Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
… van al die tale wat ek hoor, niks wat my siel ooit so bekoor.*
(*3e strofe van O, Boereplaas deur CF Visser)
“Dis tyd dat ons mekaar se stories leer ken. Kom ons doen moeite om mekaar se stories te verstaan.” – Prof Hans du Plessis tydens die bekendstelling van Maroela Media op 18 Augustus 2011
En watter beter manier om mekaar te verstaan as om ons stories in ons moedertaal te deel. Daardie taal wat ons reeds voor geboorte begin aanleer en die taal waarin ons ons die heel beste kan uitdruk. Die taal wat deel uitmaak van ons identiteit en selfvertroue aanwakker, want ons verstaan dit net soveel beter.
Internasionale Moedertaaldag
Februarie is Moedertaalmaand en op 21 Februarie vier ons weer eens Internasionale Moedertaaldag. ‘n Dag wat deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ingestel is om op die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld en die impak wat dit op kultuur het, te fokus.
Maar hoekom is juis moedertaal so belangrik?
‘n Geldige vraag. Solank ‘n mens jou kan uitdruk sodat ander jou verstaan, is enige taal mos aanvaarbaar. Dit is inderdaad so, maar gaan lees ‘n mens so ‘n bietjie verder en kyk ‘n mens na jarelange navorsing in die verband, is die bewyse daar: Moedertaal gee jou kind ‘n leervoorsprong.
Hoe weet ons dit?
- Moedertaal vestig die basis vir kognitiewe leer en dus probleemoplossing.
- Hoe groter ’n kind se woordeskat, hoe beter leser en leerder word die kind.
- Deur moedertaalonderrig word die gehalte van onderrig verbeter.
- ’n Mens verwoord jou gevoelens beter in jou moedertaal.
- ’n Kind verstaan moeilike begrippe in ’n vreemde taal makliker deur moedertaal.
- ’n Kind hoef nie in Engels skool te gaan om Engels aan te leer nie.
- Moedertaal bevorder veeltaligheid, mits die moedertaal goed gevestig is.
- Lande waar die moedertaal die kennistaal is, presteer veel beter.
Hoe sorg ek as ouer dat my kind se moedertaal sterk is?
“Praat dit! Leef dit! Lees dit!” Sê prof Wannie Carstens van die Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale: “Ons voel ons ‘n beter mens in ons eie taal omdat ons ons menswees soveel makliker daarin kan uitleef … Dit verbind ons aan ons kultuur en ons gemeenskap.”
- Praat gereeld met jou kind in jou moedertaal – selfs voor geboorte.
- Stuur jou kind na ’n skool waar hy moedertaalonderrig kan ontvang.
- Dring aan op jou reg tot moedertaalonderrig.
- Lees vir jou kind en brei so sy woordeskat uit.
- Moedig lees aan.’n Goeie leser is ’n goeie leerder.
- Stel kinders bloot aan hul taal en kultuur. Leef in jou taal.
- Moedig die aanleer van nog ’n taal aan – veeltaligheid open deure.
- Wees trots op jou taal deur dit te praat en stel so ’n goeie voorbeeld.
- Respekteer ander se taal en kultuur.
- Jou moedertaal is wie jy is, dus: Praat dit, leef dit, lees dit!

Moedertaalonderrig lei tot prestasie
Suksesvolle probleemoplossing verg kreatiwiteit … die soort kreatiwiteit wat jou:
- ’n Probleem laat raaksien en die oorsake help vasstel.
- In staat stel om ’n probleem uit verskillende hoeke te benader om die regte antwoord te vind.
- In staat stel om jou oplossing in ’n uitvoerbare plan te omskep en uit te voer.
En dit is waar ’n goed ontwikkelde moedertaal en taalvaardigheid so ’n belangrike rol speel. Taalvaardigheid is die sleutel tot sukses, want dit laat jou toe om sinvol te kommunikeer. Dit gee ’n mens ook die vermoë om kreatief te dink, juis omdat ’n mens se begripsvermoë en vermoë om ’n mens duidelik en verstaanbaar uit te druk, en moeilike konsepte te verstaan, soveel makliker in ’n mens se moedertaal of huistaal geskied. Jou moedertaal is die taal waarin jy dink!
Wanneer kinders dus sukkel om in die grondslagfase akademiese taal baas te raak, kan dit prestasie nadelig raak, want om suksesvol te leer, moet leerders in staat wees om hulle handboeke te verstaan, sogenaamde woordsomme te verstaan en op te los en om sinvol aan gesprekke en besprekings in die klas deel te neem.
Wanneer kan ‘n kind Engels of ‘n ander tweede taal aanleer?
Dit word aanbeveel dat kinders skoolgaan in die taal waarin hulle die vaardigste is, maar ‘n tweede taal kan wel van so vroeg as graad 1 aangebied word, mits die twee tale nie te veel ooreenstem nie. Maar … en dis ‘n belangrike maar …
Om ‘n akademiese taal goed te bemeester, behoort ‘n leerder vir ten minste ses jaar moedertaalonderrig te ontvang.
Hoe lei moedertaal tot meertaligheid?
Jou moedertaal gee jou die grondslag om meer as een taal te bemeester. Hoe sterkter jou vaardigheid in jou moedertaal, hoe makliker kan jy ’n ander taal aanleer omdat jy die beginsels van jou eie taal goed onder die knie het en daarom makliker op ander tale kan toepas.
Wat ouers moet weet voordat hulle hul kinders skool toe stuur …
- Verstaan die belangrike rol van moedertaal in jou kind se opvoeding, veral vir ten minste die eerste ses jaar van skool, maar weet ook dat jou kind die vermoë het om meer as een taal aan te leer.
- Lees vir jou kind – so word hy blootgestel aan akademiese taal.
- Kies ’n skool wat veeltaligheid ondersteun, want blootstelling is belangrik sodat jou kind ’n addisionele taal kan bemeester.
- Kies ’n skool wat kinders toelaat om hulle eie identiteite, kreatiwiteit en kritiese denke te ontwikkel.
Moedertaalonderrig is nie ’n opsie nie. Wat nou?
Die meeste kinders in Suid-Afrika het nie die geleentheid om onderrig in hulle moedertaal te ontvang nie, veral na graad 3-vlak. Daarom moet ouers hulle kinders vir meertaligheid voorberei voordat hulle skool toe gaan. Doen die volgende:
- Reël privaat klasse waar jou kind in sy moedertaal onderrig word of neem self die leisels en help jou kind om 100% vaardig te word in sy moedertaal.
- Gebruik ander media, soos televisie en films, om jou kind bloot te stel aan die taal waarin hy onderrig ontvang.
- Bepleit transtaling in skole – ’n praktyk wat reeds in talle swart skole gebruik word.
- Stig jou eie privaat skool, mits so ‘n skool nie ander leerders op grond van hulle taal uitsluit nie.
- Bepleit moedertaalonderrig vir jou kinders.
- Span veeltalige hulpbronne, soos boeke, in.
Moedertaalonderrig – die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee.
Het jy geweet dat die taal wat ‘n baba voor geboorte hoor sy hartjie op twee maande vinniger laat klop wanneer hy dit hoor? Wanneer ‘n ma met haar kind in haar moedertaal praat, styg haar stemtoon en dit geld vir alle tale wat wêreldwyd gepraat word.
Aanbod op Afrikaans.com:
Moedertaalonderrig is vir ons by Afrikaans.com so belangrik soos kos en water om te oorleef. Daarom is ons trots op die aanbod op ons webtuiste en moedig ons ons lesers aan om ‘n tydjie af te knyp om meer oor hierdie belangrike onderwerp te lees. Ons beantwoord die tien belangrikste vrae oor moedertaalonderrig, verskaf navorsing oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en verduidelik breedvoerig in artikels hoekom moedertaal en -onderrig nie aan die agterspeen mag suig nie. Daar is ook pragtige en kleurvolle plakkate om GRATIS af te laai en te druk om klaskamers te versier.
Gaan kyk gerus hier:
Die bestaande aanbod oor moedertaalonderrig: Wat is veeltaligheid en hoekom leer jy beter in jou moedertaal. Die tien belangrikste vrae en antwoorde oor moedertaalonderrig. Wat sê die wet? Moedertaalonderrig – Afrikaans.com
‘n Nuttige en aflaaibare moedertaalboekie – gratis. Moedertaal-projek-boekie.pdf (afrikaans.com)
Gratis, aflaaibare moedertaalplakkate. Plakkate – Afrikaans.com
Lees ook:
Onderwyspyplyn: Afrikaanse onderwys se behoud? – Afrikaans.com
Moedertaalonderrig en meertaligheid is soos vinkel en koljander – Afrikaans.com
Moedertaalonderrig is nie ’n opsie nie – wat nou? – Afrikaans.com
Ons verduidelik transtaling in die klaskamer – Afrikaans.com
Kan hy al Engels praat? Oor gelyke tweetaligheid
https://www.netwerk24.com/baba-en-kleuter/Kleuter/kan-hy-al-engels-praat-20160914
Hoekom is mense so onseker oor hul moedertaal?
https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ouerskap/hoekom-is-mense-so-onseker-oor-hul-moedertaal/
Moedertaal op die lippe en in die hart
https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/03/Moedertaal.pdf