Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Moedertaalmaandfokus: Arnold Vosloo oor wie hom inspireer, hoekom hy soms “nee” sê, vroeg gaan slaap en opstaan en die wonder van ’n doodgewone radio.
Februarie is Moedertaalmaand met Internasionale Moedertaaldag wat op 21 Februarie gevier word. As deel van ons moedertaalmaandfokus, gesels Afrikaans.com gedurende Februarie met vier bekendes uit verskillende omgewings en agtergronde. Ons doelwit is om hierdeur ons lesers te inspireer om aan te hou groei en die lewe vierkantig in die oë te kyk.
Hierdie reeks is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors, waar 11 vrae ingespan word om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Deelnemers aan die reeks besluit self watter van die vrae hulle wil beantwoord.
Ons het die bekende verhoog- en filmakteur Arnold Vosloo gevra om ons vrae te beantwoord. Vosloo, veral bekend vir sy rolle in die 1999-film The Mummy en daarna The Mummy returns, Blood Diamond, en meer onlangs in die Netflix-reeks, Ludik en die Suid-Afrikaanse film, Griekwastad, op Showmax, woon reeds meer as 30 jaar in Amerika, maar sy wortels in Suid-Afrika bly diep en dis vir hom lekker om in sy moedertaal, Afrikaans, rolle te vertolk.
Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom? Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
“West of the Night”, geskryf deur Beryl Markam. Beryl is in Engeland gebore en het grootgeword in Kenia. Sy was ’n skrywer, ’n avontuurier en ’n perderesiesafrigter. Dit is die beste outobiografie wat ek nog ooit gelees het. Dit is baie mooi geskryf en selfs die skrywer Ernst Hemingway stem met my saam. Sy het nie vir mans teruggestaan op die gebied van perderesies nie en was ook die eerste persoon wat in ’n klein prop-vliegtuig (skroefvliegtuig) trans-Atlanties van die ooste na die weste gevlieg het. Sy het uit Ierland vertrek en letterlik in Kanada neergestort! Mees ongelooflike vrou wat ooit geleef het. Haar lewe is een groot inspirasie en as jy ooit dink om op te gee, dink aan Beryl Markham.
Watter aankoop van ’n R1 000 of minder oor die afgelope 12 maande het ’n groot impak op jou lewe gehad?
Glo dit of nie, ’n gewone batteryaangedrewe radio. As mens ’n radio het, is jy altyd goed ingelig en jy weet wat in die wêreld aangaan, asook in jou eie land en in jou omgewing. Inligting is dadelik beskikbaar en jy het altyd geselskap. Ek woon al meer as 30 jaar in Los Angeles en toe ek ingestem het vir die rol in Griekwastad wou ek my Afrikaans opskerp. Ek praat nog al die jare Afrikaans met my ma en my suster wanneer ek hulle bel of daar gaan kuier, maar ek wou my woordeskat uitbrei en net weer die aksent verfyn. Ek het konstant na RSG geluister en dit het my baie gehelp en natuurlik het ek dit so geniet om ’n fliek te kon maak in my moedertaal!
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Al wat ek op die advertensiebord sal sit, is twee woorde – BE KIND – oftewel – WEES BEHULPSAAM. Dit sê alles.
In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
In die laaste vyf jaar het ek die gewoonte aangekweek om vroeg te gaan slaap in die aand. Ek gaan slaap 8 uur of 9 uur en ek is 4 uur of 5 uur in die oggend weer op. Tensy ek werk natuurlik. Ek staan op, ek is goed uitgerus, ek voel goed en ek het meer ure in my dag en buitendien, daar is ‘n Amerikaner, John Boehner, wat gesê het: “Nothing good happens after 10 at night” en ek stem saam met hom.
Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee? Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Om die waarheid te sê, baie dinge. Ek sê partykeer vir vriende nee, vir familie, vir werk, vir joernaliste. Ek is nou sestig jaar oud en ek het minder môres as gisters en my tyd is kosbaar. Ek wil nou selfsugtig wees met my tyd. Ek het net soveel tyd oor en hoe wil ek dit spandeer? So ek sê makliker nee met ’n geruste hart, want dis my tyd en dit is kosbaar.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek gaan stap. En ek bedoel ek vat die hond of ek gaan op my eie. Ek stap daar op die plaas in Amerika of hier in Suid-Afrka. Ek stap partykeer ’n uur of drie uur lank. As ek gaan stap, sit ek nie musiek in my ore nie, ek luister nie na ’n potgooi nie. Ek stap net by die huis uit met die klere aan my lyf en klaar en op ’n stadium stap jy jouself reg.
