Moedertaalmaandfokus
Sidney Gilroy oor hoe om uit ’n mens se gemaksone uit te beweeg, kanse te vat en jou talente in te span.
Februarie is Moedertaalmaand met Internasionale Moedertaaldag wat op 21 Februarie gevier word. As deel van ons moedertaalmaandfokus, gesels Afrikaans.com gedurende Februarie met vier bekendes uit verskillende omgewings en agtergronde. Ons doelwit is om hierdeur ons lesers te inspireer om aan te hou groei en die lewe vierkantig in die oë te kyk.
Hierdie reeks is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors, waar 11 vrae ingespan word om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Deelnemers aan die reeks besluit self watter van die vrae hulle wil beantwoord.
Ons het die gewilde skrywer Sydney Gilroy gevra om ons vrae te beantwoord. Gilroy wat sy plek ingeneem het tussen die topkrimiskrywers, het in 2015 begin kortverhale skryf en in 2019 verskyn sy debuutroman vir volwassenes, Klikbek. Nog romans uit sy pen, is Middernag en Vlam.
Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom? Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
Ek is ’n versamelaar van Afrikaanse boeke wat 40 jaar of ouer is, soms 80 jaar! Daarom boer ek in tweedehandseboekwinkels of stoorplekke waar ou boeke opgegaar word. Dit is verbasend dat boeke van die eerste items is wat in ’n boks gesmyt word om weg te gee wanneer mense trek of iemand afsterf en daar ’n huis is om te ontruim. Van die juwele wat ek al gevind het en onlangs as geskenke gegee het, is In die omtes van die hart deur Petra Müller, Kromburg deur C.M. van den Heever en Armosyn van die Kaap deur Karel Schoeman. Al drie hierdie boeke het ‘n groot invloed op my gehad.
Watter aankoop van ‘n R1000.00 of minder oor die afgelope 12 maande het ’n groot impak op jou lewe gehad?
Ek het onlangs my pyp neergesit vir ’n Vuze damp-megafter kompleet met my naam daarop gegraveer en allerhande eksotiese geure soos komkommer en frambose. Dit is baie ligter in nikotien en bevat geen teerneerslag nie. ’n Mens koop dit aanlyn en hulle lewer binne ’n dag af. Minder mense frons nou as ek my entjie uithaal om ’n twakkie te klap.
Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking, het later vir jou sukses ingehou? Het jy ’n ‘’gunsteling’’-mislukking?
Ek het ná 16 jaar in die ingenieursbedryf besluit dat my loopbaan ’n muur getref het. Daar was geen vooruitsigte nie, ek was ongelukkig met my werkomstandighede en daar was min stimulasie vir my oor. Dit was ’n bitter pil om te sluk: 16 toegewyde jare wat op nul uitloop. Dit het my egter gedwing om buite my gemaksone te beweeg, kanse te vat en my talente toe te pas. Vier jaar later, is ek suksesvol in ’n heel ander veld, het die wêreld gesien en my eie besigheid op die been gebring. Dit is ’n cliché, maar daar is werklik groot geleenthede wat in teleurstellings skuil.
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Alles gaan oukei wees.
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Ek het in myself belê deur eienaarskap van my tyd, my inkomste, my toekoms en my omgewing te neem. Hoe langer jy nie in beheer van daardie elemente kom nie, hoe langer dobber jy slegs rond.
Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Ek kan nie die strand besoek sonder om ’n roomys te eet nie. In Suid-Afrika is dit normaal, toe ek in Europa gewoon het en die strande in die bitter koue winters besoek het – is ek skeef aangekyk.
In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Toe ek in Nederland gewoon en gewerk het, was die direkteur van ons maatskappy se leuse “Dit kan!”, bedoelende dat dít jou antwoord moet wees op enige versoek. Dit moet die éérste gedagte wees wat by jou opkom as jy met ’n struikelblok of probleem gekonfronteer word. Hetsy van klante, vriende of familie. Die idee dat enige iets moontlik is solank jy bereid is om te help, bereid is om te probeer en bereid is om daaruit te leer, het my lewe verander.
Watter advies sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde regte wêreld te betree? Watter advies moet hulle ignoreer?
Jy sal nooit weer so jonk wees soos in hierdie oomblik, hierdie dag nie. Moet nie verder uitstel nie. Neem aksie. Die lewe gaan nie vir jou wag nie. Wees aanpasbaar. Dinge werk bitter min uit soos ons dit beplan het. Wees dankbaar. Die son sal net oor jou aanhou skyn, as jy dit vir ander ook gun.
Wat is slegte advies wat jy al ten opsigte van jou beroep / vakgebied gehoor het?
“Ons moet dit nie probeer nie.” Of … “Ons doen dit nog altyd só.”
Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee? Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Ek het baie selektief geraak oor waaraan ek my tyd spandeer. As dit nie my kennis verryk, my bankbalans verbeter of my menswees kultiveer nie, sal ek twee keer dink voordat ek myself daarvoor uitlaat. Daar is net soveel ure in ’n dag, dae in ’n maand, maande in ’n jaar en uiteindelik: Jare in ’n lewe. Moenie jou tyd mors nie.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek is hiperaktief van nature en kan ongelooflik baie druk hanteer. Ek voel nie sommer oorweldig nie. As ek ongefokus voel, sit ek alles waarmee ek besig is neer, gaan stap om die blok of gaan lê op my rug in die tuin om na die wolke te staar.