Gautengers wat lief is vir Afrikaanse teater moet die geleentheid aangryp om na die toneelstuk Tien Duisend Ton te gaan kyk wat tans in die Mannie Manim-teater by die Markteater in Johannesburg op die planke is. Tien Duisend Ton word soos volg deur die teaterkritikus Schalk Schoombie beskryf:
“Dit is in die skerp dialoog, die vlytige regie, die snelle pas, ʼn gekonsentreerde kombinasie wat jou laat wonder waar sowat twee ure heen is. Hoë-oktaan teater in Afrikaans. Die planeet se kreune en krisisse word deurgeweef in die daaglikse bestaan van twee gewone sterflinge, sonder om te preek. Want alles is immers verbind.”
Nico Scheepers het hierdie slim, snaakse en emosionele drama, Lungs, van die Britse dramaturg Duncan Macmillan in Afrikaans vertaal. Hy behartig ook die regie.
Die egpaar wat ons in Tien Duisend Ton ontmoet, kom voor ʼn krisis te staan: durf hulle nog ʼn baba in die wêreld bring as ons aarde reeds heeltemal te vol is en swaar onder die mens se impak kry. Die egpaar in hierdie drama word vertolk deur Cintaine Schutte en Albert Pretorius. Die twee uitstekende akteurs is albei knap in hulle vertolking en die regie van Nico Scheepers laat vloei alles haarfyn inmekaar. Tien Duisend Ton het in 2019 by die US Woordfees gedebuteer en is vereer as die beste debuutproduksie vir die fees. Cintaine Schutte het ook die toekenning as beste aktrise hiervoor ontvang. Tien Duisend Ton is ook genomineer vir vyf kykNET Fiësta-toekennings. Tien Duisend Ton het reeds op 19 Januarie geopen, maar die speelvak duur tot 5 Februarie. Bespreek jou kaartjies hier