Skrywer: Alita Steenkamp
Onse Lucas het menige se versugting uitgespreek in sy liedjie “Miljoen”. Wie is daar wat nou nog nie eenmaal kon dagdroom oor ʼn ekstra miljoenrand in die bank nie? Wat sou jy nie alles daarmee kon doen nie? Iemand wat dit sy missie gemaak het om jong mense te inspireer en te help om so ’n droom te laat realiseer, is Albert van Wyk, ’n jong entrepreneur wat reeds op die ouderdom van 22 jaar sy eerste miljoen gemaak het.
Vir die afgelope vyf jaar is Albert besig met skoolbesoeke waar hy die kinders sy storie vertel, aan hulle verduidelik dat dit glad nie so vergesog is nie en uiteindelik deel hy wenke oor hoe om dit reg te kry.
Albert se verhaal begin as ’n vierjarige seuntjie. Hy het saam met sy pa na die fietswinkel gegaan sodat hy vir hom ’n fiets kon kies vir sy verjaarsdag. Die een waarop hy sy hart verloor het, was egter veels te duur vir sy pa se sak, en Albert moes maar sy teleurstelling sluk. Dit was egter die vonk in die kruitvat om hom te laat ondersoek instel waarom sy ouers nie alles kon bekostig wat sommige van sy maats se ouers kon doen nie. Hy het begin om boeke te lees waarin bekende en welvarende entrepreneurs besigheidswenke deel. Hy het ook hard begin woeker met verskeie entrepreneursprojekte en kon uiteindelik op die ouderdom van 18 reeds eiendom koop. Op 22 was hy ’n miljoenêr.
“Sowat vyf jaar gelede het ek begin om skole regoor die land te besoek. My doel is tweeledig. In die eerste plek wou ek graag entrepreneurskapbewusmaking skep om vir jong mense te wys dit is prakties, en moontlik en enigeen kan dit doen. Ek wou as’t ware so ’n bietjie hoop skep. Terwyl ek op skool was, het ek so gewens iemand, ’n entrepreneur, of miljoenêr, kon na ons skool toe kom om ons so ’n bietjie touwys te maak. Tweedens was my doel met hierdie besoeke om entrepreneurs te vind in elkeen van hierdie skole. Uit ervaring weet ek in elke skool is daar ’n paar entrepreneurs wat dalk iewers agter in die klas sit, of op die paviljoen, maar wat iemand nodig het om hom of haar op die regte pad te stuur,” sê Albert.
Twee jaar gelede het hy besef dat dit ook nodig is om sy droom meer volhoubaar te maak. Dit sou tog nie help hy identifiseer ’n entrepreneur, of plant die regte saadjies by potensiële entrepreneurs en dit word nie opgevolg nie. Hy het met ’n paar van sy entrepreneursvriende gesels, en so is die idee van die kompetisie: Maak my ’n miljoenêr, gebore.

Vanjaar besoek Albert 50 skole in Gauteng waar hy sy storie deel en entrepreneursbewusmaking skep. Dan nooi hy hulle uit om in te skryf vir die kompetisie. Elkeen wat inskryf maak ’n kort video waarin elkeen hulself voorstel en vertel wat sy of haar besigheid is. Op grond van die video’s word daar dan 40 entrepreneurs gekies wat uitgenooi word na ’n brandbanksessie. Hier kry elkeen die geleentheid om op ’n rooi bank te kom sit en met die keurpaneel te gesels. Op hierdie wyse word daar vasgestel of die entrepreneur op die rooi bank kennis dra van sy besigheid en of dit werklik sy of haar eie handewerk is. Uit die groep van 40 word dan 20 semifinaliste aangewys. Hierdie semifinaliste ondergaan in die volgende agt maande mentorskap. Hulle ontvang opleiding en leer hoe om hulle besighede te laat groei. Terselfdertyd word hulle voor ’n paar uitdagings te staan gebring. Hierdie uitdagings is dinge wat spesifiek die entrepreneursvaardighede toets. Met elkeen van die uitdagings val daar twee van die semifinaliste uit totdat daar tien finaliste oorbly. Hierdie tien word dan na ’n gala-aand uitgenooi waar die wenner van 2023 se Maak my ’n miljoenêr-kompetisie aangewys word.
Hoe gaan jy te werk om die video-inskrywing te maak?
Stel jouself bekend: My naam is Piet Pompies en ek verkoop ysies by die skool Dan vertel jy kortliks hoe jy jou besigheid bedryf, en hoe jy geld maak. Die video mag nie langer as een minuut wees nie. Eindig jou video met: “Albert van Wyk, maak my ’n miljoenêr!” Hierna moet die video op sosiale media gedeel word met die hutsmerke #albertvanwyk en #millionaireat22. Dit moet ook per WhatsApp aan die miljoenêrmentorskap WhatsAppnommer gestuur word wat jy op die webblad sal kry.

Vyf vrae aan Albert:
- Watter interessante belangstellings het jy?
Ek is mal oor comic books en comic figure. Ek dra graag ’n T-hemp met ’n Marvel-karakter of Batman of Spiderman of Superman daarop. Superhero’s het my nog altyd geïnspireer want ek sal graag ’n Superman in my eie lewe wil wees.
- Het jy ’n troeteldier?
’n Paar jaar gelede het een van die huurders wat in een van my eiendomme gewoon het, uitgetrek en sy hond net daar gelos. Ek het die rifrug aangeneem. Sy naam is Thanos wat beskou word as een van die kragtigste wesens in die Marvel universe. Thanos is so drie jaar oud
- Wat is jou grootste vrees?
Om uiteindelik die merk te mis en nie my volle potensiaal te bereik nie. Ek het eenmaal ’n praatjie bygewoon waar die spreker die voorbeeld gegee het van iemand wat gesterf het en by die hemelse poorte aangekom het. Daar het God ’n boek uitgehaal en vir hom gesê: Hier is die plan wat ek gehad het vir jou lewe. Dit is wat jy reggekry het, of dalk wat jy nie reggekry het nie. Dit het my laat dink. Ek wil nie eendag daar kom en dan besef dat ek nie gedoen het wat ek moet doen nie. Ek sal graag daar wil staan en sê” “Wow, ek het meer gedoen as wat daar van my verwag is.” Om op te som, my grootste vrees is om nie my volle potensiaal uit te leef nie en om iets op die tafel te los.
- Wat is die ding in die lewe wat jou die meeste verras het?
Dit het maar met entrepreneurskap te make. Ek was eintlik verras om te sien hoe eenvoudig dit werklik is. Wanneer ’n mens klein is dan vertel almal jou dit is baie moeilik om sukses te behaal, dit is moeilik om geld te maak en dis onmoontlik om ’n miljoenêr te wees. Dit is eintlik ’n baie groot leuen want in der waarheid is dit baie eenvoudig, soos die meeste dinge in die lewe. Net soos jy elke dag in ’n gim moet gaan oefen om uiteindelik spiere te kan bou, en getrou moet bly met jou oefenprogram, so moet jy elke dag aan jou vaardighede werk en slyp. Jy begin ’n besigheid, verkoop ’n produk of diens, en hou net vol daarmee totdat jy uiteindelik sukses behaal.
- Wat maak jou regtig gelukkig?
Om iewers op ’n verhoog by ’n skool te staan en te sien hoe dit wat ek sê, ’n lig in kinders se oë aanskakel. Dan wéét ek: ons doen iets positiefs. Ons verander nie net daardie kind se lewe nie, hy of sy gaan kinders hê en ’n familie wie se lewens ons almal gaan verander. Hulle gaan ook weer kinders hê wie se lewens deur hierdie entrepreneurskap verander kan word, ja selfs vier of vyf geslagte verder. Dit gee my soveel vreugde om iemand te help om sukses te bereik.