskamer, met kosbare antieke meubels daarin, plaas. Saterdagoggend 11 Maart vind twee gesprekke plaas. Eers sal Leana Lategan meer vertel oor die werksaamhede van NALN. Sy het 41 jaar hier gewerk en het ʼn ongelooflike kennis oor die instansie. Ná haar sal Kobus du Preez, ʼn dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se departement argitektuur meer vertel oor die ryk geskiedenis van hierdie gebou wat NALN huisves en waar die Vrystaatse Volksraad desjare vergader het. Dit stop egter nie daar nie en daar sal dwarsdeur die jaar verskeie boekbekendstellings en ander gebeure by NALN plaasvind om hierdie belangrike mylpaal te gedenk,” sê Wyno.
Enigeen is welkom om enige van hierdie geleenthede gratis by te woon, maar moet vooraf bevestig deur ʼn e-pos te stuur aan Annelien Diedericks. Haar e-posadres is annelien.naln@gmail.com
Donderdag 9 Maart 18:00 Feesrede – Prof. Bernard Odendaal
Vrydag 10 Maart 18:00 – Bekendstelling van die Volksblad-redakteurskamer
Saterdag 11 Maart 10:00 – Leana Lategan – Inligtingsessie oor die geskiedenis van NALN
Kobus du Preez – Inligtingsessie oor die geskiedenis van die gebou.
ʼn Organisasie wat wonderlike werk doen om te help met fondsinsamelingsprojekte ten bate van NALN is die Vriende van NALN-groep. NALN is toenemend afhanklik van skenkings om voort te gaan met die kosbare werk wat daar gedoen word. Verskeie van die onlangse projekte by NALN is juis deur hierdie organisasie befonds. Vir meer inligting stuur ʼn e-pos aan vriendevannaln@gmail.com of besoek hulle Facebookblad.