Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Moedertaalmaandfokus: Francois van Coke oor wat hom inspireer, oor ’n gesonde leefstyl en hoe sy familie hom anker.
Februarie is Moedertaalmaand met Internasionale Moedertaaldag wat op 21 Februarie gevier word. As deel van ons moedertaalmaandfokus, gesels Afrikaans.com gedurende Februarie met vier bekendes uit verskillende omgewings en agtergronde. Ons doelwit is om hierdeur ons lesers te inspireer om aan te hou groei en die lewe vierkantig in die oë te kyk.
Hierdie reeks is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors, waar 11 vrae ingespan word om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Deelnemers aan die reeks besluit self watter van die vrae hulle wil beantwoord.
Ons het die gewilde rockmusikant Francois van Coke gevra om ons vrae te beantwoord. Van Coke, stigterslid van die alternatiewe rockgroepe Polisiekar, Van Coke Kartel en Die Gevaar, het in 2015 sy debuutalbum bekendgestel met die vrystelling van die ballade Toe vind ek jou, saam met Karin Zoid. Die liedjie het platinumstatus bereik nadat dit meer as 20 000 keer afgelaai is. Die musiekvideo is aangewys as die grootste Afirkaanse musiekvideo van 2015.
Wat is die boek (of boeke) wat jy mees gereeld al as geskenk gegee het en hoekom?
Of, wat is een tot drie boeke wat ‘n groot invloed op jou lewe gehadhet en hoekom?
Ek het Bruce Springsteen se Born To Run vir twee van my musikantvriende gegee. Ek het die oudiobook geluister en dit het gevoel soos ’n wyse oupa wat sy storie vertel. Ek bewonder sy passie, werksetiek en deeglikheid. Ek is ook ’n groot aanhanger van sy skryfwerk en sy konneksie met sy gehoor. Ek hoop ek is amper nog so cool as ek in my 70’s is.
Watter mislukking of skynbare mislukking het later vir jou sukses ingehou?
Het jy ‘n “gunsteling-” mislukking?
Ek moes in 2014 ophou drink. Dit het vir my te veel geword. Ek het begin drink om my vryheid te vier en dit het my ongelukkig begin beheer. Dit was ’n mislukking om op daardie plek te kom en dit te besef, maar alles in my lewe is beter sonder alkohol. Dit was baie moeilik vir die eerste paar jaar, maar nou besef ek nie eers dat ek nie meer drink nie.

Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
My akoestiese kitaar, Martin D28 – The American original. Elvis, Johnny Cash & Neil Young kan nie verkeerd wees nie.
In die laaste 5 jaar, watter nuwe besef/insig of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Ek het ernstig begin draf. Ek het omtrent geen oefening gedoen tussen 19 tot 33 jaar oud nie. Ek het, toe ek heeltemal oorgewig en onfiks was, besluit om my lewenstyl te verander. Ek het stadig begin gewoond raak aan hardloop, maar in 2021 het ek vir ’n boksgeveg met Derick Hougaard hard geoefen en probeer dit nou volhou. Ek het in 2022 my eerste maraton gehardloop en draf is nou my meditasie; dit is iets wat ek nodig het. Dit is tyd met myself en ’n uur of wat ’n dag wat ek van alles kan vergeet of oor alles dink.
Oor die afgelope 5 jaar, waarvoor sê jy makliker “nee”?
(Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe insig het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Ek het besef hoe om vir samewerkings nee te sê. Dit was vir my baie moeilik, want ek hou daarvan om mense tevrede te stel. Ek het net besef ek sal eerder tyd met my familie spandeer as dit mors op projekte wat nie vir my iets gaan beteken of wat ek nie gaan geniet nie.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Tyd met my familie maak alles beter. As ek hard werk, het ek hulle nog steeds nodig om my te anker.
