In ’n heerlike bydrae wat op 20 Januarie op Netwerk 24 verskyn het, word daar verwys na die interessante oorsprong van woorde soos jeans en denim. Die woord jannas vir jeans kon maar net nie vatplek in Afrikaans kry nie. In dieselfde bydrae is daar ook ʼn lysie met interessante, maar kleurvolle Afrikaanse woorde, wat beslis ʼn bietjie meer ongewoon as hallo en koebaai is. Hou hierdie lysie byderhand wanneer jy weer ʼn blokraaisel moet invul of gebruik dit om jou woordeskat te verruim.
Wat noem jy ʼn kloostersuster wat nog nie haar kloosterbelofte afgelê het nie? ʼn Begyn.
ʼn Fiool met ʼn f tref jy in ʼn wetenskaplaboratorium aan. Dit is ʼn ronde flessie met ʼn lang nek en ronde buik.
ʼn Lang kapmantel sonder moue word ʼn huik genoem.
Wat sou ʼn hok-hok wees? Wel, dis die volksnaam vir ʼn bromvoël of die swart neushoringvoël.
ʼn Donkerrooi granaatsteen word ook ʼn piroop genoem.
Het jy geweet ʼn bels of die belsbos is ʼn geurige plant met medisinale eienskappe?
Wanneer jy veragtelik of spottend grynslag, is jy besig om te meesmuil.
In Afrikaans is ʼn ander naam vir jou kleinneef jou naneef.
Gedink die woord timp bestaan in Afrikaans? Ja, dit doen. Dit is die uitgerafelde, verslete kant van ʼn stuk tou of ʼn kledingstuk. Dit kan ook verwys na die oorskot van iets wat opgebruik is, en sy waarde verloor het.
Bron: Verklarende Afrikaanse Woordeboek deur Pharos