Mediaverklaring: KKNK
13 Februarie 2023

Opelug-musiekkonserte keer terug na die KKNK
Ses groot opelug-musiekkonserte word vanjaar by die KKNK aangebied om die post-pandemie-vryheid behoorlik te vier.
Om af te skop word daar as’t ware amok gemaak terwyl die fees afgesluit word met ’n spesiale konsert op Paassondag, geskep deur Nataniël.
As deel van dié immergewilde opelug-musiekprogram, kan feesgangers uitsien na ’n fees van musiek deur van ons land se gunstelinge. Gehore kan gereedmaak vir opelugklanke van rock, pop, klassieke musiek en rymklets tot jazz en alles tussenin – die hele ketoetie wag beslis hier op musiekliefhebbers.
Die 27ste KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 9 April op Oudtshoorn aangebied en skop af met ’n tweedag-musiekfees, Amok!, op Saterdag 1 en Sondag 2 April.
Feesgangers kan hulself vanaf vroegmiddag gemaklik maak vir ’n lekker kuier, wat hulle tot sononder onder die Klein Karoo-sterre voortsit. Saam met die topgehalte musiek deur verskeie kunstenaars en bands, vul die kroeë, geselligheid en ’n paar verrassings die aanbod aan.
Op die verhoog vir Amok! 1.0, ondersteun deur kykNET, op Saterdag 1 April, is onder andere Prime Circle, Refentse, Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties, Jo Black, Francois van Coke en vele meer. Sondag 2 April sit Amok! 2.0, ondersteun deur kykNET en Son, die topgehalte vermaak voort met onder andere Early B, YoungstaCPT, Loufi, Frazer Barry, Tribal Echo, Anton Goosen, Valiant Swart, Sima Mashazi, Hakkiesdraad en vele meer. ’n Spesiale sakpas-pakketkaartjie is beskikbaar vir beide konserte, vir diegene wat nie ’n enkele oomblik wil mis nie.
Donderdag 6 April is dit Spoegwolf en vriende, ondersteun deur kykNET en Netwerk24, se beurt om feesgangers op die Karoo-opelugverhoog te vermaak. Hulle eerste shows ooit was in 2012 by die KKNK. Nou, meer as ’n dekade later, is hulle terug. Hulle bring al hulle energie, ligte en harde musiek na die verhoog, met hulle grootste en malste show in ’n lang tyd. Koos Kombuis en Deon Meiring sluit onder andere by hulle aan.
Vir Die grootste Karoo-paartie ooit, ondersteun deur kykNET, op Vrydag 7 April is dit tyd om van enige sorge te vergeet en partytjieskoene aan te trek vir ’n groot jol met onder andere Kurt Darren, Jo Black, Granville Michaels, Tracey-Lee Oliver en Jaconell Mouton. Dis groot internasionale treffers, gunstelinge uit eie bodem en ’n Karoo-paartie wat gaan sorg vir ’n onvergeetlike aand!
Karoo Pops, ondersteun deur kykNET en Netwerk24, is ’n jarelange tradisie op die KKNK se opelug-verhoog en Saterdag 8 April sorg die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, Karen Zoid, Francois van Coke, Lynelle Kenned en Luvo Maranti vir ’n aanbod van klassieke musiek, rock en ander genres, met musiek uit blyspele en Zoid en Van Coke se treffer “Toe vind ek jou” vir die eerste keer saam met ’n simfonieorkes.
Die opelug-musiekprogram sluit op Paassondag (9 April) af met Passi | Passio | Pasión | Passion, ondersteun deur kykNET en Die Burger, ’n epiese konsert deur Nataniël, geïnspireer deur sy liefde vir seremonie en rituele, die tydlose melodieë van Bach tot blues, die ritmes van katedrale tot wêreldmusiek en die simboliek van geloof in kleredrag. Sewe van Suid-Afrika se voorste musikante, Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies, Peter Auret, Dihan Slabbert, Nicolaas Swart en Wiehahn Francke, sluit by hom aan vir ’n onmisbare aand.
Dié aandkonserte word as ’n piekniek-atmosfeer ingerig. Konsertgangers is welkom om hulle eie stoele te bring. Kaartjies vir die opelug-musiekkonserte wissel van R250 tot R350 per persoon, met die spesiale naweekkaartjie wat vir die twee Amok!-konserte beskikbaar is teen slegs R550. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as by die hekke.
Aandkonsert-kaartjies sluit boonop toegang tot die Feesmark vir die dag in, waar stalletjies, die eerste KKNK Feeswinkel, pretpark, Liplekker se deli- en wynstalletjies, verskillende kroeë en kosstalletjies deur die dag besoek kan word.
Die volledige feesprogram vir die KKNK is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay. Verblyfbesprekings kan ook aanlyn gedoen word.
Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Einde
Uitgereik deur die KKNK
Vir medianavrae: J.C. Aucamp, bemarkingsbestuurder
E-pos: jc@kunste.org.za
Selfoonnommer: 076 333 5945

Nataniël sluit die KKNK met ’n spesiale konsert op Paassondag af.

Lynelle Kenned kan gesien word in Karoo Pops.

Early B is op die verhoog in Amok 2.0.

Prime Circle en Refentse is te sien in Amok 1.0.
