Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Ek sal hom (Ainsley Moos) onthou as die man met die groot hart met die sagte stem. Hy was soos ‘n boom wat na die lig gegroei het sonder ‘n bohaai.” – Marlene le Roux, uitvoerende hoof, Kunstekaap
Ainsley Moos (45), sedert November 2021 voorsitter van die raad van die Universiteit Stellenbosch en lid van die uitvoerende bestuur van African Rainbow Capital is Dinsdagmiddag, 31 Januarie 2023 skielik oorlede weens komplikasies na ‘n klein prosedure in ‘n kliniek in Stellenbosch.
Moos is in Oudtshoorn gebore waar sy pa ‘n onderwyser was en het aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hier het hy ‘n honneurs in joernalistiek behaal. In 2009 het hy ook sy MBA aan die US behaal. Sy loopbaan as joernalis het in 2002 by die dagblad Beeld in Johannesburg begin. Tydens ‘n kort maar dinamiese joernalistieke loopbaan was Ainsley redakteur van Landbouweekblad, redakteur en uitgewer van Sake24. In 2010 word hy die 22ste redakteur van Volksblad en later ook groephoof: kommunikasie van Sanlam. Kollegas onthou Moos vir sy harde werk en die strategiese sakebesluite wat hy dikwels moes neem te midde van teenkanting. Hy was bekend vir sy bestuurskundigheid en was veral vaardig as kommunikasiespesialis.
Heindrich Wyngaard, ‘n oudkollega van Moos by Media24 en verbonde aan die Kaapse Forum, word in ‘n berig deur Linkie Bessinger op Netwerk24 (1 Februarie 2023) aangehaal waarin hy sê dat “Moos se dood ‘n groot leemte in die Suid-Afrikaanse korporatiewe en akademiese wêreld laat”. Hy sê voorts dat “Moos die verpersoonliking was van die allerbeste wat Afrikaanssprekende bruin plattelandse gemeenskappe kan oplewer. Verder sal hy onthou word vir sy baanbrekersrolle wat hy tydens sy loopbaan gespeel het. Hy laat ‘n onuitwisbare nalatenskap agter.”
Afrikaans.com het Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap genader om iets oor haar vriend Ainsley Moos te sê: “Ainsley Moos was ‘n nederige persoon. So talentvol en ‘n mense-mens. Hy het so geglo in andere en geleenthede geskep vir so baie mense. Ek sal hom onthou as die man met die groot hart met die sagte stem. Hy was soos ‘n boom wat na die lig gegroei het – sonder ‘n bohaai. Suid-Afrika, die Universiteit Stellenbosch as ‘n geheel, het ‘n persoon van integriteit en inbors verloor. Ons sal so nooit die dood verstaan nie.”
Afrikaans.com betuig ons innige meegevoel met Ainsley Moos se familie, vriende en kollegas.
Bronne:
US-raadsvoorsitter Ainsley Moos (45) sterf onverwags | Netwerk24
Familie bevestig oorsaak van Ainsley Moos se dood | Netwerk24