Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Moedertaalmaandfokus: Marciel Hopkins oor om geleenthede te skep, die lewe met selfvertroue aan te pak en balans in jou lewe te bewerkstellig.
Februarie is Moedertaalmaand met Internasionale Moedertaaldag wat op 21 Februarie gevier word. As deel van ons moedertaalmaandfokus, gesels Afrikaans.com gedurende Februarie met vier bekendes uit verskillende omgewings en agtergronde. Ons doelwit is om hierdeur ons lesers te inspireer om aan te hou groei en die lewe vierkantig in die oë te kyk.
Hierdie reeks is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors, waar 11 vrae ingespan word om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Deelnemers aan die reeks besluit self watter van die vrae hulle wil beantwoord.
Ons het die gewilde entrepreneur, internasionale model, lewensafrigter en televisieaanbieder van Boer soek ‘n Vrou-faam, Marciel Hopkins, gevra om ons vrae te beantwoord.
Watter mislukking of skynbare mislukking het later vir jou sukses ingehou. Het jy ’n “gunsteling”- mislukking?
Die aand toe ek nie mej. Suid-Afrika gewen het nie kon baie mense, myself inkluis, dit sien as ‘n groot mislukkig. Dit was ‘n groot teleurstelling om na 11 maande se harde werk, voorbereiding en die feit dat ek 14 kg vir die kompetisie verloor het, nie te wen nie. Ek glo wel in retrospek dat dit ‘n seëning was om nie te wen nie, want dit het my loopbaan kans gegee om in ander rigtings te floreer en dit het my geleer om geleenthede vir myself te skep. Mej. Suid-Afrika was ‘n wonderlike ervaring waaruit ek onsettend baie geleer het, maar ek het gedink die platform self gaan vir my meer deure oopmaak. As jy nie wen nie, hang dit van joú af hoe jy met die platform woeker. Ek het geleer om vryskutwerk te doen, om vir myself geleenthede te skep en om altyd verskillende inkomstestrome te hê.
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
“Love yourself with so much conviction that others can’t help to do the same.”
Hierdie boodskap gaan veral aan vroue en jong meisies, want die samelewing plaas soveel druk op hoe ons moet lyk en hoe ons onsself moet gedra. Die boodskappe en verwagtinge is dikwels onrealisties en verander ook gereeld, so mens kan eintlik nooit wen nie. Dit maak dat vroue hard is op hulself en vergeet om in hulle vermoëns, intellek en eie unieke skoonheid te glo. My wens vir alle vroue en jong meisies is om vir hulself lief te wees en om met selfvertroue die lewe aan te pak, want dit is wanneer jý die mag het om die wêreld om jou te verander. Jy moet glo in jouself en lief wees vir wie jy is, dan sal ander mense outomaties dieselfde begin doen.
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het. Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
Een van die beste beleggings wat ek al vir myself gemaak het, was om twee jaar lank deeltyds life coaching (lewensafrigting) te studeer – 2017 & 2018. Dit was na ek my honneursgraad in sielkunde by die Universiteit Stellenbosch voltooi het en toe reeds met internasionale modelwerk begin het, so ek moes self daarvoor betaal. Ek het nie op daardie stadium geweet dit gaan my eintlik meer in my persoonlike lewe help as wat ek noodwendig ander mense sou kon help nie. Die kursus het my ongelooflik baie van verhoudings, kommunikasie en selfvertroue geleer. Ek glo ook dat hierdie twee jaar se studies my op die ou einde gehelp het om die Boer Soek ‘n Vrou-aanbiedersrol te kry toe ek vir die tweede keer daarvoor oudisie het, want my emosionele intelligensie, volwassenheid en selfvertroue het soveel gegroei. Ek het studeer by The Strong Foundation in Durbanville en my kursus en diploma deur hulle voltooi. Ek praktiseer tans as ‘n life coach en sien kliënte tussendeur produksies en aanbiedingswerk. Jy kan meer inligting op my webtuiste vind: marcielhopkins.com
In die laaste 5 jaar watter nuwe besef/insig of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
‘n Groot besef in die laaste vyf jaar, is dat die aard van my loopbaan my kapasiteit vir mense, met ander woorde my vermoë as ekstrovert, ongelooflik baie gestrek het. My werk behels basies 99% van die tyd dat ek direk met mense werk en ook dat ek gereeld met nuwe mense werk op verskillende produksies, ek vlieg regoor die land vir my inspirasie-praatjies en met my life coaching het ek gereeld nuwe kliënte wat my begin sien. Met hierdie belangrike besef, is daar die verantwoordelikheid van balans vir my menswees en dit behels om my alleentyd/introvertkant te prioritiseer. Ek is iemand wat baie vinnig aan FOMO lei, so ek wil vir alles JA sê. Wat my regtig gehelp het, veral voor my troue verlede jaar, is om vir meer dinge nee te sê, sodat ek weer my tenk kan volmaak om kapasiteit vir mense te hê. Dit is belangrik om eers na jou eie holistiese en emosionele gesondheid om te sien, voor jy dit vir ander kan doen. Jy gaan altyd na iets genooi word of die geleentheid hê om met mense te kuier, maar die bestuur van die balans daarvan lê by jouself.
Wat is slegte advies wat jy al ten opsigte van jou beroep gehoor het?
Ek het nog nie noodwendig slegte raad gehoor nie, maar in my lyn van werk is dit nie ‘n goeie idee om al jou eiers in een mandjie te hê as dit kom by jou inkomste nie. Toe ek begin het met internasionale modelwerk, het dit finansieel baie goed gegaan met my, maar ek het altyd geweet ek het geen waarborg dat my loopbaan vir altyd in hierdie spesifieke rigting gaan floreer nie. Dus moet ons as vryskutkunstenaars altyd kreatief dink aan ‘n wye verskeidenheid van inkomstestrome en om onsself as entrepreneurs te sien. Ons moet met ons talente kan woeker. Ek het nou ses verskillende inkomstestrome wat ek bestuur, so ek hoef nie te sit en wag vir ‘n televisierol om my huur te betaal nie. Dit plaas ook baie druk op ‘n mens se selfvertroue as jy konstant vir oudisies of castings gaan, maar niks boek nie. Dus is dit só goed om dan ander dinge te hê waarop jy kan fokus, wat jou aandag aflei van al die nee’s en wat vir jou meer finansiële sekuriteit gee.